





Pasella het drie van die hoofspelers gaan opsoek en dié groot eer om hulle te ontmoet, het gasaanbieder Pedro Camara te beurt geval.
Hy het hulle met ʼn lang limousine gaan oplaai om na ʼn hotel te neem vir ʼn sessie van nostalgie en pret.
Die eerste wat hy oplaai, is Miems de Bruyn. Op byna 86 is tannie Miems vandag steeds een van ons bekendstes en wel ons oudste werkende aktrise.
Sy was eers in radio- en oorklanking voordat televisie ʼn nuwe dimensie gebring het. Miems was ook in die bekroonde film, Promised Land en is tans te sien as tannie Rademan in 7de Laan. Maar, sy sê die winterspelery gaan stop, want vyfuur opstaan is darem té vroeg. Haar lys van produksies is ellelank en ʼn mens kan maar net haar gesels om haar borrelende persoonlikheid en sin vir humor van voor af te geniet.
In Nommer Asseblief was sy tant Kriekie, ʼn geliefde karakter wat die volk laat skater het van die lag.
Hulle het gestop om vir Kristie Herbst op te laai. Sy het die rol van tant Miems se dogter vertolk en volgens hulle is daar deur vervaardiger en regisseur Henk Hugo doodseker gemaak dat hulle twee wel goed oor die weg sal kom. Die uitkoms was ʼn hegte vriendskap en respek wat hulle vandag nog deel.
Nes Miems het Kristie aanvanklik radio- en oorklankingswerk gedoen. Deesdae is haar passie ʼn verrykingskursus genaamd, Op Safari deur die Lewe wat sy plaaslik en oorsee saam met 3 ander vroue aanbied. Sy sê dit duur ʼn hele naweek en hulle doen dit totaal anders as wat ander mense doen. Beslis een waarvoor ons moet uitkyk en bywoon as die geleentheid hom voordoen.
Kristie was ook in reekse soos Voete van Goud, Hart van Staal, Die jare Daarna en Sonkring.
Akteur nommer drie, is Johan van der Merwe. Hy was Kriekie se seun. Nommer Asseblief was die eerste reeks waarin Johan gespeel het. Daarna was hy al in 121 tv-optredes met hoogtepunte soos Dokter-Dokter en Drama-drama.
Johan het in sy loopbaan in 38 films gespeel. Interessant sê hy, dat die een waaroor hy steeds die meeste terugvoer kry Lipstick Dipstick is. Intussen het hulle aangekom by hulle bestemming…die Indaba-hotel net buite Johannesburg. Dit was tyd om nog meer nostalgies te raak en goeie goed te waardeer.
Pedro het vir hulle ʼn uittreksel uit Nommer Asseblief gespeel. Wat hulle almal opgeval het was dat die gehalte van die produksie so goed was dat dit in vandag se terme steeds sou kon werk.
Die reeks is geskryf deur Obie Pretorius en haar seun Hannes. Die storielyn was ʼn fees vir die hele land omdat veral klein plattelandse dorpies nog met dié stelsel gewerk het. ʼn Ander bekende reeks, Net ʼn bietjie liefde, het ook uit haar pen gekom.
Verder het Pasella spesiaal vir hulle ʼn swart telefoonkoek laat bak. Dit was op die tafel wat spesiaal gedek deur hotelskofleier, Khosi Tloholoe om die ou en nuwe bymekaar te bring.
Na ʼn lang dag van lekker saamkuier, het dit ongelukkig tyd geword om huiswaarts te keer. Ons slotsom? Bêre ʼn slag die selfone en nooi ʼn klompie vriende oor om saam die wonderlike ou televisiereekse te onthou. Drink ook sommer ʼn heildronk op akteurs en aktrises waarop ʼn land kan trots wees.
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Indaba Hotel
Tel:011 840 6600
E-pos: indaba@indabahotel.co.za
Webblad: www.indabahotel.co.za
Smart Limo's
Tel:011 910-1886
E-pos:byron@smartlimo.co.za
Webblad: www.smartlimo.co.za
Miems de Bruyn
Kristie Herbst
Johan van der Merwe