TUIS
Eg Suid-Afrikaanse wêreldkos

Ja-nee, as dit van Suid-Afrikane afhang, eet ons heeldag en in oorvloed! Vandag kuier ons by die Kaapstadse Hotelskool wat by die V&A Waterfront geleë is en maak saam met hulle kos wat ʼn eg Suid-Afrikaanse draai het.

Beskikbare bestanddele is juis glo een van die hoekstene waaruit ʼn land se kossiel ontwikkel. Dit natuurlik gepaard met invloede van buite.

Mariëtte Hattingh is eerste aan die beurt en sy maak ʼn peppadew- of te wel piquantérissieblatjang. Sy bedien dit saam met ʼn romerige bloukaassouffle. Piquanté rissies met sy effense byt, is volgens koskenners die ontdekking van die eerste ware vrug nadat Kiwi’s 26 jaar gelede bekend geword het. Dit is deur ʼn boer in die Oos-kaap in sy tuin raakgeproe.

Debbie Fritz is volgende aan die beurt met iets ligs waaraan ʼn mens enige tyd van die dag of aand kan smul. Sy maak ʼn snoekmousse en maan dat ʼn mens fyn moet kyk om al die grate uit die vis te kry voordat jy dit vlok. As dit gemeng is met room, sout en peper, dhanja, gelatien en uie, gooi sy dit in ʼn broodpan en sit dit oornag in die yskas om te set. Binne-in die broodpan is ʼn stukkie plastiek sodat dit maklik uitgehaal en oopgemaak kan word. Dit word bedien op vars slaaiblare, roket en kersietamaties wat met balsamiekasyn bedruip is.

Volgende aan die beurt is Morne Sauls en hy is reg om pale toe te mik met ʼn Springbokrak wat hy met ʼn kruiekors braai. Die kruiekors bestaan uit witbroodkrummels, basiliekruid, tiemie, pietersielie, kruisement, gekneusde knoffel, sout, peper en olyfolie.

Daarmee saam bedien hy ʼn botterskorsie-tatin en geroosterde groente wat met ʼn port jus afgerond word. Tradisioneel is tatin gekaramelliseerde appels of ander vrugte wat onder ʼn pasteideksel gebak word en dan onderstebo bedien word.

Die nagereg is ʼn Amarula-gegeurde bavarois. Bavarois is ʼn tipiese Franse gereg wat van gelatien en room gemaak is. Die Amarula gee hom natuurlik ʼn meer Suid-Afrikaanse smaak.

Die Maroelaboom kom in die Bosveld voor en as dié vruggie ryp is bevat hy glo 8 keer soveel vitamin C as ʼn lemoen. Migrerende stamme het vroeërjare dikwels daarop oorleef.

Saam met die bavarois, bedien hulle ʼn malvapoeding. Met sy appelkooskonfyt smaak, is dit sekerlik een van ons bekendste nageregte. Kyk in jou Pasella Kook 1 as jy nog nie ʼn behoorlike resep vir dié een het nie.

Na hierdie heerlike kooksessie, besluit Minki dat net kos alleen genoeg is om jou in Suid-Afrika te laat bly. En, wie’s ons nou om te stry?

Kliek hier vir resepte.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Cape Town Hotel School
Tel: 021 440 5700
E-pos: restaurantfunctions@cput.ac.za
Webblad: www.cput.co.za





Kliek hier om ons kookboek te bestel