DAG: Kliek die natuur só

05 Mei 2010

Irshaad Ally en pasella ondersoek dagligfotografie Die Helderberg Natuurreservaat pryk soos ʼn kroonjuweel bo Somerset-Wes. In dié 398 hektaar bewaarde gebied is wandelroetes vir enige fiksheidsvlak en ouderdom. Gasaanbieder, Irshaad Ally, was een van die deelnemers aan 2007 se Survivor en hy stap saam met natuurbewaarder Reginal Booysen en fotograaf Jorina Kriel. Ons plan is om die natuur te verken en dit terselfdertyd deur ʼn lens vas te vang.

Ons is geseën met hope sonlig in Suid-Afrika, wat dagligfotografie ʼn wonderlike stokperdjie maak. Kombineer dit boonop met ons oorvloedige diverse natuurskoon en jy het sommer al klaar die bestanddele vir ʼn wenfoto. Die drie se eerste stopplek is naby Disa-kloof wat deel uitmaak van die wateropvangsgebied van die area.

Die Disa 'Gorge' is so genoem omdat die rooi disa, wat ook die "trots van Tafelberg" genoem word, hier voorkom. Die pragtige pienkerige orgideë aard goed omdat die Helderberg ongeveer 1000 meter hoog is.

Boonop huisves die kloof ʼn sonderlinge woud met bome soos geelhout, hardepeer en boekenhout. Omdat die kloof so baie skaduwee, vogtigheid en water bied, het hierdie stuk bos deur die eeue daar oorleef. Dit herinner aan die inheemse woude by Knysna, natuurlik net sonder die olifante.

Met die dat die reservaat so hoog geleë is, het jy ʼn asemrowende uitsig oor Valsbaai met Gordonsbaai links en Kaappunt regs. Natuurlik perfek vir landskapfotografie. Jorina verduidelik hoe jy die ligsensitiwiteit van die kamera moet aanpas by die hoeveelheid beskikbare lig. Jy kan ook eksperimenteer met diepte van veld, waar jy ʼn hoë diepte van veld gebruik om alles in die foto in fokus te hou en ʼn lae diepte van veld vir ʼn agtergrond wat uit fokus is.

Die diepte van veld word natuurlik deur die grootte van jou kamera se lensopening bepaal. Dit word ook jou "f-stop" genoem. Hoe laer die f-stop dus, hoe meer lig is daar op jou foto. Hoe hoër jou f-stop – van f10 tot f29 afhangend van jou kamera, hoe minder lig word ingelaat.

Die reservaat se plantegroei is ʼn kombinasie van bergfynbos op die hoërliggende dele en renosterbos laer af. In die herfstyd is die fyn pienk blommetjies van die Erica-spesie oral te sien. Hierdie plante is inheems aan die Wes-Kaapse fynbos wat met amper 700 verskillende tipes daarvan spog. Behalwe die erikas, kan jy in Meimaand ook heelwat brunias, asters en sekere proteaspesies in blom sien.

Om klein voorwerpe soos hierdie blommetjies te fotografeer, moet jy ʼn makro-lens gebruik of dan so naby as moontlik aan die voorwerp met jou gewone lens probeer fokus. ʼn Goeie wenk vir makro-fotografie is om ʼn eenvoudige agtergrond te kies sodat niks kompeteer met die groter beeld in die voorgrond nie.

Die kleiner Erica-spesies is afhanklik van windbestuiwing, terwyl van die groter variante deur veral die oranjebors-sonvoëltjies bestuif word. Vir die wat in geologie belangstel, bied die indrukwekkende kranse van die Helderberg ook iets om na te kyk. Dit bestaan uit kwartsiet sandsteen van die Tafelberggroep, terwyl die laer, skalie-gedeeltes tot die Malmesbury groep behoort.

Daar is ook heelwat water in die reservaat in ʼn paar mensgemaakte damme. Die damme is goed geposisioneer in ʼn vleisisteem en inheemse waterplante, soos die blou lelie is hervestig. Die watersisteme huisves ʼn verskeidenheid watervoëls soos wilde makoue en waterhoenders. Die bewaringsgebied is juis in 1988 al deur die SA Voëlkykassosiasie aangewys as ons mees voëlgeoriënteerde natuurreservaat.

Vir foto's van bewegende voorwerpe is ʼn driepoot aan te bevele. Onthou om self ook baie stil te wees wanneer jy met ʼn driepoot foto's neem, of skaf vir jou die nuutste tegnologie aan – ʼn infrarooi-afstandbeheer help dat jy glad nie liggaamskontak met die kamera het nie.

Hier moet jy ook die sluiterspoed van die kamera in ag neem. Om die aksie van ʼn bewegende voorwerp soos ʼn dier vas te vang, het jy ʼn vinnige sluiterspoed nodig. Terwyl jy weer ʼn stadige sluiterspoed gebruik as jy byvoorbeeld ʼn sagte effek op die water wil skep. ʼn Stadige sluiterspoed laat die sluiter van die kamera letterlik stadiger oop en toe maak.

ʼn Omgewing soos hierdie is met of sonder ʼn lens beslis ʼn kyk werd. Die Helderberg natuurreservaat is elke dag van die week oop en vir die wat nie lus het vir stapskoene nie, is daar ʼn herbarium, inheemse kwekery en koffiewinkel om jou dag mee te vul.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Die Stad Kaapstad Biodiversiteitsbestuur
T: 021 487 2284
enviro@capetown.gov.za
www.capetown.gov.za

Helderberg Natuurreservaat
T: 021 856 5605
helderbergnature.reserve@capetown.gov.za
www.helderbernaturereserve.co.za

Cape Town School of Photography
T: 021 465 2152
info@ctsp.co.za
www.ctsp.co.za

Irshaad Ally
Reginal Booysen
Jorina Kriel
Swart kamera
Helderberg Natuurreservaat
Kamera verstellings
Digitale kamera
Jorina Kriel en Reginal Booysen op Pasella
Jorina Kriel, Irshaad Ally en Reginal Booysen
Waterlelies
Helderberg Natuurreservaat dam
Pasella leer meer oor dagligfotografie
   

Lees Ook: