TUIS
Stof af vir 'n grootste Weskus Kunstemakietie

Dink Kaapse Weskus, dan dink jy blommekyk, strande, wit vissershuisies en bokkoms wat droogskommel in die wind. Jip, die Kunstemakietie gebeur in nege Weskusdorpe van 3 tot 6 April. Charlene ry eerste Velddrif langs. Sy en feesdirekteur Vinette Ebrahim wou hulle slag toets met een van die fees se vele eg Weskus-kompetisies, naamlik bokkom skil!

Volgens Vinette is dié fees ʼn platform om nog werk vir kunstenaars te genereer en so ook geld in te samel vir die gemeenskap.

Sommer so met die intrapslag lyk dit dus na ʼn vat so! van ʼn fees – daar’s die hele katoeter – drama, komedie, musiek, boeke, kuns, kos en wyn. Ook busse wat van dorp tot dorp gaan ry. Charlene het ook op ʼn interessante ryloper afgekom – Dana Snyman, nogal. Hy bied saam met Ollie Viljoen, Valiant Swart, die Mystic boere-orkes en ander Weskusvertellers, Soutstories, by die fees aan.

By Saldanhabaai se Vlakvarkgat het Ollie en Valiant gewag. Dié dorp is wyd bekend vir sy vlootopleidingsbasis en spog glo ook met die beste natuurlike hawe aan die kus van Afrika. Hulle meen Dana se aardse, eg Suid-Afrikaanse stories en hulle musiek, hoort bymekaar en dis daarom dat mense nie genoeg daarvan kan kry nie.

Bespreek vir 3 April om 8 uur by die Tassenberg Gatskop Ouditorium in Langebaan of kry vir Ollie, Valiant en die Mystic Boere-orkes by die hooffeesterrein. Dit is op die sportgronde van die Curro Privaatskool in Langebaan.

Hierna was Charlene oppad na die Farmhouse Hotel in die dorp waar Wilna Snyman repeteer aan haar produksie, Nooit is ʼn lang tyd. Sy beskryf dit as daai drama van die lewe wat eintlik ʼn komedie is. Een wat sy kon skryf eers toe haar kleinkinders haar geleer het om na haar lewe te kyk sonder oordeel en sonder skuld.

Steeds in Saldanhabaai, het Charlene ook ʼn afspraak met Frank Opperman gehad. Frank se nuwe stuk, Wyk 14, wat ook deur Dana Snyman geskryf is, se voorloper, Die Uwe, Pottie Potgieter was in 2006 tweede in die Aardklop Smeltkroesprys vir nuwe dramas. Dit is op 4 April in Vredenburg en op 5 April in Saldanha te sien.

Van hier af het Charlene die rooi Beetletjie in Vredenburg se rigting gestuur. Dié dorp is in 1875 met ʼn kerk begin omdat die naaste een in Hopetown was. Vandag woon hier sowat 33 000 mense. Sy’t ingeloer waar die Weskusdramavereniging besig was om te repeteer aan die stuk, Die Blou Suitcase. Dit is geskryf deur Abigail Smith was as ʼn vars stem uit die gemeenskap gereken word. Die stuk handel daaroor dat die vissersgemeenskap van die Weskus gebuk gaan onder faktore wat hulle ontneem van hul regte en lewensmiddele. Die skrywer, iemand uit die gemeenskap, vra die vraag of dit dan alles die skuld van die stelsels is? Die regisseur is Sherman Pharo en dis beslis een wat jy wil sien.

Nog ʼn plek wat deel van die makietie is, is natuurlik Paternoster. Dié beeldskone dorpie met sy tipiese historiese Weskus vissermanshuisies en kleurvolle bote, het al menige besoeker se hart bekoor. Dis hier waar die fees op die Saterdag ʼn Kreefbakkieresies hou vir almal wat belangstel. Die band wat daarmee saam optree is DNA Strings en Charlene het saam van hulle en ook lede van die Jesse Jordan Band die water aangedurf. Albei hierdie bands is ook op die Vrydag by die Hooffeesterrein op die planke.

Maar, ons kon nie dag of koebaai sê as ons nie praat met dié een wat die feeslied geskryf het nie. Sy het Charlene in die rigting van St. Helenabaai geroep. Dit is die enigste dorp aan die Weskus waar jy die son oor die see sien opkom en nie ondergaan nie. Sangeres en liedjieskrywer, Lize Beekman het hier op Charlene gewag. Haar feeslied is ongelooflik, maar sy sal ook op die planke wees by die fees met haar produksie, Poet in elke musikant wat in Langebaan speel.

Kyk ook uit vir Charlene se produksie, Hartlied in Paternoster.

Besoek die webwerf: www.weskuskunstemakietie.co.za en maak seker jy geniet dié vars fees én kry heerlike gesellige blyplek.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Weskus Kunstemakietie
Beatrix Roux
Beatrix@weskuskunstemakietie.co.za

Kunstenaars:
Valiant Swart
Ollie Viljoen
Dana Snyman
Frank Opperman
Wilna Snyman
Sherman Pharo
Jacques Steyn
Cheree
Lize Beekman
Vinette Ebrahim

Jane's Gastehuis
Tel: 022 714 3605
E-pos: janegh@mweb.co.za
Webtuiste: www.janes.co.za