TUIS
Net maar Darren

Darren is ʼn man wat sedert sy Capital Radio-dae in 1984 steeds op Jakaranda se oggendprogram en vanaf 3uur in die middae op East Coast Radio gehoor word. Sy oggendprogram behels dat hy al vier uur uit die bed moet spring om ses uur met Gautengers te kan gesels. Cindy kry hom by Monte Casino waar die program soms vanaf uitsaai – dit word gewoonlik vanaf Midrand gedoen.

Hy bied Just Plain Breakfast op Jakaranda aan saam met nuusleser Dianne Broodryk, verkeersverslaggewer Francois du Toit, en John Walland aan die sportkant. Volgens hom is die lekker van hulle program juis dat hulle nie té veel voorberei en vaste reëls het nie. Die program loop soos wat hulle voel en dis wat dit so lekker maak.

Francois is self al 5 jaar radio-omroeper en sê die laaste drie maande saam met Darren was kreatief en baie pret. Darren het in 2004 ʼn blaaskans geneem en vir ʼn jaar nie radio- of tv-werk gedoen nie. Dus is dit nou weer vir hom lekker om op die lug te wees. Al beteken dit dat hy tussen Johannesburg en Durban moet pendel en sy weke dus baie besig is.

Maar, besig of te nie, hy maak altyd tyd vir ʼn potjie gholf en speel van ʼn vyf voorgee af. Hy en Cindy slaan ʼn paar balle by die Peacanwood Gholf Estate in Hartbeespoort waar Darren se Gauteng huis is. Hy sê hy speel gholf vandat hy 11 is en meen dit is so gewild omdat dit dié een spel is wat jy nooit heeltemal bemeester nie.

Dis net soms, sê hy, dat jou werk inmeng met jou gholftyd. Maar, werk is nie altyd die hindernis nie. Darren is op 23 met velkanker gediagnoseer. Vandag, 21 jaar later, kyk hy terug op ʼn pad wat nie altyd maklik was nie. Hy het gekies om nie chemoterapie te kry nie en moes ʼn operasie ondergaan waarin van sy kliere in sy bene uitgehaal moes word. Die kanker het gelukkig nie verder as dit versprei nie en hoewel hy vandag sukkel met swelling, gaan dit andersins met hom uitstekend.

Hy is deesdae ook die verloofde van model Sarah-Kate Seaward. Met sy besige skedule is hulle doel om kwaliteittyd alleen saam te spandeer wanneer hulle kan. Dit beteken hulle eet saam uit op ʼn Maandagaand en kuier ook saam op Sondagaande. Dit is nie onderhandelbaar nie want anders sien hulle mekaar heeltemal te min.

Darren is in 1964 in Johannesburg gebore waar hy ook gematrikuleer het. Daarna het hy vir ʼn jaar saam met sy pa in die VSA gaan woon, maar teruggekom omdat hy huis toe verlang het.

ʼn Man met ʼn lekker sin vir humor en een wat jou beslis smorens vrolik uit die bed sal lig. Maar, as jy hom tussen 6 en 9 op Jakaranda mis, kry hom tussen 3 en 6 op East Coast radio. En, as jy gelukkig genoeg is om hom te vang vir ʼn kuier, maak braaivleis, dis sy gunsteling!

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Darren Scott

Francois du Toit

Sarah-Kate Seaward





Kliek hier om ons kookboek te bestel