




Gian Groen is een van ʼn paar liedjieskrywers in Suid-Afrika wat groot respek by mede-musikante afdwing. Sy bekendheid het gekom met liedjies soos Vier Seisoene Kind, Tiger en Louise en Rooiwyn en Candlelight.
Hy het gevra dat Cindy hom by ʼn kerk ontmoet. Die rede is dat hy by die Elgin Round Table betrokke is en dat hulle gereeld besig is om fondse in te samel om die gemeenskap te help. Die kerkie se vloer is deur hulle gedoen.
Vandaar af stap hulle na sy huis waar hy vir Cindy wys waar hy skryf. Hy sê om liedjies te skryf beteken nie noodwendig die liriek kom eerste of dalk die musiek nie. Dit hang maar af hoe dit gebeur. Soms is daar ʼn frase in sy kop wat hy dan verwerk en daarna die musiek skryf. ʼn Ander keer is dit ʼn deuntjie wat hom inspireer tot woorde.
Hy het aanvanklik in 1999 met die groep Spinnekop begin. Hulle het twee CD’s uitgegee waarna die Gian Groen Band in die lewe geroep is. Hul nuwe CD, Welkom in Somersburg, is sy vyfde. Dit het vroeër vanjaar die musiekrakke in goeie ritme voller gemaak.
As hoogtepunt in sy loopbaan wys hy uit dat dit die dag was toe Laurika Rauch hom gebel het en gevra het of sy Vier Seisoene Kind kon opneem. Hy sê die realiteit het eers ingeskop toe hy by ʼn vertoning van haar was en sy vir die gehoor gesê het sy gaan ʼn liedjie van die talentvolle skrywer, Gian Groen sing. Dit was ʼn draaipunt in sy lewe toe hy besef dat hy werklik ʼn liedjieskrywer is!
Sy vrou, Letitia, is ʼn skoonheidsterapeut en dié twee het ʼn jaar gelede die grondjie hier gekoop. Daarop het hulle hul droomhuis gebou wat aangehelp is deur Gian se aktiewe belangstelling in argitektuur.
Hy het na skool glo sy hand aan hoenderboerdery gewaag, maar besluit hy is eerder geroep om musiek te maak. Sy eerste plastiekkitaartjie het hy op tweejarige ouderdom gekry, maar darem op elf sy pa se kitaar begin speel. Hy sê sy pa was baie lief om Charles Jacobi op die kitaar te speel en sy ma het graag agter die Hammond-orrel ingeskuif en op die platespeler net Elvis tunes gespeel. Sy pa het hom drie akkoorde geleer, D, G en A en sommer gou kon hy Suikerbossie speel.
Hulle stap graag in ʼn bosbouplantasie digby Grabouw. Dié plattelander is in Stellenbosch gebore en het ʼn ruk op Nababeep gebly. G’n wonder hy meen ʼn klein dorpie soos dié is sy sielskos nie!
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Gian Groen
Webblad: www.giangroen.co.za