TUIS
Conrad Jantjes – ʼn regte, egte rolmodel

Conrad Jantjies het in 2001 sy Springbokdebuut teen Italië gemaak en is tans heelagter vir die Stormers. Hy het voorheen ook vir die Cats en Lions gespeel.

Hy het verlede jaar vir die Westelike Provinsie in die Curriebeker ʼn uitstekende seisoen beleef. Jake White het hom daarvoor beloon deur hom te kies om laat-2007 saam met die Springboek-groep na Wallis en die VK te toer. Charlene gesels met Stormers-afrigter, Rassie Erasmus. Volgens Rassie voeg hy geweldig baie waarde tot die span by. Hy is ervare en het ʼn kalm aanslag onder druk. Dit help glo die jonger outjies om die spanning en druk van die Super 14 beter te hanteer.

Ons weet met ter perse gaan nog nie of hy in die Springbok-groep is nie, maar ons hou baie styf duim vas – eerstens vir die Stormers se Super 14-wedstryde wat oor is en dan vir sy Springbokkleure.

Charlene gesels ook met die kaptein van die Stormers, senter Jean de Villiers en skrumskakel Bolla Conradie tydens ʼn blaaskansie. Jean meen die aanvallende spel wat die Stormers tans speel, pas Conrad goed. Verder meen hy hy is ʼn rustige ou wat ʼn lekker grappie op sy tyd kan maak. Bolla ken hom al vandag hulle 19 is. Hy beskryf Conrad as ʼn redelike teruggetrokke persoon met ʼn uitsonderlike liefde vir rugby.

Hulle spot hom dat Pasella hom gaan neem vir ʼn hand- en voetbehandeling, waarop hy heel tevrede met die verloop van sake lyk en aankondig dat hy ‘a modern day man’ is.

Maar, ons verrassing was nie iets anders. Dit het te doen met die Franschhoek Motormuseum waar meer as ʼn 100 jaar se motorgeskiedenis uitgestal word. Maar, voordat Charlene Conrad na binne geneem het, wou sy eers ʼn bietjie meer persoonlik raak. Sy vra uit na sy verblyf in die Kaap en hy sê dat dit vir hom baie lekker is omdat die ondersteuners so geweldig lojaal is. Op ʼn vraag of die Kaapse meisies mooier is as dié in Gauteng, glimlag hy skaam en sê dat Charlene hom in die moeilikheid wil kry. Hy meen ons is almal God se kinders en dat ons almal ewe mooi is. ʼn Slim antwoord! Die rede daarvoor is natuurlik dat hy in Boksburg, Johannesburg gebore en getoë is. Maar, nou vir die karre – die uitstalling het sy asem weggeslaan!

Die museum beslaan 2 700 vierkante meter en al die motors word chronologies uitgestal - van ʼn 1898 Beston motor-driewiel tot ʼn 2003 Ferrari Enzo superkar. Maar hier’s nog inligting oor Conrad. Hy het regtig nasionale klere in krieket en sokker en meen as sy rugby-loopbaan tot ʼn einde kom, speel hy dalk weer krieket. Veelsydig, behalwe as dit by karre kom. Hoewel Charlene gesê het hy kan meer as een kies, was daar net een vir hom – die Ferrari Enzo. Hy het dit vir ʼn toetsrit geneem en met blink oë teruggekom.

Hy sê hy is glad nie spyt hy het rugby bo sokker gekies nie, maar wonder soms wat sou gebeur het as hy anders besluit het. Na skool het hy as Bababok vir die onder 19 en 21’s gespeel. Dit was afrigter, Harry Viljoen wat sy potensiaal raakgesien het en hom na die Springbok-span genooi het.

Toe was dit Charlene se beurt om ʼn motor te kies en sy het op ʼn stylvolle 1959 62-reeks (afslaankap) Cadillac besluit. Conrad het gemeen as dié kar by haar persoonlikheid pas, weet hy nie want dis ʼn stadige kar wat moeilik draai – soos ʼn voorspeler...

Daarop het hulle besluit om liewerster ʼn draaitjie te ry.

Terwyl hulle ry, nog oor Conrad. Hy het vir ons nasionale sewes-span gespeel en op skool aan die Junior Afrika-nasiesokkerbeker deelgeneem. Toe hy skaars 14 was, het hy ʼn sokker-toetslopie by die Chelsea-klub in Engeland gehad. Daar het hy vir die eerste keer sneeu gesien. Dié twee is vir ete genooi by die enigste restaurant in Suid Afrika wat onder die Top 50 eetplekke in die wêreld val - Le Quartier Francais in Franschhoek.

Hy sê hy het geleer om as hy tuis is sy rugbyklere en skoene op sy balkon te bêre. Dit help hom om te keer dat rugby nie sy hele lewe oorneem nie. Hy meen hy is nie meer so hard op homself nie en hou daarvan om ʼn bietjie pret in sy privaattyd te hê.

Conrad was op Christian Brothers’ College in Boksburg op skool en het twee susters, Gaynor & Rowlene. Sy ouers, Conrad en Alfreda het sy liefde vir sport van kleins af aangemoedig en is sy lojaalste ondersteuners. Alfreda sê sy mis hom verskriklik vandat hy in die Kaap is – daar is nou niemand meer om die radio op doef-doef-musiek te stel nie. Hulle doen egter baie moeite om mekaar gereeld te sien en kwaliteit-gesinstyd saam te spandeer.

Op sy beurt meen Conrad sy ouers dink hy kan nie so alleen bly nie, maar eintlik is hy ʼn alleenloper wat nogal heel goeie kos kan optoor!

Hy bedank Pasella vir die lekker verrassing en al wat ons kan sê is dat dit ʼn ewe groot plesier is om hom op die rugbyveld dop te hou. . Of hy nou in die swart Stormer-trui uitdraf of die Groen en goud oor sy kop trek...Conrad Jantjes lyk vir ons reg vir speel in enige trui!

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Conrad Janjes

Franschhoek Motor Museum
Wayne Harley
Tel: 021 874 9003
E-pos: wayne@fmm.co.za

Le Quartier Francais
Tel: 021 876 2151
Webblad: www.lequartier.co.za/cuisine





Kliek hier om ons kookboek te bestel