






Met nagtemperature wat geniepsig tot onder vriespunt kan daal, is dit inderdaad nie die warmste nessie suid van die Sahara nie. Bethlehem lê in die noord-oos Vrystaat en is die grootste kommersiële, sentrum in die streek.
Die Kleingraaninstituut sowat 10 km buite die dorp is die afgelope 40 jaar Suid-Afrika se navorsings- en inligtingsentrum vir klein graan soorte. Dit is die enigste instansie van sy soort wat ʼn een-stop navorsings-, inligtings- en tegnologiediens aan al die kleingraanboere in ons land bied. En, met dié dat die streek sorg vir sowat 65% van Suid-Afrika se jaarlikse koringoes, is dit beslis die gepaste plek om te wees. Hulle beskik oor 5 plase wat 935 hektaar uitmaak. Dit is verdeel in bewerkte grond, weiding, water en geboue.
Vicky Tolmay verduidelik dat die ‘klein’ eintlik verwys na graan waarvan die saad klein is soos koring, hawer, rog en gars wat natuurlik die wintergrane is. Hulle kyk ook na aspekte soos grondbewerking,kultivar-aanpassing, ergonomiese-werkplantvoeding, gewasbeskerming, siektebeheer, onkruidbeheer en pesbeheer. Volgens haar is die belangrikste ding wat hulle doen om nuwe kultivars daar te stel en te toets dat die produk uiteindelik kwaliteitkos kan maak.
Paul ontmoet vir toerismevoorsitter Pieter Olivier in die dorp om oor die argitektuur te gesels. Hy vertel dat die dorp in 1864 gestig is en het vandag sowat 120 000 inwoners. Volgens paleontologiese fondse in die omgewing is dié area aanvanklik deur dinosourusse bewandel. Die eerste mense wat hier gewoon het, was die San en Khoi met Swart mense wat vroeg in die 1800’s gevolg het. Effe later, in die 1820’s het die Voortrekkers gevolg.
Die dorp is natuurlik as kerkdorp gestig en het vandag sowat 15 pragtige sandsteengeboue wat erfenisstrukture is. Dit is die meeste geproklameerde sandsteengeboue in die Vrystaat. Die pragtige ou moederkerk is in 1910 ingewy.
ʼn Voorbeeld van ʼn gebou met ʼn eklektiese styl waar sandsteen en pleisterwerk suksesvol saam gebruik is, is die Bethlehem–Wes NG kerk. Dit is in 1930 gebou toe die gemeente afgestig het.
Boere het veral met koring begin boer en ekonomiese vooruitgang het gekom met die verbinding van die spoorlyn met Harrismith in 1905, Bloemfontein in 1908 en Johannesburg in 1912.
Paul groet en gaan soek na oud-skoolhoof, Theuns Prinsloo. Hy het in 1996 sy mesmaakstokperdjie omskep in voltydse beroep. Die manier hoe hy sy staal kleur, word deur kenners hoog aangeskryf en van sy messe het al vir soveel as $1 500 in Amerika verkoop.
David Mpele werk saam met hom en is al sedert 1994 by Theuns. Hy is self ʼn kranige mesmaker en verduidelik vir Paul hoe hy te werk gaan.
Nog ʼn bekende vervaardiger in Bethlehem, is Ferro Art. Job en Wena van Eeden het sowat drie jaar gelede besluit om kuns uit yster te maak. Hulle het heel eerste tradisionele grofsmid gereedskap bymekaar gemaak en so begin. Dit is vir hulle belangrik om volgens die ou metodes te werk en so produkte daar te stel wat nêrens anders beskikbaar is nie. Hulle maak die pragtigste hekke, meubels, versierings, tuingoed en wat ook al jy nog aan kan dink.
Van hier af het Paul gaan soek na die Wooden Spoon restaurant. Terwyl hy aanstap, meer oor die dorp. Loer in by hul museum of raak avontuurlustig op een van die vier damme in die distrik. Net sowat 3 km op die Fouriesburgpad is die Wolhuterskop Natuurreservaat en suid van die dorp ʼn Voëlpark. Die Wooden Spoon restaurant is ʼn in eertydse tuishuisie wat as nagmaalhuis gebruik is. Die pragtige plekkie het nog ʼn ongeskonde straatfasade en is die oudste gebou in Bethlehem.
By die restaurant het Ena Louw vir Paul gewys hoe om ʼn lekker koringbrood te bak wat ʼn mens met plaasbotter geniet. Kliek hier vir die resep.
Al ons ander gaste het ook aangedoen met ʼn ietsie te ete en hulle kom ook bestanddele insluit van somergraanprodukte soos mielies, sonneblomme, sojaprodukte en selfs sorghum.
Paul het besluit hy moet aan alles proe om te besluit wie se gebak die lekkerste is. Daar was kolwyntjies, skons met allerlei dekadente versierings, soutpannekoeke, souskluitjies, koeksisters en natuurlik Paul en Ena se brood, wat hy toe as wenner aangewys het!
Maak seker jy draai volgende keer êrens tussen Durban, Bloemfontein en Johannesburg af op die N5 vir ʼn kuier in beeldskone Bethlehem.
PASELLA Sê DANKIE AAN:
The Royal Terrace Guest Lodge
Tel: 058 303 9335
Webblad: www.royalterrace.co.za
Kleingraaninstituut
Tel: 058 307 3402
Webblad: www.arc.sgi.sgric.za
Theuns Prinsloo
Tel: 082 466 3885
E-pos: theunmes@telkomsa.net
Wena en Job van Eeden
Sel: 072 118 2067
Webblad: www.ferro-art.co.za
Wooden Spoon Restaurant
Ena Louw
Tel: 058 303 2742
Pieter Olivier
Sel: 082 293 0680