





Dis op SABC 2 se Noot vir Noot waar Johan van Rensburg en sy seun Riaan so vrolik musiek maak. Riaan het ook pas sy eerste debuut solo-album, Dans met my, uitgegee. Maar, dit weet julle waarskynlik reeds.
Julle weet ook wie Rina Hugo is en dat hul dogter, Anrie ʼn model en platejoggie is, met renjaer Etienne van die Linde getroud is en hul eersteling verwag.
Johan en Rina het mekaar ontmoet toe hulle aan die Potchefstroomse Universiteit geswot het. Albei was musiekstudente en Johan ook leier van die bekende Alabama Studentegeselskap. Hy raak verlief op haar en praat haar om om ook by dié groep aan te sluit. So begin hul lewe saam want na voltooiing van hul studies, trou die twee in Maart 1971.
Op ʼn vraag hoe dit gekom het dat hulle trou, sê Johan hy het dadelik geweet sy is sy trouvrou toe hy haar ontmoet. Hy’t haar oorgenooi na sy ouerhuis en dadelik vir sy ma gesê hy gaan met haar trou.
Rina vier vanjaar 25 jaar in die bedryf! Haar dogter, Anrie, is ook ʼn grafiese ontwerper en, soos reeds gesê, amper self ma.
Hulle besluit om kolwyntjies te bak wat die manne self moet versier aangesien hulle die babatee misgeloop het. Cindy help tot en met skottelgoedwastyd en besluit toe om eerder die manne te gaan soek.
Johan is in 1973 as beursstudent Amerika toe om sy musiekstudies voort te sit. In 1980 sluit hy by die SAUK aan – die begin van ʼn suksesvolle loopbaan. Riaan se liefde vir musiek het hy natuurlik by sy huis opgedoen. Hy het ook musiek aan die destydse Pretoria Technikon geswot waar hy later sy diploma verwerf het met tromme as hoofvak.
Behalwe musiek, is hy ook lief vir sport en het ʼn paar jaar gelede aan die wêreldkampioenskappe vir ‘frisbee-gooi’ deelgeneem.
Beslis ʼn gesin wat nie maklik stilsit nie en daarom het Pasella besluit dat hulle nie ledig mag rondsit nie. Ons het dus vir nutsman, Jacques Kohn gevra om die manne in die werk te steek en saam met hulle ʼn musiekinstrument te maak. Ons het Johan se vriend en vennoot van 27 jaar, Johan Stemmet genooi vir die kuier. Hy meen die xilofoon lyk soos een...maar klink ongelukkig nie so nie! Gelukkig weet ons dat Anrie se baba nie dadelik sal hoor dat dit nie regtig die ware Jakob is nie.
Johan & Johan het saam by die SAUK begin werk en in 1989 hul maatskappy, Stemmburg gestig. Hulle sê hulle moes met die eerste opname van Noot vir Noot studente met wyn en sop omkoop om die gehoor te wees. Vandag is daar ʼn drie jaar waglys! Hulle meen hulle werk so goed saam omdat Stemmet die haastige een is, terwyl Van Rensburg altyd eers rustig oor iets wil nadink.
Met versiering van die kolwyntjies was omtrent ʼn gedoente en die manne het effens gesukkel so sonder ʼn biertjie of wat in die hand.
Cindy het ongelooflik lekker gekuier en soos altyd, vlieg die tyd heeltemal te vinnig as ʼn mens pret het.
Hou die media dop vir die baba wat die einde van die maand sy opwagting maak! En, as jy ooit een van dié gesin van aangesig tot aangesig ontmoet en jou woorde verlaat jou uit pure opgewondenheid...prewel iets oor die sterrekunde, hulle stel geweldig baie daarin belang.
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Die van Rensburg gesin
Johan Stemmet
Jacques Kohn
E-pos: kohn@absamail.co.za