





Tyrone Watkins is sedert SABC2 se Strictly Come Dancing een van die beoordelaars wat ons weekliks op ons voete hou. Hy is skerp, stel hoë standaarde en weet presies hoe ʼn dans en dansers moet lyk. Cindy gaan kuier en vind uit waar dié passie posgevat het.
Op 17 was Tyrone die jongste manlike danser om ooit in die Sun City Extravaganza te dans. Hy en sy dansmaat, Salome Sechelle was drie jaar Suid-Afrika se Latin en Ballroom-kampioene. Vandag besit hy Tyrone Watkins Produksies waar hy ander dansers afrig, saam met hulle danse vir kompetisies uitwerk, produksies choreografeer, regisseer en ook vervaardig.
Hy meen dat dit belangrik is om as choreograaf nie jou styl op dansers af te dwing nie. Jy moet jou dansers verstaan en so oorspronklik as moontlik dink. Vir hom is ʼn danser die klei wat hom toelaat om sy kuns te beoefen. Volgens hom is dit ook ʼn vereiste om self te dans voordat jy kan begin choreografeer. Dit gee jou die insig om die innerlike gevoel van dans te verstaan.
Terwyl Cindy daar was, was hy besig om twee kampioendansers, Nic & Cherese af te rig, Hulle is die afgelope 5 jaar ons Freestyle en Showdance kampioene. In Showdance was Tyrone en sy dansmaat ook destyds semi-finaliste in die Wêreldkompetisie.
Hy wys Cindy die Samba vir pret en neem haar dan na die hartklop van sy onderneming. Die plek waar kostuums ontwerp en gemaak word. Uit al die produksies wat hy doen, het ʼn leemte ontstaan vir kostuumontwerp en dit het Star Creations met Avril Bennett aan die hoof, tot gevolg gehad. Hy sê dit is hier waar jy 60% van ʼn produksie wen.
Volgens Avril is hy baie presies en skik hy vir niks minder as perfeksie nie. Maar, sy sê ook dat hy ʼn hart van goud het en dat hulle baie goed saamwerk.
Tyrone was in 2006 deel van die FIFA Wêreldbeker in Duitsland se produksie en was ook vanjaar regisseur van die Openingseremonie vir die Afrika Beker.
In die vertoonkamer is foto’s en trofeë wat Tyrone se prestasies oor nege jaar op die dansvloer vier. Hy was maar ʼn skamele 11 toe hy by ʼn Gemeenskapsdansskool in Eldoradopark, Johannesburg begin dans het. Dit was vir hom ʼn groot oomblik toe hy by ʼn produksie betrokke was waar Nelson Mandela 400 rolstoele geskenk het op sy 80ste verjaardag. Hy het saam met ʼn dame in ʼn rolstoel gedans en hy sal nooit die lig in die kinders se oë vergeet toe hulle die rystoele in ontvangs geneem het nie.
ʼn Besige man met ʼn vol skedule, maar wanneer hy kans kry, kies hy koers na sy naweekhuis op die Vaalrivier. Hier kuier hy graag saam met familie en vriende, maar dikwels ook net met homself. Hy sê hy kan hier rustig raak en die wonderlike uitsig oor die water geniet. Die huis het ook ʼn boothuis wat byna op die rivier gebou is. Maar, kom ons grawe nog in sy geskiedenis. Na sy deurbraak by die Extravaganza het hy op oorsese bote en in Europese klubs gedans. By sy terugkoms het hy hom as rekenaarprogrammeerder bekwaam, maar is direk daarna, terug dansbaan toe.
Pa, Stephen en een van sy twee broers, Melvyn het saam kom kuier. Ma, Delah, soos almal haar noem, kon dit ongelukkig nie maak nie. Dit was eintlik sy broers wat eerste begin dans het, maar Tyrone vir wie dit ʼn passie geword het. Hulle is dit eens dat sy dissipline uit sy ouerhuis kom en dat die standaarde wat hy in danskompetisies stel, dansers verbeter en inspireer om bo uit te kom.
Hoewel hy daarvan hou om dus soms sy voete sommer net te lig, kan jy dit ongelukkig nie genoeg doen nie, want behalwe Strictly Come Dancing, is daar Boogie Nights wat nog tot einde Maart by Emperor's Palace op die planke is en die 2010 Wêreldbeker-seremonie waarmee hy met Suid-Afrika wil spog!
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Tyrone Watkins en familie
Webblad: www.twproductions.co.za
Nic Dawson en Cherese Mallen
E-pos:love2dance@absamail.co.za