





Met die herfs op ons voorstoep en die aande nie meer so vuurwarm nie, het Pasella gereken dis ʼn goeie tyd om skemerkelkpartytjies te hou. Ons roep die hulp in van Deona van Vuuren. Sy is die eienares van die Cape tot Cuba Restaurant in Kalkbaai en besit ook ʼn dekorwinkel, Cape to Cairo in dié dorp.
Ons reis begin met ʼn toer na romantiese, baldadige Mexiko. Deona het ʼn kleurvolle tafel gedek volgens ʼn outydse Mexiko. Op die tafel is ysterhartjies, kruise, maskers, houthande en koppe, glasvrugte en pragtige ou borde. Natuurlik is daar ook ʼn plek gelaat vir Frida Kahlo. Sy wys ook hoe om ʼn Kahlo glas te maak. Jy maak ʼn fotostaat, sit dit aan die binnekant van die glas en sit ʼn kers in – voila! Sy gebruik ook ‘tissue’papier en sny klein patroontjies uit wat dan ʼn lang strook vorm om op die tafel te sit.
In die kombuis was die manne van Kings Catering kliphard aan die kosmaak. Rendil Pietersen was eerste aan die beurt met warm (soos in brand-jou-mond-met-rissies-warm) tamatie-en-tortillasop. As happies het hy Mexikaanse wiele, gevulde rissies en guacamole gemaak.
Die sop word koud en in ʼn koppie bedien sodat dit sommer so met die een hand gedrink kan word terwyl jy staan.
Die skemerkelkie wat daarmee saamgaan, kry tequila, lemoenlikeur, vanieljesuiker, gerasperde appel en vars lemmetjie in. Chantelle Horn is die een wat dit aanmekaar skud. Sy maak haar glase vooraf met baie ys koud, sodat die drankie lank koud bly en jy rustig voort kan teug.
As sy dit klaar in die glas gegooi het, smeer sy die rand van die glas met ʼn stukkie lemmetjieskil vir ʼn ekstra smaakelement. Tequila staan in Mexiko as mezcal bekend en is nes baie van hul disse, deur die Spanjaarde aan hulle bekend gestel.
Die tafel was vrolik, helder en vurig! En met meer as ʼn 100 soorte rissies wat Meksikaners gebruik, kan dit ook nie anders nie. Dompel ook ʼn jalepeno in ʼn eiermengsel en diepbraai dit vir ʼn vuurwarm happie by die huis!
Hierna het die Russiese tafel gevolg. Deona het ʼn Dr.Zhivago-styl gevolg met alles kraakwit en silwer. Daar was ʼn wit tafeldoek, silwer stoele, deursigtige stalagmiete, spinnerakke van glas en spieël wat sy patrone op gespuitverf het. Sy het ook ʼn ou Tolstoy boek en ʼn kristalkandelaar op die tafel gesit.
Die Russe gebruik graag kaas in hul disse – tradisioneel maak hulle dit self van klonterige suurmelk en noem dit tvorog. Erlo Burns van Kings Catering was besig met salm-blini’s wat met kaviaar afgerond word. Vir dié Russiese pannekoekies maak hy ʼn smeer met suurroom – iets wat ook gereeld op die Russe se bestanddeellys staan.
Daarna volg die salm en dan swart kaviaar. As jy nie kaviaar het nie, kan jy dit ook met kappertjiesaad afrond.
Minki het intussen haar skemerkelkrok aangetrek en gaan nou kyk hoe Chantalle ʼn nuwe generasie-granaat-drankie met ʼn Russiese klap maak. Daarin kom ʼn goeie knerts vodka, lemoenlikeur, lemmetjiesap en vesel, granaatsap en neutmuskaat. Sy gooi dit deur ʼn siffie en rond dit af met ʼn sitrusmeertjie op die rand van die glas.
Almal wat meegewerk het, het kom saamkuier en ʼn geliefde of wat saamgesleep. Alles was eksie-perfeksie en die son het mooi saamgespeel om ons skemerkelk-aand af te rond. Minki het ook vir manlief Constand genooi en hy was heel beïndruk oor hoe die hele tema uiteindelik saamgekom het.
Kliek hier vir Mexikaanse resepte en hier vir Russiese resepte.
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Cape to Cairo dekorwinkel
Deona van Vuuren
Tel: 021 788 4571
Kings Catering
Erlo en Rendil
Tel: 021 8732587
E-pos:
goodfood@kingscatering.co.za
Webblad: www.kingscatering.co.za
Shaker SA
Chantelle Horn
Tel:021 422 1574
E-pos: info@shaker.co.za
Webblad:www.shaker.co.za