TUIS
Lesotho – ski-koninkryk

Lesotho is die enigste land ter wêreld wat in sy geheel meer as ʼn kilometer bo seespieël lê. Dis by hierdie ‘dak van Afrika’ waar jy die 500 hektaar grond van die Afri-Ski Leisure Kingdom kry. Die ski-helling is een kilometer lank en hulle beskik oor al die nodige toerusting. Dit is net 5 ure vanaf Jozi met ʼn hele paar lodges en selfsorgeenhede waar jy kan tuisgaan.

Gewoonlik sneeu dit so drie maal per jaar van Mei tot Augustus, maar, sê Wessel Bosman, as daar nie genoeg sneeu is nie, maak hulle sneeu met masjiene. Hulle het pompe wat water teen hoë druk uitspuit. Met die uitspuit vries die water. In droë lug begin hulle by 2 en ʼn half grade Celcius en in natter lug, maak hulle goeie sneeu by so 4, 5 grade Celcius. Jou ski-ervaring is dus gewaarborg!

Voordat Cindy haar vaardighede beproef, verken sy eers die area hier in die Maluti’s. Sy begin by die historiese Liphofung grot waarvan die naam, plek van die eland, beteken. Dit is eintlik ʼn rivierkloof met ʼn groot sandsteen oorhang. Gids Mohau Tséleli vertel dat dit eers as skuiling van die San-mense gedien het. Later, hier in die vroeë 1800’s is dit deur die Basotho’s gebruik. Koning Moshoeshoe het dit ook as akkommodasie gebruik wanneer hy dié deel van sy koninkryk besoek het.

Die grot het pragtige rotstekeninge uit die San-tydperk wat behoue gebly het. Daar is ook klipformasies waar die Basotho’s kos gemaak en geslaap het.

Besoek ook gerus die kultuur-village waar huisies in eg tradisionele styl jou begroet. Gids Bolae Ramonotsi vertel dat die huise in twee kleure modder afgewerk is om die saamwoon van swart en wit te simboliseer. Die patrone op die mure is simbolies van die mielielande net voor oestyd. Mielies word met klip gemaal en as stapelvoedsel gebruik. Die dis wat vir Cindy voorberei is, word van sorghum en natuurlike gis gemaak en is tradisionele Motoho of te wel, sagte pap. Dit word dikwels met mieliepap gemeng vir ʼn meer substansiële ete.

Cindy se volgende stop is die hoogste diamantmyn ter wêreld (3200 m), die Letseng myn. Jan Venter vertel dat die diamante sowat 140 km in die grond, net onderkant die aardkors is. Hoewel hulle die laagste herwinbare graad in die wêreld het, naamlik 2 karaat op ʼn 100 ton, is hulle inkomste 22 maal per karaat meer as dié van die gemiddelde myn in die wêreld omdat hul diamante van die hoogste kwaliteit is. Hulle het geel, bruin en donker diamante, maar die meeste is wit. In 2006 het hulle die bekende 603 karaat diamant, die Lesotho promise, hier ontgin.

Terug by die Afri-Ski Leisure Kingdom het Cindy besluit dis uiteindelik tyd om die sneeuhellings aan te durf en het sy die nodige uitrusting gekry.

Die ski-seisoen hier is van Junie tot Augustus en ja, gelukkig is daar ʼn skool waar ervare afrigters jou sommer gou touwys maak.

Volgens ski-afrigter Charles Mositoane is dit ʼn groen helling wat ʼn beginners een is. Oorsee is daar vier wat wissel in moeilikheidsgraad – die swart is die heel moeilikste en net vir diegene wat al weet hoe om op ski’s regop te bly. Die moeilikste is glo om jou gewig en balans te volle te verskuif van ski na ski en jou liggaamsposisie reg te kry en te hou.

Probeer hulle gerus vir ʼn ski-ervaring uit die boeke. Maar, onthou, jy sal moet vinnig bespreek want daar is ook net soveel plek vir ons almal!

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Afri-Ski
Tel: 0861 754 754
E-pos: info@afriski.net
Webblad: www.afriski.com

Liphofung Grot
Tel: +266 2246 0723

Mamohase Tradisionele B&B
Tel: +266 6322 1978

Letseng Diamantmyn
Tel: +266 2222 1000
E-pos: info@letseng.co.ls
Webblad: www.letsengdiamonds.co.ls





Kliek hier om ons kookboek te bestel