SABC Logo
 
Pasella SABC2
Pasella website gives you the chance to win a set of flower pots in a stylish dark brown colour to the total value of R3 500

Competition Details
Vuurwarm Rissie Garnale
Vuurwarm Rissie Garnale ››
Stuur jou resep Stuur jou resep vir ons en ons plaas dit op ons Kykersresepte.
Tuin tot Tafel
Aanbieder Blogs
Geroosterde varklende met uie
Geroosterde varklende met uie ››
Stuur jou resep Gewildste resepte van die week soos deur julle gekies.
Op die Bank met Charlene
 

Op die Bank met Charlene

 
'n Parkbank vir 'n kopdokter
14 Mei 2012 (12:30:21)

n Parkbank vir 'n kopdoktercharlene

Op 35 het ek tot die slotsom gekom dat 'n bank - die sitsoort, nie die geldsoort wat
almal frustreer nie - amper beter is as enige kopdokter. Die wêreld se probleme en ‘n paar van my eie is meermale in baie ure op banke in skadukolle opgelos, of minstens in perspektief geplaas. ‘n Bank, glo ek, bied die geleentheid om vir die wêreld te sê: “Stop, ek klim nou eers af.”

Toe ek ‘n geliefde vir die dood moes gee, het ek op ‘n parkbank onder ‘n wilger gaan sit om moed te kry vir die afskeid. Toe ek uit ‘n vorige werk wou bedank, was dit sommer die aanmekaargeslaande bank gemaak van ou motorbande, in my ouer broer se agterplaas. Toe ek as groen joernalis half verdwaald in Kaapstad was, het ek op die Botha’s van Gillmour Hillweg, my bure en aangenome gesin, se plomp leerbank huis gekry. Die bank het later saam met my getrek Tulbagh-omgewing toe en lewe ná 10 jaar steeds.

Dit maak nie regtig saak watter soort bank dit is nie. Ek hou van almal solank dit lekker sit. Regop gedraaide tamatiekissies of druiwekratte werk ewe lekker. Skoolbanke tel ook. Dis ‘n voor-die-handliggende langtermynbelegging in die toekoms en in het my geval, die bekendstellingsterrein vir 'n latere onverwagse liefde. Gesmede ysterbanke met tierlantyntjies aan die kant en houtstawe oor die ruglening en sit-area, laat my dink aan die bank op my grootwordhuis se stoep en maak my nostalgies. Sementbanke met donker, gelakeerde houtstawe laat my na die Kaapse seelug en die Seepunt Promenade verlang. Op die banke kon jy maklik ‘n ruk lank van jouself vergeet en binne oomblikke 'n storie rondom alles en almal wat verbykom skryf, kompleet met naam, adres, skoengrootte en duisend moontlike redes vir hoekom hulle vandag juis so lyk. Ek het dit sommer kitsfiksie genoem. Dit kon wissel van die fantasmagories absurde tot die amper lewenswerklike hartroerende - stof was daar genoeg.

Byvoorbeeld, die gillend gelukkige seuntjie op die driewielfiets en die man wat langs hom draf. Die man is lank en lenig soos 'n voël met 'n wilde swart, haardos. Die seuntjie laat los nou en dan die stuurvatsel en steek sy arms langs sy sye uit. Hy gil: "Kyk, pappa ek vlieg," en dit lyk wraggies of die kind fiets en al wil opstyg. Die man se oë blink en hy glimlag binnetoe: "Eendag, eendag binnekort, kan ek hom snags op my nagvlugte oor die stad tot by die sterre neem." Of, die verpleegster in haar netjiese uniform en tekkies wat glimlag asof die son vandag net op haar skyn. Haar toebroodjies eng haar eie drie kinders en twee uitgebreide families. Sy glimlag want gisteraand het sy die brief gekry dat haar seun die studiebeurs verwerf het waarvoor sy aansoek gedoen het. Dank Vader. Die kind is slim. Hy moet leer.

Goed, ek weet dis laf, maar die snaaksste ding van sulke banke is dat ek, hoe langer ek buitentoe gekyk het en stories oor almal anders se lewens geskryf het, ek klaarheid gekry het oor hoe my eie verhaal verder sou loop. En as 'n mens lank genoeg oor die glimlag van 'n verpleegster wonder sien jy in jou eie wêreld genoeg om voor dankbaar te wees. 

Banke leer jou ook om te deel. Al die spasie is nie altyd net vir jou eie gebruik nie. Soms kom daar ongenooide geselskap en moet jy die vaardigheid om grense te trek, oefen. En soms moet jy leer dit sal jou nie doodmaak om vir twee minute met iemand te gesels wat lyk asof sy daar vergeet is nie.

So, ek wil julle nooi om weekliks saam met my op die bank te kom sit. Ek sal julle die fantasmagoriese stories spaar, belowe, maar deel graag gedagtes oor en gesprekke met die mense wat ek bevoorreg is om raak te leef. Ek hoop julle het lus vir saamgesels. Dis 'n skande op soveel spasie net op jouself te mors.

 

'n Plek vir rocksterre

op die bank ‘n Jarelange vriendin, Hanlie Gouws, op wie se leerbank ek male sonder tal neergeplons het vir Milo en oplossings, bevind haar tans op ‘n plek so vreemd soos Mars. Wetenskaplikes beskou nie verniet ‘n ekspedisie daarheen as anoloog vir ruimtereise nie. Toe ons begin gesels was sy nog op die Suid-Afrikaanse basis Sanae IV wat op ‘n nunatak - klipbank wat bo die wit Antarktiese ys uitsteek - gebou is. Die SA Agulhas moes al op 10 Februarie koers gekies het terug Kaap toe, maar die span kon dit sover weens sleg weer net tot by die somerbasis 300km verder maak. Want: “Hierdie is ‘n ander planeet. Niks werk soos jy gedink het dit sal nie,” sê sy.

Ek het myself al ‘n paar keer op plekke bevind waar die natuur so hard praat, dat alles anders stilstaan. Wanneer die aarde sê: “Ek wóón nog hier.” Die swart vulkaanklipstrand van Ilha do Sal in die Kaap Verdiese Eilande, ‘n stuk anderwêreldse ruheid op ‘n uitgebleikte eiland met vaal stofwinde; die Noordseewater op die Duitse eiland Sylt, suissend gitsswart in die maanlig en vol ontembare legendes oor oerskepsels; die “Klipwerf” buite Calvinia, ‘n rooi maanlandskap met klipstapels vir piramides - daar was almal oom-blikke waarin ‘n mens jou kon losmaak van die meeste van die afskuwelikhede van die wêreld. Daar, was nog ruwe onskuld. Maar ek twyfel of selfs ‘n 100 vulkaanstrande die belewenis van ‘n plek sal ewenaar waar die natuur nie praat nie, maar dreun in sy teenwoordigheid. Dít is ‘n plek vir rocksterre.

Sedert 8 Desember verlede jaar beleef ek die ontembare kontinent deur Hanlie se blog http://letterdash.com/hanlieg. Om eerlik te wees was ek effens verstom oor die ysreis. My vriendin het baie deugde. Om koue te verdra is nie een van hulle nie. Sy gaan kamp in die somer met haar sub-zero-grade slaapsak. Gelukkig is haar weetgierigheid groter as al haar vrese. Ek het saamgereis vanaf die lyste en lyste inpakgoed - sy het skaars 20 dae gehad om voor te berei vir die avontuur, maar persoonlik dink ek sy pak al jare lank die regte “binnegoed” in met haar werk as nie-amptelike sekretaresse, fondsinsamelaar, messelaar, vloerveër, wat ookal nodig is, vir gemeenskapsprojekte om nou die droogste, koudste en winderigste plek te oorleef - die skommelvaart op die SA Agulhas, die naelbyt-aflaai-oefening met hyskrane vanaf die skip tot op die ysbank, en die ongemaklike trek deur ‘n sneeustorm vanaf die somerbasis (by die Duitsers geërf) tot by die winterbasis Sanea IV (by die Noorweërs geërf). Tussendeur het sy op die skip haar roeping ontdek - om supergrootte potte kos te maak vir die menigtes.

‘n Mens moet ook dit van haar weet - sy swets selde en gebruik die oortreffende trap net met uitsonderings. So jy kan haar maar glo wanneer dit wel opduik: “Dit is ‘n reusewonderwerk - elke klein dingetjie hier, elke mens met wie ek vriende geword het, elke dag is 'n meesterstuk,” sê sy.  “En elke nuwe ding wat jy leer of ervaar, laat jou soos ‘n rockster voel.” Ek glo haar.

Ek weet nie hoeveel mense hul sinne sal behou as alles teen die grense druk wat ons graag om ons trek nie. Eers brul die wind en weer teen jou aan, jy sien soms ‘n week lank nie blou lig of horison nie, besef elke dag hoe jy níé in beheer is nie en skuur konstant teen iemand in die beknopte woonkwartiere. “Dit is ‘n omgewing wat baie, baie hoë eise stel. Dit is fisiek veeleisend, so jy moet weet jy kan kalm bly, al is jy hoe moeg. Aan die eie ruimte kan jy nie veel doen nie. Jy moet maar bid vir 'n lekker kamermaat (soos) Stef op die skip wat 3uur in die oggend in haar bed kon insluip sonder om die lug te laat roer.”

Mense wat terugkom van Antartika, het ek gelees, praat dikwels van ‘n geloofshernuwing, ‘n gevoel dat, as daar nog sulke plekke bestaan, ons nog nie heeltemal die pad byster geraak het nie. Iewers is daar nog hoop. Maar die ervaring word ook ‘n rooi alarm om groener te leef. Veral hier, mag die natuur nie in ‘n fluisterstem begin praat nie.  “Antartika bevestig al die goed wat ‘n mens reeds weet. Veral nadat ek met die oseanograwe gepraat het, besef ek presies hoe groot die impak is.”

Volgende keer, en daar sal ‘n volgende keer wees, sy moet net die Lotto wen, ‘n weerkursus doen en kan dan die metkassie (weerobserveerder) word, sal sy beter voorbereid wees en dus van meer hulp. Antartika het nie tyd vir leegleêrs nie. Dis ‘n plek vir rocksterre. En ek wou maar net sê ek ken een. 

"There is nothing like returning to a place that remains unchanged to find the ways in which you yourself have altered” - Nelson Mandela


Kommentaar / vrae:

Wees die eerste om kommentaar te lewer ...

Teken in:
ePos:
Password:

Wagwoord vergeet?


OF

Registreer: Registrasie is eenmalig en u besonderhede sal te alle tye vertroulik gehou word.
Geslag:
Naam:
Van:
ePos:
Password:
Profiel Foto:  Beste grootte: 160px wyd x 120px hoog (.JPG)
Sekuriteitskode: Vul asb. die sekuriteitskode onder in:  *
Pasella Tuiskok
Nuusbrief registrasie
Waars ons aanbieders
Pasella op Twitter Pasella op Facebook
Stem en Wen
Wat was jou gunstelingstorie in die ENTREPRENEUR program?
Sean Else
Die Blikplek
Buffelspoort-vallei
Bamboesbos
Libere Kunsprojek
Halfaampieskraal
Naam:
ePos:
Stem nou Stem uitslae
Wenvideo
 
SABC Logo
Broadcasting for Total Citizen Empowerment
About the SABC Contact Us Jobs
Advertise Disclaimer Site Map
DMMA Logo

SABC © 2011
SABC 2
Terme en voorwaardes | Privaat beleid | Kontak ons
Kopiereg © 2010 Pasella  |  Ontwerp deur  Website design and development