TUIS
Sewe sakke sout vir Seweweekspoort

Die poort is 17 km lank en kronkel sowat 600 tot 1000 meter bo seevlak deur die Klein Swartberge. Dis is ontwerp deur die bekende padbouer, Andrew Geddes Bain en gebou deur 108 bandiete wat letterlik moes klippe kou om dié een te bou. Minki se eerste gids is ʼn voormalige skoolhoof van Ladismith, Mnr. Willie Koenze.

Hy vertel dat die naam van die poort vele verduidelikings het. Een is dat dit vernoem is na eerwaarde Zerwick van Zoar – ʼn sendeling in die kontrei. Dié naam het later in die volksmond verander na Seweweekspoort. Ander verklarings is dat dit die Britse regering 7 weke geneem het om ʼn berede kommissie deur die poort te kry op soek na struikrowers. Nog een lui dat dit ʼn bende brandewynsmokkelaars ewe lank geneem het om met hul vrag hierdeur te vorder. ʼn Vierde is dat ʼn boer hier verdwaal het en dit hom sewe weke geneem het om weer sy bestemming te vind.

Maar, dis nie die enigste klompie stories oor die poort nie. Daar staan ook ʼn murasie wat glo die huisvesting was van die tollenaar wat geld moes inwin by gebruikers van die pad. Dié staan glo saans hier langs die pad en stop karre....wolhaar- of waar? Jy sal maar self soontoe moet ry om te gaan uitvind.

Terug by die geskiedenis. Hoewel Bain se oorspronklike planne uit 1850 blyk te dateer, is daar eers in 1859 met bouwerk begin en is dit aan die einde van 1862 voltooi. Die nuwe poort het die rytyd vir waens van 4 tot 6 weke na ʼn ongelooflike 3 ure verkort. Berghange aan albei kante van die pad is so hoog as tot 2 000 meter...wat die bou daarvan ook gevaarlik gemaak het.

ʼn Inwoner van Ladismith, Colas Coetzee, vertel dat een van die groot probleme met die bou van die pad, die rivier is. Dit kronkel 23 keer heen en weer en dié driwwe het telkens weggespoel wanneer dit oorstroom. Sonder toerusting en gereedskap het hulle uiteindelik gewen en vandag ry motoriste steeds oor die driwwe.

Bewaringsbestuurder van die Swartberg natuurreservaat, Tony Marshall, gesels oor die plantegroei. Volgens hom is Seweweekspoort ʼn verbinding van die Groot en Klein Karoo se plantegroei. Hier kom ook die Swartberge se plantegroei voor. In die poort self is fynbos wat een van drie hot-spots van die geweste is. Dit beteken dat dit bedreig is deur menslike aktiwiteite. Hy wys vir Minki die waboom wat deel van die protea-familie uitmaak. Hy groei op die laerliggende gebiede en blom dwarsdeur die jaar. Wat hom ook uniek maak, is dat hy brande kan oorleef as gevolg van sy dik bas. Sy naam is afkomstig van die Voortrekkertyd toe sy hout gebruik is om waens en speke te maak.

Hy wys haar ook die Protea aristata wat ook op die laerliggende dele groei. Dit is endemies aan die Klein Swartberge. Daar is in die veertigerjare gedink dat dit uitgesterf het, maar gelukkig is dit herontdek hier in die vyftigerjare.

Jeannine Engelbrecht van die Raad van Geowetenskap, gesels oor die geologie. Sy sê die gesteentes in die Swartbergreeks bestaan uit gesteentes van die Tafelberggroep wat sowat 450 miljoen jaar gelede in sedimentêre komme in die gebied afgeset is. Die landskap is die produk van 150 miljoen jaar se erosie. Die rooi kleure in die rotse is afkomstig van ysteroksied. Swart kolle is ʼn teken van mangaan wat opgelos word deur grondwater. Die groen, geel en grys, sê sy is ligene wat op die rotswand groei.

Laastens ontmoet Minki vir skrywer Abraham H. de Vries wat in Ladismith gebore is. Dié pragtige aarde wat hom steeds baie na aan die hart lê, kry dikwels gestalte in sy skryfwerk en hy lees vir ons ʼn stukkie voor.

So word dit altyd te gou tyd vir groet en moes ons ons rustige aard vir eers weer agterlaat om die woeligheid van die kantoor te gaan trotseer!

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Albert Manor Gastehuis
Bennie en Elizabeth Stoeber
Tel:028 551 1127
E-pos:info@albertmanor.co.za
Webblad: www.www.albertmanor.co.za/

Tony Marshall
Sel:082 784 1784
E-pos: tmarshall@capenature.co.za

Willie Koenze
Tel: 028 551 1474

Colas Coetzee
Tel: 028 551 1020

Jeanine Engelbrecht
Sel: 082 727 2905
E-pos: jengelbrecht@geoscience.org.za





Kliek hier om ons kookboek te bestel