TUIS
Perlemoen se nuwe asem

Perlemoen of perlemoer is ʼn seeskulpdier van die geslag Holiotis wat op seegras voed. Daar is wêreldwyd tussen 100 en 130 spesies wat hoofsaaklik by rotsagtige riwwe aangetref word.

Hoewel daar vroeër baie hiervan in ons oseane was, lyk dinge vandag heelwat skrapser en is daar kommer dat dit heeltemal sal verdwyn.

Dit is beslis geen geheim dat die gewildheid daarvan in die Ooste ʼn groot oorsaak is van misbruik nie. Minki gesels met die Departement van Omgewingsake en Toerisme se hoofdirekteur: navorsing, Antartika en Eilande, Doktor Johan Augustyn.

Hy meen die oorsaak is tweërlei. Eerstens omdat dit ekologiestelsel verander het en daar nou baie krewe is wat perlemoen eet en tweedens het ons ʼn enorme probleem met stropery wat dramaties toegeneem het.

Selfs al sou alle stropery en vissery onmiddellik ophou, sal dit steeds vyftien jaar neem vir dié populasievlakke om weer te herstel.

Dit is nou ʼn beskermde spesie, met perlemoenvissery sedert 1 Februarie vanjaar taboe en ʼn verbod op duik in sekere gebiede. Tog bly stropery ʼn geweldige probleem – een wat deur patrolliebote van die departement van Omgewingsake en Toerisme getakel word.

Minki ry per rubberboot na die 48 meter vaartuig, Lilian Ngoyi wat op die see gebruik word om stropers te vang. Stropers is nie net mense wat sonder permitte uithaal en verkoop nie, maar ook kommersiële perlemoenpermithouers wat meer gevang het as waarop hulle geregtig was en duikers wat meer as hul daaglikse kwota oorskry. Stropery het oor die afgelope 5 jaar drievuldig toegeneem en meer as 60% van gestroopte perlemoen is kleiner as die minimum wettige grootte. Vroeërjare was vangste ongereguleerd en is daar byvoorbeeld in 1965 sowat 3 000 ton perlemoen uitgehaal. Verlede jaar was die toegelate kwota 125 t en vir die 2007/08-seisoen is dit nou nul. Dit was aanvanklik vasgestel op 50 ton, maar diegene wat dit nie voor 1 Februarie uitgehaal het nie, mag dit nie meer doen nie.

Die mense doen uiters noodsaaklike werk, maar dis nie al plan om te keer dat dié seeslakke van ons oseaanbodem af verdwyn nie. Minki is na die HIK Abalone-plaas by Hermanus wat sedert 1997 perlemoen kweek. Hulle produseer tans 138 ton per jaar waarvan 99% uitgevoer word na die ooste.

Hulle het ʼn permit om ʼn bepaalde aantal teelpare uit die see te haal. Die teelpare word gestimuleer om elke ses weke kuit te skiet. Ongelukkig beteken die gereelde proses dat hulle vinnig vrek en moet daar weer nuwe pare uitgehaal word.

Sodra bevrugting plaasgevind het, broei vryswemmende larwes uit die eiers. Dit vestig binne 6 dae op plate wat met mikroskopiese alge bedek is en as voedselbron dien. Na drie tot vier maande op die plate, word dit van hul natuurlike algdieet gespeen en op ʼn kunsmatige dieet geplaas omdat die plaas nie kan voorbly met algproduksie nie. Na drie maande vorder hulle na die uitgroei-afdeling waar hulle 3 tot 4 jaar bly voordat hulle verkoop word.

Die mag nog nie terug in die see geplaas word nie, omdat die regering bang is dat die kunsmatige kweekproses die natuurlike gang sal versteur. Daar word hieroor navorsing gedoen om ook uiteindelik hul aanwas in die see ʼn hupstoot te gee.

Maar, met al die inligting in pad, was Minki tog nuuskierig om te weet of gekweekte perlemoen anders proe as dié wat uit die see kom. Volgens sjef Reuben Riffel van die restaurant Reuben’s in Franschhoek is daar connoisseurs wat meen dit verskil, maar hy sê net omdat jy weet jy eet ‘groener’ perlemoen en help so om voorrade in die see op te bou, is die gekweektes beslis lekkerder.

Hy maak vir ons gebraaide perlemoen wat hy saam met ʼn lemmetjie-, suiker-, rissie- en koljandersous en kruieslaai bedien. Vooraf marineer hy dit in olie, knoffel en kokosroom. Kliek hier vir sy resep.

Dit is heerlik, maar as jy nie gekweektes te koop kry nie, werk die metode ook goed met calamari wat wel op SASSI se groen lys is.

Onthou ook om die perlemoen vooraf sag te maak deur dit met die agterkant van ʼn mes op die spier in die middel te kap. Die slaai bestaan uit ment- en basiliekruidblare, dungesnyde komkommer, boontjiespruite en sprietuie. Daarna word die sousie met ʼn ruim hand bygevoeg en dit saam met ʼn glas yskoue witwyn geniet. Lekker, maar hou liefs by ʼn voorgereg en eet dit net so dan en wan.

Vra dus ook gerus in ʼn restaurant waar hul perlemoen vandaan kom voordat jy bestel. As ons almal bewus raak van die probleem en ook ander bewus maak, skyn die lig in die skulp se holte al klaar helderder.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

HIK Abalone Farm
Tel: 028 313 1055
Webtuiste: www.capeabalone.co.za

Reuben's
Tel: 021 876 3772
E-pos: reservations@reubens.co.za
Webtuiste: www.reubens.co.za





Kliek hier om ons kookboek te bestel