TUIS
Die Springende fontein

Die dorpie met sy sowat 300 inwoners, is 150 km suid-wes van Bloemfontein langs die N1 geleë. Dit is net 37 km van die meer bekende Bethulie en nie te ver van Aliwal Noord af nie. Dit is uitgelê op die plaas Springfontein waar daar glo ʼn springende fontein was. Die naam is ook tweetalig met die Spring en fontein as samevoeging.

Na die Anglo-Boere-oorlog in 1901 was hier 80 gesinne op die spoorweë werksaam. Met die koms van paaie, het die dorp byna tot niet gegaan en hier loop vandag maar 14 treine per dag en die inwoners is hoofsaaklik afgetredenes.

Inwoner en geskiedeniskenner, Blackie de Swardt sê die dorpie het ontstaan rondom die spoorlyn wat in 1890 gekom het. In 1894 het die lyn na Oos-Londen ook hier aangesluit en dit het aan die dorp nog ʼn groter inspuiting besorg. Hy vertel ook dat die beeld aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein gegrond is op ʼn gesig wat Emily Hobhouse gesien het hier op die stasie van Springfontein. By haar aankoms hier het sy op die stasie op ʼn klomp vroue en kinders afgekom wat gewag het vir vervoer na die konsentrasiekamp oos van die dorp. ʼn Ma wat met haar sterwende dogtertjie op haar skoot gesit het, het haar aangegryp, maar voordat sy hulp kon ontbied, is die dogtertjie dood.

Teen 1897 was daar reeds ʼn hotel, winkeltjie, stasie, ʼn paar huise en ʼn klein kerkie in die dorp. Die Anglikaanse kerkie wat vandag hier te sien is, dateer uit 1915, met ʼn stuk agter die kansel wat in 1957 ingebou is toe die gemeente die allermooiste beskilderde glas van ʼn kerk in Philippolis gekry het.

Blackie is ook die skrywer van ʼn boek oor die Anglo-Boere-oorlog wat heelwat inligting bevat oor die konsentrasiekamp wat oos van die dorp was. Daar is drie begraafplase by die dorp wat uit hierdie oorlog spruit. Een waar volwassenes – Boer en Brit nogal langs mekaar – begrawe is en een waar kinders begrawe is wat nog nie gedoop was nie.

ʼn Monument is in 1985 aan die suidekant van die begraafplaas opgerig met die name van die kinders en ook dié wat nog naamloos was. In die konsentrasiekamp, het daar in 1901 704 mense aan koue en ontbering ontkom. Maar, dis nie die enigste twee begraafplase hier nie. Daar is ook ʼn derde waar Xhosas en Sothos’ wat deel van die oorlog was begrawe is.

Cindy se volgende stop is die plaas, Perdeberg. ʼn Gasteplaas waar daar met Arabier en Appaloosaperde geteel word. Die Appaloosa-ras is bekend vir sy luiperd-kolle en is ontwikkel deur die Nez Perce-mense van die Amerikaanse Pasifiese Noordweste. Behalwe dat gaste op die plaas kan oorbly, kan jy ook bespreek vir ʼn uithourit wat van min ure tot baie wissel!

Danie Louw is die president van die Appaloosa-perde-telersvereniging. Volgens hom is die koue winters en voedingsryke grond wat vol minerale soos kalk en fosfaat is, ideaal vir perde teel. Die omgewing leen hom ook tot skaap- en bietjie beesboerdery met dié dat dit op die rand van die bo-Karoo is wat oorvleuel met grasveld.

Inwoner Riëtte Griesel is volgende aan die beurt. Sy is die mede-eienares van die Garingboom Gasteplaas waar sy graag mense uitneem om van hul 141 voëlspesies te sien. Sy gaan wys vir Cindy die Kimberley koester wat in onlangse jare eers opgeteken is. Hoewel dit heeljaar hier in Springfontein voorkom, is dit vir die eerste keer in Kimberley gesien en vandaar die naam. Hy hou van droë bossiewêreld en plat vlaktes omdat die ou voëltjie glo daarvan hou om te hardloop.

Haar volgende stop is by Kuilfontein Gasteplaas en padstal. Dié padstal is begin nadat die eienares, Sandra Staples, se man en ouers in dieselfde jaar oorlede is. Vandag is dit ʼn reusesukses en was sy ʼn Sanlam Landbouweekblad finalis vir boervrou-entrepreneur van die jaar. Haar seun Shelton is die sjef. Hy wys ons hoe om ʼn lam-en-kruisement-pastei te maak. Kliek hier vir die resep.

Na ʼn dag se heerlike samesyn, het almal bymekaar gekom vir tee en krieket op Blackie se plaas. Hy het The Little Gumbootdancers ook genooi. Hulle is almal tussen 6 en 15 jaar oud en die projek is aanvanklik geloods om die kinders van die strate af te kry en besig te hou. Deesdae tree hulle by skoolgeleenthede, basaars en enige ander dorpsfunksies op.

Die krieketveld is vier jaar terug deur Blackie aangelê. Hoewel die kolfblad met die regte gras gedoen is, is die res van die veld weiding vir die skape. Dit word voor ʼn wedstryd kort gesny en dan moet die skapies elders wei.

Na ʼn heerlike, gesellige kuier, moes ons groet! Wat ʼn voorreg om op so ʼn pragtige plek te kan gaan dagsê.

Pasella sê dankie aan Kuilfontein Gastehuis waar ons tuisgegaan het. Ons spring graag weer eendag hierlangs!

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Kuilfontein Gastehuis en Padstal
Sandra en Shelton Staples
Tel: 051 783 0157
Webblad: www.linx.co.za/kuilfontein/

Riëtte Griesel
Sel: 082 900 9888

Blackie de Swardt
Sel: 083 310 3284

Daniel Louw
Sel: 082 853 4664





Kliek hier om ons kookboek te bestel