





Etienne Bruwer van Greenhaus Argitekte gesels met ons oor hierdie interessante onderwerp. Hy begin by ʼn huis met mure wat van kafbale gebou is. Dit word met klei aanmekaar gesit en dus word geen sement gebruik nie. Juis omdat die muur ʼn lae digtheid het vanweë sy strooi-inhoud, vang dit meer lug op en vertraag die afkoelproses wanneer die son sak. Die mure word wel gepleister met modder en dan met kalk afgewerk om sy natuurlike eienskappe te behou. ʼn Tweede aspek wat hy by dié spesifieke huis ingebring het was om die dak se kappie af te trek sodat dit ʼn ronding vorm en dus nie baie koue lug in sy spits berg nie.
Die vensterbanke is diep en die vensters nie té groot nie. Dit help ook om hitte in te hou in die winter en die son uit in die somer. Hy sê ook dat ontblote staal lug koud maak en die ionisasie van die lug verander.
Die outydse AGA-stoof en gasstoof is in die middel van die vertrek gesit sodat die hitte na alle kante uitgestraal kan word.
Die tweede huis waarheen hy ons neem is nog in aanbou. Justin Descoins vervaardig Adobe stene. Die steen word gemaak van klei, slik, growwe en fyn sand en droog ongeveer 4 weke in die son. Pleks van sement word modderdagha tussen die stene gesit. Dit word aangemaak volgens dieselfde formule as waarmee die stene gemaak word. Daar is dus geen sement wat inmeng met die natuurlik proses van klimaatbeheer nie.
Dié boumetode geskied op tradisionele wyse soos menige huise uit die vroeë 1900’s en wynplaasopstalle wat uit die laat 1600’s dateer. Op dié manier, sal die temperatuur binne die huis maar ongeveer 4 grade verskil van winter tot somer.
Die vensters is van herwonne dennehout gemaak. Dit kry twee lae glas op en hortjies aan die binnekant. Die huis het ook ʼn ondervloerse warmwatersisteem wat die huis heerlik warm hou.
Derdens neem Etienne ons na sy eie huis. Hy het in elke vertrek ʼn kaggel gebou wat met modder gepleister is om maksimum hitte te behou. Die kaggels is ook nie teen buitemure nie sodat dit na ander vertrekke hitte kan versprei. Keramiekteëls teen die agterste mure help ook om hitte uit te straal. Net so is plafonne met riete, karton en seildoek gedoen. En, omdat ʼn huis 60% hitte deur sy dak verloor, is nog ʼn plan bedink. Sy huis het ʼn tuindak! Dit staan bekend as ʼn lewende dak wat uit drie lae bestaan. Heel bo is gras en kan jy ook blomme plant. Die tweede laag is gemaak van strooi – soos ʼn strooikombers en ʼn houtskulp wat help om die hitte in te hou. Die hout is soos ʼn omgekeerde skuit gemaak en is baie dik om die lewende dak bo te hou.
Slaan dié konsepte ʼn bietjie na op die internet en kyk wat jy by jou huis kan verander of implementeer om moederaarde ʼn bietjie genadiger te wees.
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Greenhaus Architects
Etienne Bruwer
Tel: 021 794 4465
E-pos:
greenhaus@icon.co.za
Webblad: www.greenhaus.co.za
AdobeCo
Justin Descoins
Sel: 072 299 9652
Malcolm Worby Designs
Malcolm Worby
E-pos: mw@malcolmworby.com
Webblad: www.malcolmworby.com