







Miskien klink Cradock vir jou ver – dis so 1 600 km, klink my, van oral af! Maar, as jy eers eenkeer die waters van die Visrivier op ʼn kano beproef het, lyk dit jou na sommer ʼn katspoegie ver. Paul gaan vind uit waar die glorie én derms van dié gewilde marathon opgesluit lê.
Die eerste kanoresies hier was in 1982. Toe was daar 52 kano’s waarvan 37 klaargemaak het. Dit behels 83 km oor twee dae en dit word jaarliks afgewissel tussen ʼn K1 en K2. Dit beteken gewoon dat daar een jaar solo-roei plaasvind en die ander jaar twee roeiers in ʼn boot. Verlede jaar was daar 1 800 roeiers en hulle verwag vanjaar sowat 2 000.
Die stoeigeveg met die witwaters gebeur op 3 en 4 Oktober. Maar, organiseerders sê dat die meeste roeiers ʼn dag of wat vroeër kom om hul kano’s op te warm en van die ergste hindernisse ʼn paar keer deur te werk. Die eerste is juis net sowat 1 km van die beginpunt af en staan as Toastrack bekend. Dit is ʼn lae brug waaronder roeiers moet afbuk en deurkom sonder om te val. Behalwe dat jy dus vir jou kop moet koes, moet jy ook jou balans probeer hou.
ʼn Hele klomp roeiers van die Visrivier-roeiklub het kom saamroei en Paul is saam met Butch Louw in ʼn kano. Butch was vir jare die voorsitter van die marathon se reëlingskomitee was en al ʼn paar keer die Vis ore aangesit het. Hulle het ook wenner nommer 2 van die Big Brother-huis, Richard Cawood, wat in die distrik boer, genooi om sy staal te kom wys terwyl die huidige voorsitter Louis Copeman ook saam is.
Die volgende stroomversnelling wat hulle teëkom, staan as Keith’s Flyover bekend. Dit is ʼn graad 3+ stroomversnelling wat (net) sowat 15% van roeiers probeer, maar die helfte gewoonlik omdop. Dit is 9 km die roete in en nie net ʼn draaikolk nie, maar ook ʼn draaipunt vir menige. Paul en Richard het eerder uitgesit vir dié een omdat nie een van hulle so ervare is soos die ander manne nie.
By die Soutpanskeerwal is die val 1 meter. Dit is gebou is om water uit die rivier te kry vir besproeiing en, ter wille van Paul, het hulle dié een bo die gevaarliker Soutpansversnelling gekies. Glo dat hy darem nie gekneus aan die ander kant moes uitkom nie!
Nog iemand wat die tweede dag se roete kom saamroei het, is die stigter van die Soweto-kanoklub, Ryno Armdorf. Hy meen hy was nie lus om van sy boot af te val nie en het gekies om eerder die rustiger tweede dag mee te maak.
Nie dat hy nie bietjie witwater kan hanteer nie, want Ryno het die Vis al 13 keer, die Duzi 12 en die Bergriviermarathon 8 keer pak gegee.
By Gauging Weir waarsku hy Paul om stadig af te gaan omdat dié een maklik jou boot breek. Die Departement van Waterwese en Bosbou het dié keerwal gebou om ʼn meetstasie te huisves wat die wateroppervlak kontroleer. Sluise by die Grasrigdam beheer die watervloei. Vir die marathon loop dit 26 000 liter per sekonde - roeibaar vir beginners dog uitdagend vir ervare roeiers.
So tussen die hindernisse deur, vertel James Jordaan van Karoo River Rafting vir Paul dat die rivier heelwat meer bied as net die marathon. ʼn Mens kan ook in opblaasbote afgaan en daar is ook ʼn hele paar lekker oorblyplekke langs die rivier. Volgens hom beslis ook ʼn plan vir hengelaars.
Die volgende hindernis is die 6 meter hoë Marlow Glybaan wat vir Paul en Butch toe nou behoorlik rol! Dis ʼn glykanaal wat in 2003 gebou is sodat roeiers hier kan af. In die jare voor dit, moes die kano’s uitgehaal en omgedra word.
Na hom volg die Cradock keerwal. Paul en sy roeimaats val letterlik soos vlieë om by dié een. Dit is drie meter hoog en sy probleem lê daarin dat hy ʼn dubbel-skuinste het wat eers reguit afgaan en dan skielik teen ʼn 45 grade hoek draai. Dit is glo die beste om hom dwars te benader, te val en dan te bid.
Vir Paul en Butch beteken dit ʼn gebreekte kano, maar dit is glo glad nie ʼn snaakse gesig op dié rivier nie. Die reëlingskomitee sorg jaarliks dat daar nie drywende boomstompe is wat kortwiek nie, maar dis die mensgemaakte stroomversnellings wat die spreekwoordelike klip in die pad is.
Dit ʼn absoluut wonderlike avontuur wat Paul terdeë geniet het. As jy belangstel, onthou om betyds in te skryf, die sluitingsdatum is 24 Augustus. Kyk gerus op hul webwerf vir meer besonderhede.
ʼn Groot dankie aan Die Tuinhuise-gastehuis in Cradock waar Paul sy spiere kon rus na sy wonderervaring op die Visrivier!
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Karoo River Rafting
James Jordaan
E-pos: info@karoo-river-rafting.co.za
Louis & Nikki Copeman
Visrivier Kano Maraton
E-pos: copeman@iexchange.co.za
Die Tuishuise
Tel: 048 881 1322
E-pos: tuishuise@eastcape.net
Richard Cawood
Ryno Armdorf
Sel: 074
357 6470
Michael Mbanywa