TUIS
Brood kom sy moses teë

By die Institute of Culinary Arts se Banhoek-kampus, wys prinsipaal en Pasella-vriendin, Letitia Prinsloo ons hoe om oorskiet-brood stylvolle hoëhakskoene aan te trek.

Sy sny ʼn 3cm-breë stuk brood en hol hom uit om ʼn bakkie te vorm. Dit word met gesmelte botter gesmeer en dan in die oond tot goudbruin gebak. Hierna sit sy gebraaide spek, ʼn eier, sout en peper en gekapte tamaties in en bak dit in die oond totdat die eier gaar is.

Daarna maak sy ʼn heerlike Italiaanse tamatiesop genaamd Papa Al Pomodora wat sy ook saam met ʼn broodmandjie opdien.

Die volgende resep is oondgebakte salm met brandrissiesalsa en skordalia. Skordalia is ʼn vissous wat hoofsaaklik van brood gemaak word. Sy voeg knoffel, suurlemoensap, pietersielie, olyfolie, sout en peper by en verwerk dit totdat dit ʼn mayonnaise-tekstuur het. Volgens haar is dié een aan te bevole vir enige vis- of selfs ʼn hoendergereg.

Sy maak ook ʼn kors vir die vis uit brood, botter en komynsaad en druk dit vas bo-op die vis voordat dit gebak word. ʼn Goeie wenk vir die bak van vis is om ongeveer 10 minute baktyd toe te laat vir vis wat op sy dikste gedeelte sowat 2,5 cm is.

Sjefdosent Carol Weideman is volgende aan die beurt. Sy maak ʼn heerlike hoenderbroodjie van oorskiethoender. Daarmee saam maak sy ʼn kruiemayonnaise van mayonnaise, Franse slaaisous, suurroom, droë mosterd, die zest en sap van een suurlemoen, pietersielie, kruisement en grasuie.

Haar volgende koningsdis met brood as bestanddeel is ʼn soutbrood-en-botterpoeding met ʼn kaaskors. Beslis een wat jy sommer maklik teen skemertyd saam met ʼn drankie kan voorsit.

Laastens maak sy ʼn gebakte sjokoladepoeding...van brood! Sy week brood in ʼn sjokolademengsel en voer ʼn akkie daarmee uit. Binne-in kom ʼn sjokoladelekker met ʼn toffie-kern en dan sit sy weer ʼn geweekte brooddeksel op. Dit word gebak en siedaar...broodpoeding in ʼn nuwe, swieriger gedaante!

Kliek hier vir die maklike, broodnodige resepte.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

ICA
Letitia Prinsloo
Tel: 021 881 3443
E-pos:info@icachef.co.za
Webblad: www.icachef.co.za





Kliek hier om ons kookboek te bestel