




Armdruk, se oorsprong is in Egipte. Bewys hiervan is ʼn skildery wat in ʼn Egiptiese graf gekry is en uit 2 000 voor Christus dateer. In Suid-Afrika het die sport ses jaar terug spierkrag gekry.
Na die stigting van die Suid-Afrikaanse Armdrukfederasie in 2002 het die sport amptelike amateurstatus gekry. Kort daarna het twee Suid-Afrikaners by die Afrika Ope Kampioenskappe in Marokko albei goud gewen. Dit ten spyte van uiters ervare en bekende top Europese deelnemers. In hierdie stadium het ons deelnemers ook nog op verouderde tafels geoefen en van ou tegnieke gebruik gemaak! Sedert 2003 word daar jaarliks in Suid-Afrika ʼn nasionale ope-kampioenskap gehou.
Daan du Toit, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Armdrukfederasie, sê die sport het die afgelope paar jaar meer gewild geword omdat hulle aggressief bemark. Hulle is by alle feeste en skoue te sien en probeer adverteer waar hulle kan. Nog voordele is dat die hele gesin kan deelneem en dat ʼn mens nie duur toerusting nodig het nie.
Ben Scheepers is ʼn internasionale skeidsregter en hy sê daar is altyd twee skeidsregters by die tafel. Dit help beserings voorkom en is ʼn ekstra paar oë. Hy verduidelik die sport so: Twee opponente staan oorkant mekaar by die tafel. Hulle skud hand en die skeidsregter beveel hulle om ʼn greep te kry. Hulle het 1 minuut om hul greep reg te kry. Hiervoor kry hulle twee kanse. As dit steeds nie reg is nie, sit die skeidsregter hul hande in ʼn greep en hulle mag dit nie weer verstel nie. Die wenner is die een wat sy opponent se arm teen die oorkantste kussing druk. Strafpunte word toegeken as ʼn elmboog byvoorbeeld van die kussing af lig of jy jou hand uit die opponent s’n losmaak as jy sien hy of sy is besig om die oorhand te kry. Twee strafpunte beteken jy verloor.
Gert Scheepers, vanjaar se kampioen in die 110kg-klas verduidelik vir Paul dat ʼn mens nie regtig armdruk nie, maar arm-trek. Jy het ook ʼn ankerhandvatsel waaraan jy met jou ander hand vashou. Party deelnemers neem met hul linker- en regterhand deel. Hy verduidelik ook dat daar drie grepe is, ʼn lae greep, ʼn middelgreep en ʼn hoë greep is. Elkeen het sy eie tegniek waarvolgens jy hom aanpak.
Hoewel die sport eers net mans gehad het, is daar deesdae vroue wat uitstekend vaar. Judy Jacobs was in 2004 wêreldkampioen in haar gewigsklas. Sy verduidelik aan Paul dat krag en tegniek ewe belangrik is as jy wil wen. Maar, vroue gebruik gewoonlik meer tegniek omdat hulle gewrigte so lekker buigsaam is. Sy gee Paul ʼn stewige armdruk en hy besluit om eerder die aftog te blaas!
Hy het vir Daniël Maleleke in ʼn gimnasium ontmoet sodat hy hom kan wys wat gepaste oefeninge vir die sport is. Daniël is ʼn oud-liggaamsbouer wat sedert 2006 armdruk. Hy sou aanvanklik help om die sport plaaslik wyer te bemark, maar het toe verlief geraak op die beoefening daarvan.
Die eerste oefening wat hy Paul wys is met taamlike swaar gewigte in elke hand. Jy doen dan ʼn draaibeweging met jou gewrigte om hulle sterk te maak. ʼn Sterk gewrig is natuurlik noodsaaklik vir die sport. Die tweede oefening (waar jy teen gewigte trek deur jou arms van jou elmboë af te gebruik) maak die bo-arm-spier, gewrig en ook die elmboog sterk. Hoewel hierdie kragoefeninge help, is die probleem dat ʼn mens in die gimnasium meer lineêre bewegings oefen terwyl armdruk sirkelbewegings is. Die derde oefening doen jy van die armdruktafel af en dit oefen die hele arm van die skouer af tot by die gewrig.
Die Suid Afrikaanse Kampioenskappe word jaarliks in Meimaand gehou en vanjaar was daar vir die eerste keer ʼn subjuniorklas van vyf onder twaalfs. In totaal was daar 109 atlete wat van regoor die land ingeskryf het. En sjoe, uiteindelik het Paul gewen – al was teen iemand in ʼn heelwat laer gewigsklas as hy!
PASELLA Sê DANKIE AAN:
SA
Armdruk Federasie
Daan du Toit
Tel: 012 542 5154