




Sedert Vuyelwa Booi in 2001 Alyce in 7de Laan speel, het sy so deel van ons huishoudings geword as koffie en konfyt. Ons kan kwalik ʼn aand daarsonder en kan nie wag vir ʼn nuwe week vol nuwe intriges nie.
Ons het haar op stel van die sepie aangetref waar sy besig was om woorde te leer saam met mede-aktrise Diaan Lawrenson of te wel Paula. Hulle is vyf dae ʼn week van sewe tot sewe besig met 7de Laan. Haar karakter het ʼn ambisieuse streep met oog vir hubare mans. Cindy het sommer dadelik met die deur in die huis geval.
Vuyelwa meen haar karakter verskil heelwat van haarself. Sy sê Alyce is bietjie van ʼn snob met ʼn oog vir ʼn hubare man. Die een ding wat sy wel van Alyce geleer het, is selfvertroue en daaroor is sy baie dankbaar.
Paula, ag ek bedoel, Diaan sê Vuyelwa is ʼn rots. Hulle help mekaar gedurig deur moeilike dae en sy het groot waardering vir Vuyelwa se lojale vriendskap.
Behalwe haar rol as Alyce, is sy ook sedert 2006 Die Laan se publisiteits- en openbare optredekoördineerder. En dit, sê sy, kan ʼn mens goed besig hou.
Boonop kan sy nog sing ook. Sy was skaars ʼn jaar in haar rol, toe die vervaardigers besluit het om haar sangtalent in die laan te benut. Maar, dit strek verder as net dit. Sy is tans saam met musiekbestuurder Abe Sibiya van Southstone Records besig met die opname van haar eerste album, genaamd, Invitation Only. Hy beskryf dit as naby aan jazz met ʼn tikkie Afrika en hulle beplan om dit teen die einde van die jaar op die rak te hê.
Sy het haar ervaringe met Abe gedeel en dit aan hom oorgelaat om die woorde en musiek te skryf. Vir hom is dit belangrik dat sy een moet word met albei en dus het hulle saam baie hard aan dié kreatiewe proses gewerk.
Maar, in Vuyelwa se besige lewe, gaan dit nie net oor werk nie. Sy het twee kinders ‘aangeneem’ by World Vision. Dit beteken dat sy finansieël help om twee dogtertjies, Gontse (1½) en Lindelwa (13), se lewens makliker te maak.
Oudergewoonte kon Pasella nie net kuier sonder om te bederf nie. Met die komplimente van Bill Harrop’s Balloon Safari’s het Cindy haar na Hartebeespoortdam geneem vir ʼn laatmiddagdraai oor die mooi hoëveld. ʼn Lekker meevallertjie vir Vuyelwa wat mal is oor die natuur.
Op ʼn vraag wat haar na aan die hart lê, antwoord sy dat kinders se swaarkry haar onderkry en dat sy diep bekommerd is oor die hoeveelheid kinders wat daagliks wees gelaat word vanweë die MIV/Vigs-pandemie.
Cindy vra ook wat sy sou doen as sy weet dat dit haar laaste dag op aarde is. Sy lag en sê miskien alles waarvoor sy nog altyd bang was, soos bungee-jumping, valskermspring en die soort van ding.
Nog goed wat sy in haar visier het is om in ʼn film te speel en, of dit nou plaaslik of internasionaal is, dit maak nie saak nie. Sy wil ook baie graag meer liefdadigheidswerk doen en natuurlik die man van haar drome ontmoet!
Hou die pers dop vir haar album en maak seker jy geniet haar talent in 7de Laan. Dis altyd vir Pasella lekker om ʼn vol mens te ontmoet: Haar kop is in die wolke, haar voete op die aarde en haar hart op die regte plek!
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Vuyelwa Booi
Bill Harrop's Balloon Safaris
Tel: 011 705 3201
E-pos: website@balloon.co.za
Webblad: www.balloon.co.za