





Rika Geyser is sedert 2005 drie jaar in ʼn ry SA se vroue-roeikampioen en was in 2006 die wêreld se binneshuiswenner. Cindy het haar op die Roodeplaatdam anderkant Pretoria aangetref waar sy kliphard aan die oefen was. Sy het by die Afrikaspele gekwalifiseer vir die Olimpiese Spele, vanjaar in Beijing, en hoewel die span nog nie aangekondig is nie, lyk dinge goed.
Sy het aanvanklik aan paarroei-regatta’s deelgeneem, maar sedert haar roeimaat in 2004 uitgetree het, is sy alleen op die boot. Dit was ʼn enorme aanpassing aangesien ʼn mens met een spaan roei in die dubbelitems en met twee solo-roei. Dit en die aanpassing wat balans betref, sê sy, was haar grootste twee struikelblokke om te oorkom.
Sy word deur die bekende Peter Cookson afgerig. Hy is sedert 1971 by die sport betrokke en was ʼn Kanadese kampioen in verskeie items. Hy woon tans in Johannesburg en onderwerp haar aan ʼn strawwe oefenskedule van minstens ses uur per dag. Sy meen haar naweek begin eers Saterdagmiddae wanneer sy klaar geoefen het.
Rika is as baanatleet na matriek met ʼn sportbeurs Amerika toe. Sy het ʼn stresfraktuur opgedoen en moes in die gimnasium fiks bly waar die roeimasjien haar gelok het. Maar, oefen maak honger en dit was tyd vir saam eet.
Sy is in die rekenaarwese, maar het besluit om ʼn jaar nie te werk nie om te fokus op haar voorbereiding vir Beijing. Ter ondersteuning het sy by haar pa in Pretoria ingetrek. Sy is die jongste van vier kinders met haar broer Gerrit ʼn hele 9 jaar ouer as sy.
Haar pa vertel dat mense dikwels deurmekaar raak met roei en kanory. Hy het eenmaal iemand se been getrek en gesê roei is soos dans, die mans roei vorentoe en die vrouens agteruit!
Haar familie, sê sy, aanvaar haar nes sy is en plaas geen druk op haar om te presteer nie. Hulle ondersteun haar en dit gee haar die vryheid om haar beste te kan gee.
Die Rika wat hulle ken, hou tussen oefensessies van lees en musiek. Sy is ook bekend vir haar unieke disse wat sy aanmekaar slaan. Behalwe die ‘stadige’ goed, is sy ook ʼn spoedvraat en daarom het Pasella die mense by Fantastic Racing gevra om te help. Dit is een van haar drome om ʼn Formule 1 kar te bestuur.
Dié karre is regte resieskarre wat oorspronklik gebou is vir ʼn kompetisie in die VS en enigeen kan bespreek om met hulle te ry. Sy is glad nie bang nie en meen sy moet net goed fokus, dan sal die rit glad en genotvol verloop.
Hou die koerante dop vir haar naam as die Olimpiese Spanne vir Beijing aangekondig word. Maak ook seker jy weet wanneer sy roei sodat ons haar spane met ons ondersteuning so ʼn fraksie vinniger kan maak!
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Rika Geyser en familie
Fantastic Racing
Julie Brown
Tel: 021 461 1414
Webtuiste: www.fantasticracing.com