




Die Kolliehond is ʼn ras waarna daar al in geskrifte uit 1570 as ‘skaapwagtershonde’ verwys word. Hul bloedlyn begin by die rollende groen heuwels tussen Skotland en Engeland. Maar, ons kuier vandag by die Suid-Afrikaanse weergawe daarvan in Mooirivier, Kwa-Zulu Natal.
Ragni Pretorius teel en werk al 21 jaar met skaaphonde. Hoewel haar honde almal opregte, werkende kollies is, word werkshonde geteel met die oog op funksionaliteit terwyl skou- of kompetisiediere se rasvoorkoms ook in ag geneem word. Laasgenoemde beteken dat hulle volgens rasstandaarde sekere oorvorms, kleur, haarlengtes en dies meer moet hê.
Ragni sê haar honde word nie in hokke gehou nie, maar is wel in ʼn toegespande tuin. Klein, ongeleerde hondjies kan groot skade aan vee aanbring as jy hulle nie beheer nie. Sy begin hulle met leibande loop van sowat 8 weke af, maar die werksafrigting begin as hulle so 7, 8 maande is.
Gewoonlik is hulle tussen 18 en 24 maande reg vir skape oppas of om aan die Junior klas-kompetisies deel te neem. Hulle werk tot op so 11 waarna hulle darem vir die laaste jaar of twee van hul lewens aftree.
Sy leer hulle basies vyf bevele: Regs om, links om, stop of bly, jaag aan en klaar, en gebruik ʼn fluitjie om dit aan te dui. Afhangende van die kompetisie waaraan deelgeneem word, verskil die afstand tussen afrigter en hond. By die juniorklas beweeg die afrigter saam met die hond, terwyl die meer ervare honde sover as tot 500 meter van die afrigter af, bevele moet uitvoer.
Hulle moet ook skape afkeer en in verskillende hokke injaag. Die rede hoekom hulle skape van mekaar moet kan wegkeer, is om byvoorbeeld ʼn ooi wat nie kan lam nie af te keer sodat sy gehelp kan word. So word siek skape ook eenkant gekry en kan die boer hulle behandel.
Daar is omtrent 10 kompetisies deur die jaar en die Kolliehond wat die hoogste punte behaal, word as die Hond van die Jaar aangewys.
Die SA Skaaphondvereniging, waarvan Ragni ʼn lid is, is in 1961 met 13 lede gestig. Vandag is daar sowat 400 lede. Hul hoofdoel is om skaapboere se werk ʼn bietjie minder te maak.
ʼn Interessante eienskap van kolliehonde is dat hulle probeer om bewegende voorwerpe te stop. Hulle sal dus voor jou inloop of speletjies begin om die verveeldheid te keer. Dit is ʼn plan om joune te stimuleer met afrigting.
Ragni het 5 honde, Flyn wat 13 jaar is en vele kompetisies gewen het. Die agtjarige Mick met wie sy tans aan kompetisies deelneem, Jay wat vier is, Lyn van 11 maande en Musti wat maar 6 maande is. Paul het hard probeer om met Musti die skape in te jaag...maar helaas...dit het nie goed gegaan nie. Eers toe hy opstaan en saam hardloop, het Musti besluit om hom aan Paul te steur!
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Ragni Pretorius
Tel: 033 263 2526
Mountain View Country House
Tel: 033 267 7278
E-pos: mountainview@futurenet.co.za