





Alex Harris en Sibusiso Vilane is die eerste twee Suid-Afrikaners – en Sibu ook die eerste swartmens ooit - wat sonder hulp na die Suidpool gestap het. Dit beteken hulle moes elk ʼn 130 kg slee trek in temperature wat gewissel het tussen -8 en -40 grade. Ter viering van hul sukses, bederf Pasella hulle by die Sparkling Waters Hotel & Spa naby Rustenburg.
Dit is ʼn pragplek waar jy behoorlik kan uitspan en die ongelooflike uitsigte geniet. Dit is by die Magaliesberg geleë wat jou verseker van wonderlike berguitstappies en sommer ook ʼn ‘foefie-slide’ oor die aarde.
Alex en Sibu se ekspedisie het in November verlede jaar begin. Hulle het beplan om die sowat 1200 km in 60 dae te stap. Dit het hulle vyf dae langer as beplan geneem en hulle het op 17 Januarie 2008 hul ekspedisie voltooi. As hulle nog een dag moes aanhou, sou hulle sonder kos wees wat dit onmoontlik maak.
Volgens hulle was dit verskriklik koud vir twee Suid-Afrikaners wat hitte gewoond is. Hulle het dit dag vir dag gevat en moes elke dag sowat 20 km dek. Alex sê dit breek jou spoed as jy verder as een dag probeer dink. Tog meen hulle die halfpadmerk het nuwe moed gebring dat daar minder kilo’s oor is as wat hulle agter hulle het.
Hulle moes natuurlik ook baie goed kyk na wat hulle eet. Hulle het elke dag ʼn koppie warm sjokolade gedrink en een klein bakkie pap. Deur die dag was daar 100 gram neute, 100g salami, 100 g sjokolade, ʼn energiestafie asook twee liter water en energiedrankies. Saans moes hulle verlore energie terugkry en het elk 100 ml olyfolie gedrink. Volgens Sibu is dit die heel aakligste ding wat hy ooit moes doen en het hy aan die einde van hul reis sowat 6 liter olyfolie gedrink. Aandete het ook ʼn koppie sop ingesluit, ʼn bietjie maalvleis of hoender, tee of koffie en ʼn sjokoladedrankie vir nagereg.
Met dié dat altwee gewoonlik daarvan hou om in die koue berg-OP te sukkel, het Cindy met die mense van Magaliesberg Canopy Toere gereeld dat hulle ʼn slag salig én lekker warm AF seil.
Op pad vertel hulle dat hulle elke tweede dag 17 kg bande agter hulle moes aansleep om voor te berei op die trek van die slee. Hulle het ook in die gimnasium geoefen, fiets gery en natuurlik baie hard gewerk aan die sielkundige krag waarsonder ʼn mens nie kan klaarkom nie.
Vir ʼn Canopy toer hoef jy nie te oefen nie, want dit is ʼn 2 en ʼn half uur prettige 'foefieslide' sowat 30 meter bo die grond. Jy het die ongelooflikste uitsigte en gee die nodige adrenalienskop wat ʼn mens soms nodig het.
Cindy wou weet of twee mense genoeg is vir so ʼn ekspedisie en of dit nie dalk beter is om meer te wees nie. Volgens hulle is twee die perfekte getal omdat meer mense jou spoed benadeel. Alex het die navigasie behartig, maar wat die res betref, is alle pligte eweredig verdeel. Hulle sê daar was heelwat donker dae, veral toe Alex ʼn ski gebreek het op dag 10. Dit het hulle reggemaak, maar die wind en weer het ook ʼn groot rol gespeel. Daar was dae wat hulle glad nie kon loop nie en dus moes dié verlore kilometers daarna opgemaak word. Alex meen ʼn sms van sy vrou elke dag het gehelp om hom deur te kry terwyl Sibu sê die ondersteuning van sy familie en wete dat hulle hom nodig het, sy kop reg gehou het. Hy het ook as deel van die ekspedisie radio’s ingesamel vir huishoudings. Vir elke kilometer wat hy afgelê het, is ʼn borgradio verkry..
In 2003 het Sibu die eerste swart man op aarde geword om Everest te tem terwyl Alex in 2005 die derde Suid-Afrikaner was om die ‘sewe pieke’ op sewe kontinente te bereik. Sibu het nog net Noord-Amerika se Mt McKinley of te wel Denali gehad te wen en dit het hy verlede week reggekry! Wat ‘n absoluut wonderlike prestasie! Hulle het in 2003 ontmoet en saam besluit om Antartika sonder hulp aan te pak. Dit is die eerste keer in 1989 gedoen en nou kan hulle ook daarmee spog.
Nou beplan hulle om saam die Arabiese-woestyn aan te durf sonder hulp. Dit sal sowat 2 000 km in hengse hitte beteken, maar volgens hulle, sal hul minstens nie ‘frostbite’ kry nie! Sibu gaan ook intussen bergpiek nommer 7 aanpak..
Kyk uit vir Sibu se boek, To the top from nowhere, en hou die media dop vir hul woestynekspedisie...met dié twee is endkry min!
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Alex Harris
Webblad: www.alexharris.co.za
Sibusiso Vilane
Webblad: www.sibusisovilane.co.za
Sparkilin Waters Hotel en Spa
Rei Engels
Tel: 014 535-0000/6
E-pos: sparkling.waters@pixie.co.za
Webblad: www.sparklingwaters.co.za
Magaliesburg Canopy Tours
Tel: 014 535 0150
E-pos: info@magaliescanopytour.co.za
Webblad: www.magaliescanopytour.co.za