



Die Ysterplaatlugmagbasis naby Kaapstad was vanaf 1929 ʼn burgerlike vliegveld, maar is tydens die tweede wêreldoorlog (in 1941) in ʼn lugmagbasis omskep. Gasaanbieder, Marcel Pretorius, is ʼn ou hand in die vermaaklikheidswêreld – hy was die aanbieder van Hip2b2 op SABC2 en is ook oëverblindery kulkunstenaar, danser en ʼn hele paar ander dinge.
Dié basis spog met die SA Lugmagmuseum en ʼn planetarium. Dit is ook die plek waar die Kaapse arm van die Internasionale Plastiekmodelvereniging militêre en siviele vliegtuie bou. Dié spesifieke klub het 35 lede en daar is nog takke landwyd.
Die manne beduie die hele proses vir Marcel, vandat jy die onderdele aankoop tot en met die spuitverfproses en die opplak van tekens. Dit blyk duidelik dat dit ʼn terapeutiese kuns is wat baie toewyding en geduld verg.
Chris het ook vir Marcel die museum gaan wys. Dit is ʼn satelliettak van die Swartkop museum in Pretoria wat in 1973 gestig is. Hier is 15 vliegtuie van tussen 1942 tot 1976 en natuurlik lugmagtoebehore soos uniforms en medaljes. Hulle spog ook met sowat 300 modelvliegtuigies wat plaaslik die grootste versameling is. Die modelle wissel in jaartal van 1920 tot nou.
Marcel het probeer om ʼn maklike een te begin, maar sommer gou oorgegee en van sy kulkunsies daarop toegepas!
Daar is 65 kategorieë waarin jy jou kan verloor in dié stokperdjie. Dit bestaan uit soorte vliegtuie of voertuie wat dan weer onderverdeel word in skale. Entoesiaste neem aan nasionale én internasionale kompetisies deel met hul modelle.
Gaan loer gerus op hul webtuiste as jy belangstel of maak ʼn draai by die Ysterplaatlugmagbasis om na hul delikate, uitmuntende handewerk te gaan kyk. Dis een manier om te vlieg sonder om ooit die grond te verlaat!
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Marcel Pretorius
IPMS Kaapse Skiereiland Klub
Marc Cilliers
Sel:
0834449471
Webblad: www.ipmssa.za.org
Ysterplaat Museum
Tel: 021 508 6576