




Ná ʼn tawwe hardloopresies in 1977, het atlete gestry oor die mate van fiksheid nodig vir swem, fietsry en hardloop. Dit was die geboorte van die eerste Ystermanresies wat op 18 Februarie 1978 in Hawaii gehou is. Vandag word daar in Australië, Kanada, die VS, VK, Japan, Kanarie-eilande, Europa en natuurlik ons eie Suid-Afrika kwalifiserende resiese vir die węreldbyeenkoms in Hawaii gehou. Raynard Tissink van Port Elizabeth spog met 5 van dié titels agter sy naam en word geag een van die top 10 ystermanne ter węreld te wees. Hy het pas in Januarie vanjaar SA se Oos-Londen se halfysterman-kompetisie gewen.
Die Ysterman is die moeilikste driekamp-kompetisie ter węreld en bestaan uit 3,8 km swem. 180 km fietsry en 42,2 km draf. Dit is basies twee keer so lank soos die Midmarmyl, twee keer so lank soos die Argus en dan nog die hardloop – alles agtermekaar. Volgens hom behoort atlete vir die fietsrydeel sowat 120 km op een slag en 300 km per week as te lę. Hy ry weekliks gemiddeld tussen 600 en 700 km omdat dit sy doel is om ʼn Ystermankompetisie op elke kontinent en natuurlik ook die węreldkampioenskappe te wen.
Volgens Raynard is dit beter om in al drie dissiplines goed te doen, maar hy meen as jy net in een wil uitstyg, is dit beslis goed om die fietsry-een met mening aan te pak.
Hy het al aan 18 Ystermankompetisies deelgeneem. Met sy eerste Węreldkampioenskap in 2004, het hy die heel eerste Suid-Afrikaner geword om onder die top 10 te eindig. Hy sę die oefendeel is die heel moeilikste en dat die kompetisie ʼn lekker einde op harde oefening is.
Raynard is van 2003 tot 6 aangewys as Suid-Afrika se Driekampatleet van die jaar. Hy meen die 3,8 km Ysterman-swemdeel in die see, is vir atlete intimiderend omdat oefening hoofsaaklik in ʼn swembad geskied.
Wat die swemoefen betref, is sy wenke aan voornemende deelnemers om by ʼn groep aan te sluit. Kry ʼn afrigter as julle kan en swem minstens eenmaal per week in die see as jy daar woon. Mede-atlete kom ook nuttig te pas as jy leer om in die volgstroom van die persoon voor jou te swem. Bly by sy voete, maar wees versigtig dat jy nie in die gesig geskop word nie.
Hy swem sowat vyf dae ʼn week vyf kilometer op ʼn dag wat dit 25 km per week maak. Daarop meen Paul dat hy heelwat meer as dit LANGS die swembad deurbring!
Voor ʼn wedloop is dit pasta en baie daarvan. Spaghetti bolognaise werk goed omdat hy meen hy ook ʼn bietjie proteďen by die koolhidrate nodig het. Vir die bietjie meer as 8 uur wat die resies duur, sorg hy dat hy nie dehidreer nie en neem ook soutpille.
Hy sę hy het van skooltyd aan langer afstande soos die 3000 meter deelgeneem en dat driekamp ʼn logiese uitvloeisel daarvan is. Dis nog net die Suid-Amerikaanse, Australasiese en węreldtitels wat hom ontwyk, en Paul wou bietjie help en het vir hulle ʼn mini-blikmankompetisie uitgewerk. Dit het behels dat hulle vier naelope, 20 opstote en 200 meter in die see swem. Dit het alles goed gegaan – kop-aan-kop, nogal – totdat Raynard in die see ingeduik het en Paul besluit het dis genoeg en omgedraai het!
As jy Raynard in aksie wil sien - die volgende Ystermankompetisie waaraan hy deelneem is op 13 April in sy tuisdorp, Port Elizabeth. Hy het dié een al een keer gewen en beplan om vanjaar weer so te maak! Daarna is dit in Julie Duitsland toe en in Desember Australië.
PASELLA Sę DANKIE AAN:
Apron Springs Gastehuis
Nanette Bird
Tel: 041 336 1217
Raynard Tissink en familie