TUIS
ʼn Plaasfees vir Pase

Lecia se hele idee met die dekor is om op die familie te fokus. Sy hou die tafel eenvoudig, sonder tierlantyntjies en pretensie. Die bedoeling is ʼn luilekkerkuiertafel waar mense lank ná ete nog talm sonder om te bekommer oor ʼn linnetafeldoek wat kan vuil word of kristalglase wat kan breek.

Sy gebruik blikborde, houtplekmatjies, eenvoudige eetgerei met ʼn outydse, gebruikte gevoel. Haar blomme is proteas uit die omgewing en om die Paasfeesgevoel te versterk, hang sy wit eiers op en sit ʼn groot mandjie vol wit eiers op die tafel. Sy gebruik spesifiek items wat maklik verkrygbaar is in die platteland waar daar dalk nie fêncy dekorwinkels is nie. Sy sê haar pa het altyd na ʼn lang middagete, gesê hy hoor die foon lui, net om vinnig ʼn middagslapie in te pas. Met dié tafel wil sy almal gesellig bymekaarhou sonder dat telefone hulle wegroep!

Sy het ook ʼn klompie wit sjokolade-eiers gevat en ʼn gaatjie groot genoeg vir ʼn strooitjie daarin gesit. Met ʼn spuit sit sy ʼn likeurtjie vir die grootmense en ʼn sjokolademelkie vir die kinders daarin.

Dit word gesit in ʼn blikkie wat sy met roesverf geverf het om weer eens die ou, gebruikte gevoel deur te trek. Daarin kom die servet, die messegoed wat met ʼn lint aanmekaar gesit word en ʼn naamkaartjie dra. Laastens sit sy ook die eier-dop daarop neer!

Kliek hier vir doen-dit-self-dekoridees

In die kombuis was ICA-dosent, Merizle besig met die voorgereg. Haar plan is om die oorvloed van Pase in die kos deur te trek sonder om baie geregte te maak. Sy maak eerstens ongesuurde plat brode wat sommer so met die hand afgebreek en aan tafel geëet kan word. Haar voorgereg bestaan uit hemelse vars vye, roketslaai en bokmelkkaas. Sy sny die vye bo in ʼn kruis en rooster dit liggies in die oond. Dit kom warm op die roket en word met balsamiese stroop bedruip. Laastens rond stukke bokmelkkaas en krakerige prociutto die slaai af.

Haar hoofgereg is ʼn geroosterde lamsboud, na die simboliek van Christus as die lam. Sy sit dit eers in ʼn groot pot met ʼn ui waarin 6 naeltjies gedruk is. Daar kom ook wyn, water en ʼn tiemie-en-pietersielie-bossie in. Dit word net 15 minute geprut om die geure te ontsluit. Hierna word dit bo-op ʼn mirepoix in ʼn oondskottel gesit en 12 ure lank stadig gestowe.

Sjef Carol Weideman van L’Olive Restaurant behartig die nagereg. Daarvoor gebruik sy Paasbolletjies. Sy sny dit in drie en smeer dit met botter en appelkooskonfyt. Hierna maak sy vla aan en gooi dit bo-oor die bolletjies wat in koppies gepak is. Dit staan 45 minute en word dan in ʼn kookwaterbed gesit waarna dit oond toe gaan.

Kliek hier vir die resepte.

Ook op die tafel is bloedrooi granate, dadels, dukkah en druiwe. ʼn Fees wat enige gesin of familie tot laatmiddag luilekker sal laat kuier.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Institute of Culinary Arts
Merizle Mitrovich
Tel: 021 881 3443
Faks: 021 881 3404
E-pos: info@icachef.co.za
Webtuiste: www.icachef.co.za

Lecia de Waal
Sel: 083 445 2301
E-pos: dewaalart@polka.co.za
Webtuiste: www.dewaalart.com





Kliek hier om ons kookboek te bestel