





Die naam Singapoer beteken ‘Leeustad’. ʼn Prins het glo ʼn dier hier sien hardloop wat hy verkeerdelik as leeu aangesien het. Maar, ons het nie na diere kom soek nie, wel Suid-Afrikaners. Paul kuier eerste by Pieter en Liezel le Roux wat al węreldwyd gewerk het en anderhalfjaar hier is.
Volgens Pieter is die grootste aanpassing daar om aan die klein huisies en byna geen tuin nie, gewoond te raak. Hulle is gelukkig genoeg om in ʼn huis te woon, maar die meeste Singapoerese woon in woonstelle. Die paartjie het drie dogtertjies wat goed ingerig in ʼn speelkamer speel omdat dit so warm is buite en die tuintjies omtrent nie bestaan nie.
Liezel sę sy geniet die vele rysprodukte wat jy daar kry. Van rysbeskuitjies, versnaperinge tot rysnoedels. Sy is ook gek na die Singapoer nasionale blom, die orgidee, wat lekker goedkoop oral te koop is.
Singapoer is bekend as koopstad en shoppers gooi graag ʼn draai by die Chinatown Kompleks. Paul het Helene van der Berg daar ontmoet. Hierdie marathon-atleet wat in 1995 tweede in die Comrades geëindig het, se man, Koos, het ʼn wonderlike werksgeleentheid hier gekry. Sy rig tennis af en meen dat die vrouens wat nie werk nie gewoonlik die moeilikste aanpas omdat hulle met niemand op ʼn daaglikse basis in aanraking kom nie. Sy meen jy moet of by ʼn kerkgroep of ʼn sportgroep inskakel om so vir jou ʼn ondersteuningstelsel op te bou.
Hulle loop verby vreemde eiertjies wat in ʼn vloeistof ronddryf en Paul vra of sy daarvan wil eet. Sy lag en bedank dit baie beleefd! Dié eiers is ʼn gewilde Chinese straatkos wat in ʼn mengsel van tee, sojasous en speserye gekook word. Paul het intussen gegroet en Anina Boshoff gaan ontmoet. Sy werk vir ʼn Londense firma wat 29 kantore węreldwyd het.
Sy sę die wonder van Singapoer is die ongelooflike dankbaarheid wat mense het om te kan werk. Hulle trek ook vreeslik netjies werk toe aan as ʼn vorm van respek teenoor mekaar.
Met die dat daar op die 707,1 vierkante kilometer eiland amper 5 miljoen mense woon, is dit dig bebou en besig. Juis waarom Anina graag ontvlug na die noordoostelike Pulau Ubin. Die eilandjie is net 10,19 vierkante kilometer groot en die laaste stukkie platteland in dié stadstaat. Dit was aanvanklik ʼn landbouparadys en toe ʼn groot granietgroef. Vandag woon hier sowat 100 mense wat hoofsaaklik die besige toeristebedryf bedien.
Sy wys hom ʼn ‘kampung’ wat maar lyk soos ons ʼn kampong ken en noem dat hulle ook blatjang eet en dit so noem. Nog ʼn voorbeeld is ‘piesang’ – die vrug is oorspronklik van suid-oos-Asië en die naam het waarskynlik saam met die produk in Afrika geland. Die natuurlike plantegroei op die eiland is ʼn aanduiding van hoe dit eens in Singapoer gelyk het.
Maar, waar begin jy as jy hier land? Jy soek na die SA Proteagroep Singapoer wat die eerste Vrydagaand van elke maand by dié kroeg byeenkom. Hulle is geregistreer omdat die Singapoer wette dit vereis indien meer as 3 mense formeel vergader. Die groep probeer ʼn tuiste te skep vir Suid-Afrikaners wat hier bly en lede word gereeld genooi vir ʼn egte boereworsbraai of feeste soos net ons dit kan hou. Die vereniging se president Janette van Rooyen en haar man het eers in Europa gebly met hul twee Suid-Afrikaanse honde, maar nou het Singapoer hul tuiste geword.
Party raak ingeburger en geborge en bly, maar ander, soos Anina, sę sy kom terug. Sy meen dis juis voorspelbaarheid en gemak wat jou later laat terugverlang na Afrika en sy eiesoortige en onvoorspelbare probleme.
Speel ʼn bietjie oor ons land se grense en gaan geniet die kulture van ander lande en hul mense. ʼn Vakansie of ʼn paar jaar in ʼn vreemde land is soms net wat ʼn mens nodig het om jou horison ʼn bietjie te verbreed en weer met nuwe oë na jou eie te kyk.
Pasella bedank graag Singapoer Lugredery & Toerisme vir ons vlug soontoe en ons gesellige kuier in hul pragtige land.
PASELLA Sę DANKIE AAN:
Singapoer Lugredery
Tel: 021 674 0601
E:pos: za_feedback@singaporeair.com.sg
Webblad: singaporeair.co.za
Singapoer Toerisme
Tel: +971 4335 3770
E-pos: jason_ong@stb.gov.sg
Webblad: www.visitsingapore.com
Die Protea-groep Singepoer
Janette van Rooyen
E-pos: proteasg@gmail.com
Webblad: www.proteasingapore.com