







Die Worcester Museum se Kleinplasie, is ʼn buitelugmuseum met ʼn arsenaal interaktiwiteite vir besoekers. By dié museum bak jy nog brood in ʼn buite-oond soos toentertyd. Dié klipbroodoonde was gewoonlik vir die gemeenskaplike gebruik van die hele nedersetting en dit was ook ʼn gewilde bymekaarkomplek vir kuier.
Sjef Charen Moses van Cotage Fromage in Franschhoek bak die brood terwyl haar kollega Marlin Clayton die res doen.
Ons gebruik ook hul kombuis wat volgens die era ingerig is, vir tipiese disse uit die era en dek later ʼn tafel om daarby te pas. In dié tye was die kombuis die warmste vertrek in die huis omdat al die kookwerk op ʼn oop vuurherd gedoen is.
Marlin maak ʼn heerlike heilsame boontjiesop en sê dat dit in vroeë jare dikwels vir vleis moes instaan. Dit is ʼn uitstekende bron van proteïene en hou natuurlik ook lank sonder moderne verkoelingstoerusting.
Hy wys ons ook hoe om kweperkonfyt te kook en maak op die ou tuismanier bokmelkkaas.Dit word gegeur met geroosterde knoffel, sout, peper en gekapte sprietuie. Dit neem ongeveer ʼn uur vir die vloeistof om deur die moeselienlap te loop en ʼn mens moet dit nie probeer aanhelp en die water deur die lap forseer nie.
Hierna wys Niel Els van die Boschendal restaurante ons hoe om sy ma se tarentaalpastei te maak. Dis ʼn heerlike gedoente wat jy in ʼn swartpot maak. En, as deeg, maak jy ʼn skonresep aan wat jy met ʼn bietjie suurroom meer vloeibaar maak. Beslis een wat jy sommer vir ʼn lekker Sondagmiddag buite-ete kan probeer. Hy doen dit in die buite-oond en sê as jy jou hand sowat 3 sekondes binne kan hou sonder dat dit brand, die oond warm genoeg is om jou pastei binne 10 minute reg te hê.
Nog ʼn dis waarvoor die ou mense lief was, is gepreserveerde eend. Die gaar eendstukke word in eendvetjellie gepreserveer en kan letterlik maande hou.
Wanneer jy reg is om dit te bedien, haal uit en braai lekker bruin in ʼn droë pan. Om darem nie heeltemal skeurbuik op te doen nie, maak Niel groenbone met knoffel, botter en amandels en soetpatats.
Van hier af verskuif ons onthaal na die Boschendal Wynlandgoed net buite Franschhoek. Boschendal se geboue dateer uit die tydperk tussen 1796 en 1812 – dus presies reg vir ons periodestyl-onthaal. Dekorstilis Pieter Tredoux het die tafel aangetrek.
Hy gebruik blou-en-wit-delf borde op ʼn wit tafeldoek, kristalglase uit die tyd en ook pragtige silwer eetgerei. Hy sê met dié dat ʼn eetservies oor generasies in ʼn gesin was, was dit altyd ʼn deftige besigheid. Met die koms van die industriële revolusie het meer glase, messegoed en eetstelle gekom en dit is ruim in huishoudings gebruik. Op die tafel was gewoonlik ʼn bak met vrugte waaraan die gaste tussen maaltye kon smul. Dit is bedien saam met sout, peper, kaneel en gemmer en as jy dit sou waag om sout in die voorgeregsop te gooi, is jy summier van die gastelys afgehaal.
Sitplekaanwysings was ook ʼn hele storie. In die tydperk voor die draai van die eeu, het die mans aan die een kant gesit en die vrouens aan die ander kant. Die gasvrou het aan die hoof van die tafel gesit met die manlike eregas aan haar regterkant. Sy self sou die sop bedien. Aan die manlike gasheer se regterkant was die vroulike eregas en vandaar het die gaste man-vrou, man-vrou gesit – ʼn nuwe ontwikkeling na ʼn meer ingetoë tydperk. Vroue sou volgens Pieter ook nooit diamante of pêrels in die oggend gedra het nie – dit was aandbybehore.
Wat die klere van die era betref, vertel Wieke van Delen dat daar ʼn oorskakeling was van die klassieke na ʼn romantiese era. In 1820, net na die Franse Revolusie het die dames wit gedra met ʼn hoë lyfie en ʼn lang nousluitende romp. Minki word getooi in die neo-klassieke cum romantiese tydperk. Sy is in ʼn room rok met pragtige pofmoutjies en valletjies. Wieke self meen sy is ʼn ouer dame en daarom sou sy ʼn halsdoek om haar nek dra om haar nek te verbloem. Strepe was in die mode met lang moue en valletjies. Die slawe was ook netjies aangetrek in baadjies en driekwart broeke, maar dis was tweedehandse klere en hulle moes kaalvoet loop. Die vrouesale moes ʼn doek om die kop dra om hul hare te verberg. Die mode vir mans was meer afgerond en versorg met noupassende baadjies, pluiskeile en stewels wat onder die broek aangetrek is (in ander lande is die stewels bo-oor die broek gedra).
Vroue het plat, balletskoene gedra en grimeringsgewys was die styl baie natuurlik. Hulle het net hulle wange ʼn bietjie rooi gemaak en altyd gesorg dat hulle hare sag en vroulik lyk.
Nagereg was glo baie belangrik in dié tyd en daar is geen geld ontsien om gaste hiermee te beïndruk nie. Vir ons tafel is daar melktert, malvapoeding, pere in rooiwyn en appeltert gemaak. Niel noem dat ʼn malvapoeding se naam afkomstig is van die soort soetwyn wat hulle daarmee saam bedien het.
Wat ʼn heerlike nostalgiese reis terug na ʼn wonderlike, romantiese tydperk.
Kliek hier vir die resepte.
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Boschendal Wynlandgoed
Niel Els
Tel: 021-870-4272/3/4/5
Webblad: www.boschendal.com
Kleinplasie
Brent Kellies
Tel: 023 342 2225
E-pos: info@kleinplasie.co.za
Webblad: www.kleinplasie.co.za
Cotage Formage
Marlon Clayton en Charon Moses
Tel: 021 874 1611
Pieter Tredoux
Sel: 072 179 1197
E-pos: ptredoux@googlemail.com
Wieke van Delen
Sel: 082 593 4497
E-pos: wvandelen@iziko.org.za
Artscape
Wardrobe
Tel: 021 410-9800
E-pos: artscape@artscape.co.za
Webblad: www.artscape.co.za
Annie's Wardrobe
Tel: 021 447 4050
E-pos: info@annieswardrobe.co.za
Webblad: www.annieswardrobe.co.za/online.asp
Mariana Pepler
Gremeeringstilis
Sel: 082 427 9370
E-pos: marianapepler@hotmail.com