TUIS
Skemerkelkietafeldekor

SKEMERKELKIETAFELDEKOR

Houtkruisies

*Vir die houtkruisies, gebruik droë takkies uit die veld en breek dit in 2 lengtes: korter stukkies en langer stukkies, volgens voorkeur. Gebruik plus minus 3 dunnerige takkies van elke lengte per kruisie.

1.Bondel die langer stokkies saam en sorg dat lengtes dieselfde is.
2.Neem die korter stokkies (ook almal van dieselfde lengte) en plaas dit dwars oor die langer stokkies om die kruis te vorm.
3.Gebruik stewige tou (verkieslik donkerkleurig, soos stokkies) en bind dit oorlangs van voor na agter oor die lang en dwars stokkies om dit stewig te heg.
4.Maak ʼn stewige knoop en knip dit tou af. Bind ʼn mooi organzalint oor die kruisie om die tou te bedek en te verfraai.

Nou het jy ʼn pragtige servetversiering wat elke gas kan saamneem huis toe!

Tafelplekversierings

*As individuele tafelplekversiering, gebruik ʼn eierkelkie vir ʼn vars idee aan die tradisionele Paasfeestafel.

1.Gebruik jou mooiste eierkelkie hier!
2.Neem ʼn harde wit sjokoladepaaseier en breek die bopunt van die doppie versigtig af. (Druk gaatjies al om die bopunt van die eier met ʼn skerp mes en steek dan laastens die mes regdeur die dop om dit oop te breek.)
3. Plaas eier in kelkie en versier met ʼn enkele wit roosknop (of gunsteling blommetjie), groen blaartakkie en jou opgerolde boodskappie van hoop (sien onder).

Boodskap van hoop

*Hierdie is die finale versiering vir die paaseierkelkie.

1.Knip ʼn kleinerige reghoek uit stewige dekoratiewe papier (verkieslik handgemaak om ekstra spesiaal te vertoon).
2.Knip dan ook ʼn kleiner reghoek uit wit papier. Plak die kleiner reghoekige wit papier in die groter dekoratiewe papier.
3.Skryf ʼn boodskappie van hoop op die wit papier, rol dit op en bind vas met ʼn stukkie raffia of lint.