TUIS
Radio Sonder Grense se goue stem

Dis al 24 jaar vandat hy die eerste keer agter die mikrofoon ingeskuif het. Op Radio Sonder Grense bied hy daagliks Oggend op RSG, Bon Voyage wat Saterdae uitgesaai word en ook op Dinsdae Ons en die Ekonomie aan.

Charlene het hom in die SABC ateljees in Seepunt gekry waar hy besig was met sy 9 tot 11 oggendprogram. Volgens hom word hy nog elke oggend met ʼn tinteling wakker, opgewonde oor die werk wat wag. Hy meen sy werk is die ideale plek waar hy sy liefde vir sowel drama as sport kon uitleef en dat hy dit nie sou gemaak het as hy tussen dié twee moes kies nie.

Hy doen ook teater-regie en maak dokumentêre programme vir radio, waarvoor hy vir albei al vele toekennings ingepalm het. Die afgelope jaar, bied Martelize Brink saam met hom Oggend op RSG aan. Sy meen Johan is ʼn maklike medewerker omdat hy ʼn sin vir humor het, professioneel is en ook ʼn goeie algemene kennis het waarmee hy luisteraars vermaak.

Johan sê dis stemme van mense soos Gerhard Viviers en Heinrich Marnitz wat sy droom om sportkommentator te word, laat ontvlam het. In die vroeë 1980’s het hy op radio en televisie meer as 30 sportsoorte uitgesaai, waarna hy radio as medium aangeneem het. Die kamera volg hom na die rugbywedstryd tussen Suid-Afrika en Italië. Daar neem hy plaas met ʼn boekie vol voorbereiding wat spanne, speelpatrone en veel meer betref.

Hoogtepunte was ʼn kragmeting teen Ierland waar Suid-Afrika met afrigter Nick Mallet hul 17de agtereenvolgende toetsoorwinning behaal het. Hy onthou ook ʼn kriekettoer na die Wes Indiese Eilande in 1992 waar ʼn jong Hansie Cronjé begin skitter het.

Ons loop vir omroeper, Pieter Tabile van Motsweding FM raak en hy lig ons in dat Johan nie net ʼn uitstekende rugbykommentator is nie, maar ook ongelooflike lekker kos kan maak.

Charlene is intussen na sy huis toe en hy sluit by haar aan.

Hy en sy gesin woon in Durbanville. Vroulief Marianne is ʼn mediese dokter en hulle het vier dogters. Die oudste, Maria, is eerste jaar BA-student en mal oor musiek. Janet is in graad 11, Marianne in graad 9 en Elizabeth in graad 7. Die drie jongstes is WP-gimnaste en almal was ballerinas soos hul ma.

Hulle reken hul pa ondersteun hulle in alles wat hulle doen en sê dat besluit in hulle huis altyd saam geneem word. Volgens hulle het Johan ʼn besondere sin vir humor en ons kom dit agter wanneer hy spot dat hy sy dogters hondeskool toe gaan stuur sodat hulle altyd dadelik sal reageer op sy instruksies soos, stil, sit en maak so!

Volgens sy vriend Randall Wicomb beïndruk hy so as mens en pa dat Johan ook die peetpa van sy dogter is.

Buite sy radiowerk, het hy onder andere ook die regie behartig van die gewilde verhoogproduksie, Griekwa-psalms waarmee Randall Wicomb sedert 2000 mense se harte gesteel het. Johan is gek oor poësie en musiek en kuier dikwels saam met vriende en familie om kospotte waar hulle dan sing en gedigte voorlees.

Luister na sy radioprogramme of geniet hom as hy rugby uitsaai. Hoe ook al, jy sal dadelik sy goue stem herken wanneer jy dit hoor!

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Johan Rademan en familie
E-pos: rademan@rsg.co.za





Kliek hier om ons kookboek te bestel