|
Dit was onvermydelik dat Tasleem Bulbulia entrepreneur in die mode-industrie sou word. Haar pa was die eienaar van tekstielkettingwinkels landwyd en beide haar ma en ouma het in die klere-industrie gewerk.
Tasleem se klere is vir haar ‘n natuurlike uitvloeisel van haar eie identiteit en persoonlikheid. Haar ontwerpe is, net soos sy, trots Suid-Afrikaans en stel plaaslike produksie en tekstielontwerp doelbewus op die voorgrond.
Haar ontwerpstyl is nie noodwendig etnies nie, maar reflekteer wel haar herkoms. Haar Indiese wortels kan gesien word in haar ryk gebruik van helder kleure, terwyl haar kosmopolitaanse en multi-kulturele herkoms gesien word in die subtiele Afro-stylverwysings.
Die resultaat is ‘n onmiskenbare Suid-Afrikaanse styl wat internasionaal aanklank vind.Sy streef na gesofistikeerde, detail-gedrewe ontwerpe waar geen moeite of tyd ontsien word nie.
Tasleem geniet dit om kledingstukke te skep wat beeldhouwerke word wat om die figuur gebou is, maar steeds gemaklik dra. Haar aandrag op die beste tekstiele verseker dat elke ontwerp, hetsy dag- of aandontwerpe, weelderig voel en dra. Alhoewel haar ontwerpe unieke skeppings is, hou dit tred met modeneigings sonder om die identiteit van die trots Suid-Afrikaanse Bulbulia-etiket te verloor.
Kontakbesonderhede: www.funeka.com E: tasleemb@gmail.com T: 0727006172/0720945734 |