TUIS
Vat so, die vyftigers

Die tyd is vandag en ons is by die 12 Apostels hotel om hulle filmteater te gebruik. Die rede? Plek-plek in die winkels, voel jy jou amper nader aan die vreeslose vyftigs as die teenswoordige 2008! Die plan is om eerstehandse kennis in te win oor toe én nou en seker te maak jou 50’s elemente is in die kol vir ʼn moderne jy.

Charlene is saam met bekende stilis, Isabella Niehaus en hulle haal raakpunte uit die 50’s wat vanjaar se mode opwindend maak.

Die fliek, Funny Face, handel oor die uitgewer van ʼn modetydskrif op soek na die volgende groot voorkomsneigings. Dit word dikwels deur stylikone voorgehou as dié gesig van die vyftigs. Dié uittreksel kon ons kyk met die komplimente van Sterkinekor.

Volgens Isabella was hoede wat met serpe vasgemaak is, groot. Die wenkbroue was ruig en netjies, wimpers was vals en die hare was hoog op gekwaf. Rompe was of nousluitend of a-lyn. Broeke was halfmas met hoë middeltjies. Aandrokke het gelyk asof dit aan die vrou gegiet is en daar was ʼn vroulikheid wat alomteenwoordig was.

Audrey Hepburn is ʼn skaam jong vrou in die film wat deur ʼn fotograaf ontdek word en in ʼn elegante model omskep word. En dit, sê Isabella is die kern van vanjaar se modes – ʼn gesofistikeerde, afgewerkte voorkoms met genoeg kleur vir ʼn pret-element. Gebruik bykomstighede, dra ʼn hoed, bring ʼn handsakkie en poets jou pêrels blink. Maar, dis die teoretiese deel, kom ons kyk hoe pas Isabella dit toe.

Sy tooi Charlene in ʼn sagte pienk jassie met groot knope en ʼn Peter Pan-kragie. Haar hare is opgedoen en haar gesig ingekleur en sy dra pêrels om haar nek. Sy het pers handskoene en ʼn knypsakkie as afronding. Isabel sê ʼn mens kan maklik dié jassie met ʼn denim of wyepypbroek dra, jou hare laat sak en ʼn meer 2008-voorkoms bewerkstellig.

As dié formele dagvoorkoms jou intimideer, vervang die pêrels met groot moderne krale, los die handskoene en dra ʼn gewone sak om dit nader aan vandag te bring. Nes in die vyftigerjare, hou ons vandag nog van smeulende skemerkelkpartytjies. Besluit self hoeveel van die sexy, dog vroulike elemente van dié tyd, jy wil gebruik.

Charlene is uitgevat in ʼn salmkleurige kort baadjie met driekwartmoue en ʼn goue rok. Sy het weer wimpers en haar hare is weer op haar kop. Die haarstyl is volgens Isabella nie hiperbaties nie, wat dit meer modieus maak. Aan die baadjie is ook bling-borspeldjies en aan haar voete, plat, goue balletskoentjies. Vir ʼn bietjie sin vir humor het sy vir haar groen handskoene daarmee saam gegee.

Hoewel mense deesdae nie meer so formeel uitdos as in die 50’s nie, kan jy steeds van dié mode-elemente gebruik om 2008 te lyk. Dis byvoorbeeld nou hoogmode om jou oë bo swaar te omlyn met net ʼn ligte kleur op die lippe.

In haar derde en meer formele uitrusting, is Charlene in ʼn vyftigerjare swart rok met kant wat dit laat uitpof. Pleks van net een stringetjie pêrels, het Isabella vir haar ʼn klomp aangesit om ʼn meer moderne gevoel te gee. Weer eens dra sy dit met ʼn interessante knyphandsakkie.

As jy nog altyd soos ʼn silwerdoekster wou voel, is vanjaar se modestyle jou kans. En al wat jy nodig het is een of twee items uit die vyftigs. Toe, die buitelyne is daar en al wat jy hoef te doen, is om dit op jou unieke manier in te kleur.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Isabella Niehaus

The 12 Apostles Hotel en Spa
Webblad: www.12apostleshotel.com/





Kliek hier om ons kookboek te bestel