TUIS
Beddegoed vir die winter

Neutrale beddegoed is altyd mooi en stylvol, maar soms raak ʼn mens tog moeg daarvoor of is lus om net ʼn bietjie kleur in te bring. Ons roep ʼn paar kunsnaaldwerkkenners se hulp in en toor met kleur, kussings en borduurwerk en kry sommer ʼn hele paar wenke wat met meer ingewikkelde dinge soos deurgestikte watteer- en laslappiewerk te make het.

Borduurwerk word al baie eeue lank gebruik om gewone huisartikels in kunswerke te omskep. Daarmee word beddegoed, handdoeke, vadoeke, voorskote en kussings verfraai. Naaldwerkkundige Manuela Zuidema van The Cross Stich Cottage in Bergvliet gee ons ʼn paar basiese borduurwenke. Sy het vrolike madeliefies op ʼn duvet- en kussingslope gewerk en sê dat dit ʼn wonderlike geskenk maak as jy iemand se voorletters op beddegoed of ʼn handdoek borduur. Gebruik gewone borduurgare en pas jou blomtipe, of borduurpatroon aan by die smaak van die ontvanger. Hou maar die kleure neutraal as jy dié persoon nie so goed ken nie. Vir ʼn beginner soos Charlene, wys sy hoe om te...wel. begin. Sy stel voor jy koop ʼn stukkie materiaal wat reeds geborduur is of iets soos brokaat wat ʼn ingeweefde patroon het. Koop dan ook gewone borduurgare en versier die patrone op die materiaal met kraletjies deur ʼn ‘back stitch’ te gebruik. Vra ʼn kenner om jou dié steek te wys.

Dié manier is volgens Manuela baie gewild op die oomblik. Daar word vele handsakke van gemaak, maar begin eerder met ʼn makliker kussing. Wanneer jy dit bemeester het, borduur (sommer) ʼn bypassende voetkombers vir die onderkant van die bed. Dit balanseer die kleurspatsels van die kussings.

Met ons volgende plan gebruik Moira-lee Purdon sonverf. Sy lê die duvet en slope op die gras en gebruik herfskleure om ʼn raam op die lap te maak. Dit word met ʼn verfkwas ingemeng en dan word gewone blaartjies bo-op gesit. Die son maak die verf se kleur donkerder en dus bly dit lig waar die blaartjies lê. Dit het dieselfde effek as om met jou sonbril aan in die son te lê en neem sowat ʼn uur om droog te word. Kry dit en ander materiaalverf by kunswinkels. Die lekker van die verf is dat dit nie die materiaal hard maak nie. Kliek hier vir die sonverf se benodigdhede en metodes.

Volgende aan die beurt is Yvonne van Niekerk wat spesialiseer in deurgestikte watteerwerk of te wel ‘quilting’. Dit is ʼn effense ingewikkelde proses, maar maak vir baie plesier. Dié pragdekens neem gewoonlik maande en selfs jare om te maak en is beslis ʼn erfstuk. Sy verduidelik die verskil tussen ʼn quilt en ʼn laslappie. By ʼn quilt het jy drie lawe waardeur jy stik – die prentjie, ‘batting’ en onderlaag. ʼn Laslappiekombers begin gewoon met los lappies en dan voeg jy later die batting en onderlaag by.

Sy wys ons hoe om ʼn maklike laslappiekombers te maak. Sny materiaal in stroke en werk dit aanmekaar. Sny dit dan in die teenoorgestelde rigting weer in stroke sodat dit blokkies maak. Pak die blokkie so dat dit ʼn patroon vorm en werk dit aanmekaar. Die laaste blokkie van elke ry sal afgesny en heel onder aangewerk moet word vir die patroon om te werk.

Laastens wys sy vir Charlene hoe om appliek te doen. Dit is wanneer jy ʼn patroon uit materiaal sny, soos ʼn blom of ʼn hartjie, en dit bo-op ʼn ander stuk lap vaswerk. Dit kan met die hand of masjien gedoen word en kan beddegoed ʼn splinternuwe gevoel gee. Versier ook jou appliekwerk met krale, knope, blinkers of wat ook al jou kreatiewe kop vir jou sê om te doen.

Daar is baie naaldwerkklasse oral in die land. As jy behoefte hieraan het, sluit by so een aan want dit is geweldig terapeuties, verrykend en gaan natuurlik altyd gepaard met ʼn lekker tee- en kuiersessie!

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Constantia Woods Gastehuis
Tel: 021 794 5888
E-pos:info@constantiawoods.com
Webblad: www.constantiawoods.com

The cross stitch cottage
Manuela Zuidema
Tel: 021 713-1709
Webblad: www.crossstitchcottage.co.za

South Peninsula Handcraft Centre
Yvonne Maxwell
Tel: 021 531 6443

Monique Day-Wilde
Tel: 021 976 9348
E-pos: daydreamer@iafrica.com





Kliek hier om ons kookboek te bestel