TUIS
Foto na Dans se wenresep

Hulle het verlede jaar die land wakker geskud met hulle 7de Laan verskyning. Dié vyf jong manne het ʼn nuwe klank wat kritici sê nog nooit voorheen in Suid-Afrika gehoor is nie. Hulle name is Le Roi Nel (sang en kitaar), Alex Fourie (trompet en klawerbord), Neil Basson (kitaar), Theuns Schoonwinkel (baskitaar) en Dirkie Uys (dromme).

Hulle het begin as Trompie is dood in 2004 toe hulle nog op skool was en dit het hulle ʼn Jip Rockspaaider-prys besorg. Daarna het die groep opgebreek en sedert hulle in 2005 vir Le Roi as hoofsanger by gekry het, het hulle naam verander en was daar nog geen tyd vir stilstaan en die eende voer nie...ok, nie gereeld nie.

Hulle eerste vollengte album, Intervensie, is vanjaar vir ʼn SAMA prys genomineer in die kategorie, Beste Afrikaanse Rock album. MK het hulle ook aangewys as die Beste Groep en volgens kenners sorg hul klassieke opleiding vir ʼn verskerpte musikale aanslag. Boonop is hul lirieke glo intelligent. Hulle meen hulle werk is alles behalwe die sogenaamde ‘emo’ omdat hulle almal gelukkige wesens is en beslis nie wroeg oor die lewe nie. Hulle sing wel oor persoonlike, emosionele dinge, maar dis alles goed wat universeel is.

Die progressiewe rockmusiek het die skare in vervoering gehad by die onlangse Oppikoppie fees. Een resensent beskryf hulle as totaal uniek en ‘bloody hot’.

Dit was ʼn musiekvideo op MK wat hulle vlerke gegee het. Daarna het ʼn kortspeler met vier snitte gevolg met die vollengte album, Intervensie, kort op sy hakke. Hul vierde musiekvideo, Die Wals, is tans onder konstruksie.

Op ʼn vraag of hulle blondines of brunette verkies, is daar uiteenlopende gevoelens...soveel so dat albei reg is, gelyk ook!

Bronwyn het hulle na Kenilworth Karting geneem sodat hulle van oortollige energie ontslae te raak.

Hulle meen hulle kan innoverend wees omdat hulle nie net musikante is nie. Vier van hulle swot nog en hulle het almal wye belangstellingsvelde waarvan hulle inspirasie kan tap. As jy hulle vra wat maak hulle anders as ander groepe, gaan dit oor hul benadering tot die musiekskryfproses. Hulle probeer om nie gewone akkoorde te gebruik nie en werk volgens kenners met presisie en oorspronklikheid wat vars is in Suid-Afrika. Hoewel die media en ondersteuners hulle dikwels met F*kofpolisiekar vergelyk, meen hulle dat jy net met ʼn ingeligte oor na hul album hoef te luister om te hoor dat dit wêrelde verskil. Hulle intonasie, besondere lirieke en die gebruik van ʼn trompet dra by tot dié unieke klank.

Kyk uit vir hulle, koop hulle album of stel ondersoek in na dié spulletjie talentvolle jonges...dis lekker om sulkes op die front te hê.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Foto na Dans

Kennilworth Carting
Tel: 021 683 2670





Kliek hier om ons kookboek te bestel