





Die Bo-Kaap is geleë teen die hange van Seinheuwel en is tradisioneel ʼn Kaaps Maleisiese woongebied. Baie van die inwoners is afstammelinge van slawe wat in die 16de en 17de eeu hier geland het. By restaurante soos die Noon Gun, kan jy aan hul ryk, kleurvolle koskultuur proe.
Charlene gesels heel eerste met Mariam Misbach, die eienares van die restaurant. Sy sê die slawe wat 300 jaar terug in Suid-Afrika aangekom het, het baie van die speserye die land ingebring. Van dié kruie, soos vinkel en anys, is deur Van Riebeeck laat aanplant. In dié tyd is borrie ook aangeplant, maar saffraan is dikwels bo dit gekies vir disse.
Sjef Zainie Misbach verduidelik die drie soorte koljander – die saadjie, die vars plantjie en die droë speserye wat gerooster en fyngemaal word.
Fouzi Taylor sê dat die naam kom van die Griekse woord, koris, wat weeluis beteken omdat die blare na die insek ruik. Die Indiërs noem dit ook dania.
Sy begin deur vir Charlene te wys hoe om samoesas te maak. Vir die vulsel gebruik sy maalvleis en meng dit met masala, kerriepoeier, borrie, komyn, fyn koljander en vinkel. Dit word goed ingeroer waarna sy ʼn paar lourierblare ingooi. Die vars koljander en gekapte uie kom eers by as die vleis afgekoel het sodat die uie nie water trek nie en die koljander sy mooi groen kleur behou.
ʼn Mens kry samoesa-deeg (of purr-deeg) by speserywinkels te koop – dus hoef jy jou nie lam te knie aan deeg nie. Die deeg word in lang stroke gesny en dan gevou om ʼn driehoekie te vorm. Sodra die eerste een gevorm is, skep sy van die vulsel in en vou dan tot die deeg klaar is. Dit word met ʼn deeggom (mengsel van water en deeg) aanmekaar geplak en in diep, warm olie gebraai. Dit word 2 tot 4 minute oor medium hitte in warm olie gebraai totdat dit goudbruin is. Maak gerus ʼn klomp en vries dit ongebraai vir gebruik wanneer jy dit nodig het.
Die volgende lekkerte wat Zainie maak, is daltjies of ‘chilli bites’. Daarin kom ook dania-koljander (vars koljander). Sy gebruik ertjiemeel. Dit is gemaak van droë ertjies en is beskikbaar by speserywinkels. Jy kan dit vervang met channa-meel wat van ʼn witter ertjie gemaak word.
Spesiaal vir Charlene maak Miriam Misbach ʼn lensiekerrie. Die lensies word gekook en dan word uie tot sag en bruin gebraai. Hierna voeg sy haar speserye en tamaties en knoffel by. Dan volg die voorafgekookte lensies en opgesnyde wortels. Die kerrie prut sowat 30 minute of totdat die wortels sag is. Dan volg sampioene, blomkool, jong murgpampoentjies, ʼn eiervrug en soetrissies en nog 10 minute se kook. Sy bedien dit met rys en besprinkel die kerrie met vars koljander as garnering.
Hierna word ʼn masalasnoek gemaak wat met ʼn nat masalamengsel bo-op gesmeer word. Jy sal dit moet probeer, dit lyk absoluut fantasties.
Nog is dit het einde niet en hulle maak ook ʼn hoenderkerrie en lamsbreyani. Die hoenderkerrie word bedien saam met ʼn slaaitjie van tamaties, uie en koljander. By die restaurant kry jy ook dhay by – dit is ʼn jogurt wat saam met kerriegeregte bedien word.
ʼn Wenk by die breyani is om jou pot met foelie uit te voer as jy die vleis, aartappels, rys, lensies, eiers en ander bestanddele in lae skep. Dit help dat die dis nie aanbrand as jy dit 45 minute stadig prut nie.
Sy meng ook hardgekookte, gesnyde eiers en ʼn paar saffraanhare in die pot wat met foelie uitgevoer is. ʼn Bietjie water kom by en dit word oor lae hitte vir sowat 45 minute geprut – sonder dat die deksel oopgemaak word.
Kliek hier vir die resepte.
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Noon Gun Restaurant
Tel: 021 424 05 29
E-pos: noonguntearoom@gmail.com