TUIS
Kolwyntjie-kinderpartytjie

Met behulp van Hannalie Odendaal, ʼn grafiese kunstenaar wat haar liefde vir kos en dekor navolg en die mense van ILOVECUPCAKE hou ons ʼn kostuumpartytjie vir ʼn klompie vrolike kinders.

Hannalie het grafiese ontwerp aan die Universiteit van Pretoria studeer. Sy het ʼn paar jaar lank haar loopbaan hierin gevolg, maar toe besluit dat haar brandende passie vir onthaal en dekor haar in ʼn nuwe rigting stuur. In 2007 het sy die rekenaar verruil vir ʼn koffiepot en is tans die bestuurder van ʼn kuierplek en teekamer in Centurion.

Sy gebruik ʼn Alice in Wonderland-tema en gooi ʼn kostuum vir elke kind oor ʼn stoel. Op die tafel staan groot metaal teekoppies om saam met Alice ‘tee’ te kan drink. Binne in is sagte pienk papier waarin eiers weggesteek is. Verder is daar silwer teepotjies op die tafel met wit eiertjies in. By elke kind is ʼn bakkie verf en ʼn kwas sodat hulle die eiers kan verf. Aan elke stoel is ʼn wit ballon gebind en daar is sommer ʼn hele paar teen die plafon dryfgemaak. Teen die mure is spieëls wat die gevoel van ‘kyk deur die glas’ weergee. In die middel van die tafel is ʼn drie-verdieping-bak waarin die kolwyntjies later gepak gaan word.

Buite in die tuin het sy bokshuisies wat gevou word. Binne-in kom eiers en ʼn speelding en dit word in die boksies in die tuin weggesteek.

Eiers en hase is van altyd af ʼn simbool van nuwe lewe en in Brittanje word hardgekookte eiers soms by hellings afgerol om te kyk wie s’n eerste onder is.

Op die stoep, kliphard aan die mooi goed maak, was Nadia Albany, ʼn kreatiewe assistent by ILOVECUPCAKE – ʼn besigheid wat sedert middel verlede jaar vrolike opskudding in kolwyntjiewêreld veroorsaak het. Hulle het tans ʼn sentrale bakkery met ʼn teekamer in Centurion met ʼn baie gewilde winkel in Athol, Johannesburg. Nadia wys ons hoe om ʼn nessie vir eiers te maak. Sy gebruik sagte lote uit die tuin en draai dit informeel met goue draad in ʼn sirkel. Dit word op drie of vier plekke met ʼn satynlint vasgebind en ʼn strikkie gemaak. Dan sit sy groen blare op en gebruik kunspapier in die middel. Dit word op ʼn plat bord gesit en dan kom die eiers bo-op.

Kliek hier vir doen-dit-self-dekoridees

Die eienaar van ILOVECUPCAKE, Christa Kearns, is ʼn huishoudkundige wat ʼn klompie jare by die piesang-raad gewerk het en toe hoofhuishoudkundige by Bokomo was. Later het sy ook ʼn glasjuwelierswarebesigheid gehad en saam met haar suster ʼn kookskool in Centurion begin. Middel verlede jaar het sy en ʼn vennoot besluit om ʼn kolwyntjiebesigheid te begin. Dié inisiatief het dadelik posgevat onder lekkerbekkiges en vandag kan hulle nie voorbly om kleurvolle kolwyntjies te bak nie.

Sy demonstreer wortelkolwyntjies wat soet malvalekkers inkry. ʼn Wenk by enige gebak, sê sy is om ʼn klitser te gebruik om eiers mee te klits of by eiermengsels waar room inkom. Sodra jy egter met meel en botter werk, is dit beter om ʼn klopper te gebruik omdat dit meer lug in die mengsel inklop.

Sy maak lekker soet versiersuiker, maar as jy bang is vir té ryk, kan jy die versiersuiker met vetvrye of lae-vet jogurt of roomkaas pleks van botter maak. Op tradisionele wortelkoek kom gewoonlik ʼn roomkaasversiersel, maar dan is dit loperig en sal teen die kante van die kolwyntjies afloop – dus ʼn heeltemal ander voorkoms.

Kliek hier vir haar resep.

Die kinders het aangekom en dit was tyd vir die Paasfees om vlerke te kry. Dit is altyd ʼn plan om iets op die tafel te hê waarmee kinders hulle kan besig hou, veral ook as dit lyk na reën.

Kleurvolle eiers is al sedert die Middeleeue ʼn Paasfees-tradisie, maar sjokolade-eiers het eers in moderne tye gewild geraak. Deesdae is plastiekeiers met lekkertjies binne-in ook in aanvraag, maar as jy steeds gekookte eiers wil gebruik, kook dit saam met die skil van ʼn ui om dit ʼn mooi kleur te gee.

Dit was dan ons eerste fees. Charlene neem nou by Cindy oor vir ʼn familie-plaas middagete.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

ILOVECUPCAKE
Tel: 071 121 6234
E-pos: christa.kearns@ilovecupcake.co.za
Webtuiste: www.ilovecupcake.co.za




Kliek hier om ons kookboek te bestel