





Die span van Toffee Appel, Ilze Hattingh en Ferinda Schoeman se hulp is ingeroep vir die tafeldekor. Ilze het ʼn agtergrond in landskapontwerp en Ferinda in interieurontwerp. Met Toffee Appel het hulle ʼn gaping in die mark gesien om tafels met smaak te versier. Hulle gebruik meestal inheemse natuurprodukte en beskryf hulle styl as eklekties tradisioneel gekombineer met byderwets.
Ilze sê die tradisionele klere van Paasfees is wit en goud. Dit kom glo van die pous wat altyd sy wit kleed gedra het met goue draperings. Daarom breek hulle wit paaseiers met ʼn sjokoladebinnelaag bo oop en sit ʼn wit rosie in elk. ʼn Stukkie groen blaartjie bring aardse varsheid. Om by Paasfees te pas, word ʼn kort boodskappie op ʼn wit papiertjie geskryf wat op mooi handegemaakte papier geplak word. Dit word opgerol en met raffia vasgebind en dien ook as tafelversiering.
Om die servette mee te versier, gebruik sy ʼn houtkruisie. Sy vat stokkies uit die tuin uit en bind dit met tou in die vorm van ʼn kruisie. As versiering sit sy organzalint op in ʼn kleur wat met die wit servette kontrasteer, maar bly by aardse bruin of oranje.
Kliek hier vir doen-dit-self-dekorideesIn die kombuis was sjef Alistair Lawrence besig met die kos. Hy maak dit volgens die restaurant se aanslag – wat beteken dit is ʼn moderne Franse dis opgeklits met ʼn bietjie plaaslike en oosterse geure. Hy het ʼn paar peuselhappies gemaak en as hoofgereg berei hy ʼn vis en parmahamdis voor. Hy noem dit ʼn Paasfeeseier-verrassing. Dit bedien hy in ʼn volstruiseier!
Kliek hier vir dié resep.
Omdat dit ʼn skemerkelkete is, moes daar natuurlik ʼn skemerkelkie wees. Die hotel se ontvangskoördineerder, Ryno Louw, maak vir Cindy ʼn Franse vanielje-mojito wat bestaan uit vanielje-gegeurde rum, vanieljesuiker, pepermentblare, lemmetjiewiggies, ʼn knerts aarbeilikeur en ‘gebrande’ suurlemoenskil.
Kliek hier vir die skemerkelkieresep.Die woord ‘cocktail’ is die eerste keer op papier aangeteken in 1803. Dit het aanvanklik bestaan uit alkohol, suiker, water en bitters, maar het mettertyd die versamelwoord geword vir enige mengeldrankie met alkohol in.
En soos ons vroeër beloof het, het ons sanger Kurt Darren genooi om die dag saam met ons af te sluit. Hy het sy meisie, Dunay Nortjé saamgebring. Jammer vir dié aanhangers wat gedink het hy is nog ʼn loslappie! Kurt sê hierdie is een van sy gunstelingrestaurante en hulle kom graag hier eet. Cindy wou by mede-eienaar, Hendrik Marais weet hoe hy paasfees ervaar.
Volgens hom het dit te make met nuwe lewe en is dit dus gepas dat ons so ʼn fees in die Wieg van die Mensdom hou omdat daar bewys van vroeëre inwoners was.
Dunay meen sy sal Paasfees in die kerk wees en hoop dat mense nie vaskyk teen die eiertjies en hasies nie, maar die ware betekenis van dié Jesusfees sal waardeer.
Daarop reageer Kurt dat hy moet bieg, hy hou van die eiertjies en goetertjies!
Maar, soos alle goeie dinge, het dié dag ook tot ʼn einde gesnel en was dit tyd vir Pasella om te groet tot volgende week.
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Roots Restaurant
Tel: 011 668 7000
Webtuiste: www.forumhomini.com/restaurant.q
Tracey Preston
E-pos: tracey@channelmpr.co.za
Toffee Appel
Ferinda Schoeman en Ilze Hattingh
Sel: 083 468 2113
Sel: 083 200 5337
Kurt Darren en Metgesel
Webtuiste: www.kurtdarren.co.za