



Dit moet seker die toppunt van alle lekkertes te wees – ʼn filmteater in jou eie huis. As jy die kennis het en jou navorsing doen, kan jy dit dalk self installeer. Cindy kry raad by kenners.
Wynand Langenhoven en Fred van der Merwe van Kwyni Technology Solutions het kom help. Wynand begin deur te sê dat jy heel eerste moet besluit of jy ʼn bestaande vertrek in ʼn tuisfliek gaan verander en of jy ʼn nuwe huis bou met ʼn tuisfliek in. Dit bepaal grootliks of jy van ʼn voor- of agterprojektor gebruik gaan maak.
Die eerste huis wat hy ons wys, het ʼn spesiale teaterkamer. Daar is dus ʼn klein projektorkamertjie agter die teater gebou. In dié geval kan jy jou ligte doof as jy fliek kyk omdat die beeld ook verbeter word met ʼn skerm wat ʼn lens in het. Die lens maak dat die lig behoorlik deur die skerm kom en dus ʼn mooi beeld veroorsaak.
Teen die muur is ʼn paneel wat die ligte, film, lugverkoeling en alles anders in die vertrek beheer.
Wynand se kollega, Fred, het kom inloer. Hy was ook betrokke by die ontwerp van hierdie teaterkamer. Hy meen dit is belangrik dat jy jou meubels en dekor so kies dat dit by jou leefstyl pas. Party verkies byvoorbeeld regop stoele terwyl ander meer gemakstoele met voetstoeltjies verkies.
In die volgende huis is ʼn bestaande vertrek in ʼn teater omskep. Hulle moes byvoorbeeld die dak laat sak sodat die skerm daarin kon optrek. Blinders is voor die vensters aangebring om die vertrek donker te maak. By dié een word van voorprojeksie gebruik gemaak. Die beeld is volgens hulle net so goed, maar jy kan nie die kamer te donker maak as jy fliek kyk nie. Dié teater se paneel kan uit die muur gehaal word en dus kan jy alles in die vertrek van jou skoot af beheer. Dit maak ook deel uit van die gesin se leefarea en daarom is meubels gekies om multi-funksioneel te wees en by die vloei van die huis in te pas.
Wynand sê tuisteaterstelsels verskil baie van die tradisionele hi-fi en jy moet versigtig kies. Die groot kopseer is om seker te maak al jou toerusting kan met mekaar praat.
Die luukse Saxon-hotel in Johannesburg spog met sy eie fliekkamer wat aanvanklik vir Douw Steyn self gebou is. Volgens Wynand kan ʼn groot skerm ook in ʼn klein vertrek werk – solank jy net nie met jou neus daarteen sit nie. Dit is ook belangrik dat die muurafwerkings die klank nie hol laat klink nie.
Dit is waarskynlik ʼn bietjie van ʼn duur storie, maar as jy passievol is ook fliek in jou eie huis, sal jy beslis maniere vind om jou spaarbussie vinniger vol te kry! Sorg net dat jy ons nooi vir die eerste vertoning en hou die springmielies reg!
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Kwyni Technology Solutions
Wynand Langenhoven en Fred van der Merwe
Tel:011 465 0671
Sel:083 228 7609
Webblad: www.kwyni.co.za/