13 April 2011: Emalje

Emaljeware versameling Brandemalje is 'n proses waartydens gepoeierde glas onder  geweldige hoë temperature aan 'n metaalbasis geheg word – dus die naam brandemalje. Dit word al vir duisende jare as ‘n dekoratiewe metode gebruik en word vandag nog by die miljoene in China vervaardig.

Emalje kan net soos glas en porselein maklik skoongemaak word, maar anders as dié twee kan dit nie breek nie, te danke aan die metaalbasis waarop dit aangebring is. Higiënies én onbreekbaar – inderdaad die wonderproduk van huishoudings totdat plastiek in die 1950's ontwikkel is.

Vir die groot groep entoesiastiese versamelaars van emaljeware is daar stukke wat alledaags is en stukke wat die versamelaarshart baie warm laat klop.  Die mees gesogte stukke is dié met interessante patrone en kleure.

Marmer- en granietagtige patrone word verkry wanneer twee kleure – waarvan een gewoonlik wit is – verhit en dan vermeng word voordat dit op die metaalbasis aangebring word.

Omdat daar so 'n geweldige groot aanbod is, is hierdie versamelaarsveld uiters gespesialiseerd. Daar is byvoorbeeld mense wat net granietware versamel, of diegene wat net pienk emalje bymekaar maak en ander wat weer slegs sekere fabrieke se stukke koop.

Kenners van emaljeware sal onmiddellik weet wat die oorsprong van 'n item is. Granietware kom uit Amerika en dateer uit die jaar 1876 toe dit in Philadelphia op 'n groot produkteskou bekendgestel is.

Die afgelope paar jaar sien ons groot hoeveelhede emaljeware in interessante kleure wat uit die ou ystergordynlande ingevoer is. Stukke uit Pole, Hongarye en Slowaakse lande het 'n karakter van hul eie. Nie net verskil die vorme nie, die kleure is ook anders.

Die kroonjuweel van huishoudelike emalje is stukke uit Swede. Aan die tipiese Art Deco kleurpalet kan ons aflei dat dit gedurende die 1920's en 30's vervaardig is. Die vervaardiger was Kockums. Dit vat nogal fyn kyk, maar as mens eers een keer die verskil gesien het, sien jy dit altyd raak. Die roomkleur van Kockums lyk baie soos die meer algemeen beskikbare emaljestukke, maar die groen is baie ligter. En dan nog iets – draai dit om en kyk uit vir 'n waarmerk. Emaljeware is dikwels vir ons gemerk.

Emaljeware is tans hoogmode – so vir diegene wat van daardie heerlike gesellige en ingeleefde “shabby chic” gevoel hou, gaan krap ‘n bietjie in jou naaste oudhede- en pandjieswinkel rond en geniet die mooimaak.
Pienk en wit marmer emaljepot
Blou en rooi emaljepotjie met deksel
Groen emaljeketel
Room en groen emaljeware
Grys en blou emaljeketel
Pluim emaljeware
   

Lees Ook: