TUIS
Voetval in die Vredefortkoepel

Die Vredefortkoepel het in 2005 UNESCO Wêrelderfenisstatus gekry. Dit word gereken die grootste van sy soort in die wêreld te wees en is naas sy ouer broer in Rusland, die tweede oudste (die een in Rusland is 300 jaar ouer). Charlene stap saam met die mense van Dome Adventures wat haar op ʼn onthou-stap deur dié belangrike stuk aarde neem.

Die Vredefortkoepel is net sowat 110 km suidwes van Johannesburg naby die pragdorpies Parys en Vredefort. Charlene-hulle stap in die noordweste van die koepel, maar daar is vele voetslaanroetes van verskillende moeilikheidsgrade om van te kies.

Die eienaar van Dome Adventures, Francois de Villiers vertel dat die berge hier almal gevorm is deur die meteoriet se impak 2000 miljoen jaar gelede. Toe was al die kontinente nog een het geen mense die aarde bewoon nie. Die meteoriet was so groot soos Tafelberg en het geval teen 20 km per sekonde! Soos wat die meteoriet in die aarde ingedring het, het hy die rotslae gebuig en vandaar die rimpeleffek wat die heuwels in die koepel maak. Dit het ook veroorsaak dat dit wat onder was boontoe gebring is en die boonste lae ondertoe gedwing is.

Die binnekant van die krater is 80 na 120 km breed, maar die totale impak is 320 km. Die onderste gedeelte van die meteoriet het gesmelt en die boonste het ontplof en in die atmosfeer ingegaan. Met die ontploffing sou daar ook stof bo die aarde wees sodat die son se strale nie kon deurkom nie en reken Francois daar sou donkerte vir dae, weke, maande of selfs jare wees.

Dit is interessant dat daar tussen die grasveld en savanna fynbosspesies voorkom – ook die gevolg van die meteorietimpak wat die hele tipografie verander het. Die area is ook ryk aan plante met medisinale waardes. Gids Vumile Macau wys vir Charlene ʼn Afrika-aartappel en sê dat dit tradisioneel ingespan word om hoë bloedruk, maagkieme, lewerprobleme te beveg en ook die bloed skoon te maak.

Dit beveg ook glo kanker, MIV, TB, artritis en chemoterapie se newe-effekte.

Die Blinkblaar Wag-‘n-bietjie se blare word gekou en op ʼn sweer gesit en het anti-inflammatoriese eienskappe. Volgens gids Toko Lerulelo meen die Zulu-mense dat die takkies se dorings simboliek het. Die een wys agtertoe en simboliseer die pad waarlangs ʼn mens kom terwyl die een wat vorentoe wys op die toekoms dui.

Hulle volgende stop is ʼn ou myn waar goud tussen 1889 en 1911 en weer tussen 1930 en 1938 gemyn is. Francois vertel dat die rotse binne die konglomeraatgesteentes. Dit is sedimentêr omdat dit deur erosie vervoer is tot in ʼn meer waar dit gelê het. Dit is ook die gouddraende rotse. Hoewel gouddraende rots gewoonlik sowat 8 tot 13 meter diep is, is dit hier as gevolg van die meteorietimpak bo.

Mynmagnate se pogings om dit in 2004 in ʼn oopgroefmyn te omskep, is deur grondeienraars teengestaan. Daaruit het die benoeming as wêrelderfenisgebied gespruit.

ʼn Heliograaf by Tygerfontein vertel die geskiedenis van ʼn slag wat op 6 en 7 Augustus 1900 plaasgevind het. Dit is waar Generaal Christiaan de Wet die berge strategies gebruik het om die Engelse te beveg. Die heliograaf het ʼn instrument in die middel gehad wat soos ʼn kamera op ʼn driepoot gewerk het. Bo-op was ʼn spieëltjie waarmee hulle van koppie tot koppie ʼn soort morsekode gestuur het om met hul manne te kommunikeer.

Hierna talm hulle by die Aaskoppies nedersetting. Hier was die kliptydperk jagter-versamelaars die eerste inwoners en het ʼn klompie gereedskap, vestings en kunswerke agtergelaat om die moderne mens insig in hul lewens te gee.

Die woonarea het ʼn paar duisend mense gehuisves, maar net ʼn deel daarvan is argeologies ontgin. Daarvolgens is die kraal van die laat 1600’s tot die vroeë 1800’s bewoon. Hulle het as landbouers sorghum verbou en ook beeste gehad waaraan status gemeet is.

Van die klippe is veral maalgereedskap gemaak en uit ander is yster gesmelt wat vir assegaai- en spiespunte gebruik. Daar is ʼn vuur agter die klip gemaak wat met ʼn blaaspyp warm geblaas is om die yster uit te kry. Om dit te kon doen, moes die vuur minstens 1200 grade C warm wees.

Charlene haar staproete klaargemaak en dit geweldig geniet. Onthou jy kan kies uit vele voetslaanpaaie en by een van die heerlike blyplekke oorslaap.

Pasella het tuisgegaan by die Koepel Hooglandroetes se oornagfasiliteite. ʼn Selfsorgplek waar jy so naby aan die natuur voel as wat die mens kan!

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Dome Adventures
Tel: 018 291 1569
Webblad: www.domeadventures.co.za




Kliek hier om ons kookboek te bestel