





Om Bedford se nate is die Baviaansriviervallei met die Kaga Berge as doek. Dit was aanvanklik ʼn oornag-voorraadsentrum vir migrerende boere en is vandag steeds ʼn landbou-gebied. Die dorp is in 1855 gestig deur Andries Stockenström wat dit na sy vriend, The Duke of Bedford vernoem het.
Die eerste geboue in die dorp is rondom 1857 opgerig en gelukkig het heelwat daarvan behoue gebly. Sedert 2006 word die karaktervolle ou waenhuis van die pastorie effe anders ingespan. Dit word vandag deur ds. Rudi Swanepoel en sy vrou as eetplek gebruik en is glo baie gewild in die omgewing. Hy wys vir Paul die pastorie met sy komvenster, spitsdak en stoep wat tipeer uit die Victoriaanse boustyl wat tussen 1880 en 1914 baie gewild was. Hulle stap verby ʼn pragtige ou klipgebou wat in 1820 as fort opgerig is en toe in 1855 in ʼn tronk verander. Die afgelope paar jaar is dit woonhuis. Dié volgende gebou waarna hulle kyk, is The Manse, wat al ʼn hele paar keer van funksie verander het.
Dit is in 1877 gebou en was die eerste skool in Bedford. Later van tyd was dit ʼn koshuis en ook ʼn pastorie. Tot onlangs toe was dit ʼn bed-en-ontbytplek, maar nou word daar beplan om dit weer in ʼn skool te verander.
Bedford was van 1914 tot 1917 die tuiste van ds. M L de Villiers wat verantwoordelik was vir die toonsetting van Die Stem. Beslis ʼn plek vir kreatiewe geeste want wildkunstenaar Frans Mulder woon ook hier in die oorspronklike huis van die stigter, Andries Stockenström. Daar hang wel van sy werk in plaaslike versamelings, maar, sê hy, sy hoofmark is Amerika en Europa.
Hy het ook as ruimtebeplanner vir die hotelbedryf gewerk, maar skilder sedert 2005 voltyds. Paul het ook gehoor van ʼn plaaslike opheffingsprojek wat nie telefoondrade sinoniem met kommunikasie ag nie. Hy het ingeloer by Eagle Hout Meubelvervaardigers en die Thembani handwerkprojek. Dis is sedert 2002 deur Lana Blom en haar man Ben opgebou en skep tans werk vir 48 mense.
Hulle maak die heerlikste hangstoele van rubber wat van telefoondrade afkom. Dit verweer nie en is baie sterk. ʼn Klompie dames haal die kevlar aan die binnekant van die kabels uit en verkoop dit aan ʼn maatskappy wat koeëlvaste baadjies maak. Van die drade word ook gebruik om pragtige borduurwerk mee te doen.Die afvalhout van die meubelfabriek word in blokkies gesny en geverg met ʼn nie-giftige verf sodat kinders daarmee kan speel.
Kyk uit vir hulle nuwe teetuin as jy hier stop en maak tyd vir ʼn eg Suid-Afrikaanse middagete. Maar, jy hoef nie te wag tot die dan om te eet nie, jy kan sommer by die township, Nonzwakazai inry en by die Lilitha Vroue Ko-op van brood alleen leef. Paul loer ook by dié 12-stuks vroue in wat in Maart 2006 begin het en vandag tot 200 brode per dag bak. Die bakkery is naby aan die township wat dit dus vir mense maklik maak om hier brood te koop.
Paul het gegroet en vinnig klaar geëet voor sy volgende afspraak. Gideon de Klerk het hom opgelaai na die Baviaansriviervallei wat in 2004 tot UNESCO wêrelderfenisgebied verklaar is. Dis ook hier waar die eerste kerkie van die omgewing staan. Toe Thomas Pringle in 1820 hier gekom het, het hy en sy Skotse geselskap saam met die boere behoefte gehad aan ʼn kerk. Dit is in 1828 voltooi en Skotse leraars moes noodgedwonge ook in Hoog Hollands preek om die boere tegemoet te kom. Toe die kerkie te klein word, is ʼn groter een in 1874 gebou – hy staan ook nog hier. Hy wys ook vir Paul een van die tuishuisies waarin die boere met ʼn nagmaalnaweek tuisgegaan het.
Die reservaatgebied val onder die Kaapse Blommestreek wat as een van die wêreld se 34 biotiese gevaarareas aangewys is. Dit beteken dat dit ʼn hoë konsentrasie endemiese plante het – sowat 1 400 in hierdie streek - wat deur die mens bedreig word. Dit is ook as endemiese voëlarea geïdentifiseer.
Gideon vertel dat die gras in die area baie ryk aan voedingswaarde is en dat vee en wild dus goed hier aard. Dit is ʼn gemengde veld, soetgras- en bossieveld asook struike wat goeie weiding is. Hoewel die Baviaansrivier nie standhoudend is nie, kom hy goed af as dit reën en verskaf broodnodige water aan die omgewing.
Maar, boerdery is nie die enigste sport wat hier met passie beoefen word nie. Gideon het Paul op die plaas Spring Grove afgelaai. Daar is ʼn krieketveld aangelê bekend as The Mill. Lochart Ainslei is van die 6 de geslag Ainslei’s wat oorspronklik uit Skotland hier aangekom het. Hulle het dié veld in 1998 ingewy nadat hulle nie meer lus gehad het om die dorp se sportgronde met atletiek en rugby te deel nie.
In Oktober 2002 het Bangladesh hier einste by The Mill ʼn vierdag wedstryd teen die SA Plattelandspan kom speel. Dié pragtige ou meule op die plaas, is in 1834 gebou en doen nou diens as klubhuis.
Ongelukkig het ons tyd ons ingehaal en het Paul langsamerhand gegroet ná ʼn onthou-kuier in die mooi dorpie.
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Cavers Country Guest House
Rozanne Ross
Tel: 046 685 0619
E-pos: ckross@intekom.co.za
Webblad: www.cavers.co.za
Frans Mulder
Tel: 046 685 1376
Sel: 082 418 9701
The Mill Cricket Ground
Lochart Ainslie
Tel: 046 685 0630
Webblad:stgeorgespark.nmmu.ac.za/content/pecc/displayarticle.asp?artid=pecc_013
Thembani Handwerkprojek
Lana Blom
Tel: 046 685 0994
Lilitha Vroue Ko-op
Julia Mentoor
Sel: 079 866 0010
Baviaansrivier-bewaaringsgebied
Gideon de Klerk
Tel: 046 685 0687
Rudi Swanepoel
Tel: 046 685
0062
Reg Toms
E-pos: tomsr@xainet.co.za
Tel: 046 685 1388