TUIS
Groen spore vir moederaarde

Baie huishoudelike skoonmaakmiddels soos meubelpolitoer, oondskoonmakers en selfs lugverfrissers is gevaarlike afvalmateriaal. Hoekom? Omdat dit water besoedel en giftig is vir visse, wild, plante en dikwels ook mense.

Sommige chemikalieë brand en beskadig die neus, oë, vel en longe en hou nog ander skadelike gevolge vir mens, dier en natuur in. Claude Marais is die bemarkingsbestuurder by ʼn maatskappy wat organiese skoonmaakmiddels vervaardig. Hy wys ons hoe om dit self te maak.

Hy begin deur ʼn skoonmaakmiddel enige oppervlaktes te maak: Neem ʼn groterige spuitbottel en vul dit tot amper bo met water. Voeg 2 teelepels vloeibare organiese seep by en 20 tot 30 teelepels tea-tree-olie. Laasgenoemde het antiseptiese eienskappe en ruik ook sommer lekker. Dit word goed geskud en dan kan jy maar spuit en skoonmaak.

Vloeibare organiese seep is by gesondheidswinkels en apteke te koop. Die volgende resep is een waarmee jy veral vloere kan skoon kry: Meng ʼn kwart koppie vloeibare seep met ʼn halwe koppie gedistilleerde asyn of suurlemoensap. Voeg ʼn koppie sterk kruietee by vir ʼn aangename reuk. Skud goed, spuit op die vloer en vee skoon.

Nog ʼn plan is om water met asyn te meng en ʼn paar druppels essensiële olies soos laventel of kruisement by te gooi.

Om ringmerke van tafels af te kry, smeer hy mayonnaise of olyfolie aan, laat dit ʼn rukkie staan en vee dit later af. Die olie is sommer goed vir die hout ook. Vir dreine, gooi hy eers ʼn halwe koppie koeksoda in die drein af, daarna volg ʼn half koppie asyn. Die drein word toegemaak met ʼn klam lappie en 5 minute gelaat. Hierna maak hy dit oop en spoel die drein skoon met kookwater. Jy kan ook jou oond skoonmaak met ʼn mengsel van sout, koeksoda en water.

Hierna is Chantal Williams van die Departement Omgewingsake in die Wes-Kaap aan die woord. Sy begin deur ons te wys hoe om op onskadelike wyse van irriterende vlieë ontslae te raak. Sy meng gelyke dele suiker, goue stroop en water. Dit word tot ʼn dik mengsel gekook en aanhoudend geroer. Sy smeer dit op ʼn strook bruinpapier en gee dit kans om droog te word (so 30 minute). Hierna word dit met ʼn toutjie opgehang

Die soet stroopreuk lok die vlieë wat dan vassit teen die taaispul. Hang dit ʼn entjie weg van jou kuierplek of buite jou kombuisvenster om die vlieë uit jou werkplek te hou.

Hang ook gerus ʼn bossie basiliekruid by jou kombuisdeur. Vlieë en muskiete hou nie van die reuk nie en bly dus weg. Haar volgende plan help om motte uit jou klere- en linnekaste te hou. Sy gebruik gedroogde laventel, roosmaryn en kruisement. Voeg ʼn bietjie droë tabak, sederhoutsaagsels en heel peperkorrels by en bind dit in ʼn katoenlappie toe. Sy gebruik katoenmateriaal omdat dit lug deurlaat. Sit dié sakkie nou in jou kas en jy kan verseker wees die motte sal nie kom kuier nie. Sy stel ook voor dat ʼn mens met sitrus en naeltjies kan speel om jou kas lekker te laat ruik.

Vir miere by jou diere se bakke: Sit ʼn vlak bord of bak gevul met organiese seepwater onder hul kosbakke. Dit sal keer dat miere daarin klim.

Vir miere kan jy koffiepoeier, suurlemoensap, rooipeper of speserye soos salie, paprika of kaneel op hul paaie strooi of sprinkel. Dit sal keer dat hulle nie oor die lyn (tou?) trap nie!

Vir ʼn lelike tee-, koffie- of self mosterdvlek op materiaal, meng ʼn kwart koppie organiese seep met ʼn kwart koppie gliserien en ʼn halwe koppie water. Spuit aan en vryf.

Nou toe, nou het julle ʼn hele paar planne om jou huis op ʼn groen manier skoon en sonder plae te hou. En moenie dink jy as een klein mensie kan nie ʼn verskil maak nie. As ons almal net iets doen, is dit al ʼn groot stap in die regte rigting!

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Enchantrix Organic Products
Claude Marais
Tel: 021 709 0393
Webblad: www.enchantrix.co.za

Departement Omgewingsake in die Wes-Kaap
Chantall Williams
Webblad:www.capegateway.gov.za/afr/eadp/





Kliek hier om ons kookboek te bestel