TUIS
'n Leeu van 'n partytjie

Die Drakenstein Leeupark is ʼn privaat befondsde fasiliteit. Die bou daarvan het in Mei 1998 begin en die eerste leeus is ingebring toe die park in April 1999 sy deure vir die publiek oopgestel het. Die doel van die park is om leeus wat in gevangenskap gebore word en geen kans op rehabilitasie het nie, hier van gehalte ‘verblyf’ te voorsien.

Digby die leeukamp, het die dames van Crazy Chameleon die tafel gedek. Hulle droom het so vier jaar gelede waar geword toe daar besluit is om ʼn bietjie meer as die gewone moeite vir ʼn kinderpartytjie te doen. Vandag is hulle meer as 60 franchises sterk en hou partytjies tot in Namibië.

ʼn Paar verveelde leeukyke het hulle net aangespoor tot meer! Die stoeltjies is almal met oranje, geel en groen materiaal oorgetrek om by die safari-tema te pas. Elkeen het ook ʼn paar leeuspore opgekry. Dit is gemaak van wit papier wat met swart bedruk is. Op die tafel is safari-hoede, verkykers en kompasse vir ʼn speletjie waar die kinders later na diere moet soek. Daar is ook pragtige goiingsakkies gemaak wat met raffia toegebind is. Die stokkie daaraan het plastiekmiertjies op om te wys dat daar lekker soetgoed binne is. Elkeen het ook ʼn botteltjie water gekry met ʼn leeukoor en sy naam op as plekaanwysing. Die verjaardagmaatjie se naam is met takke en tou aanmekaar gesit en in graspolle op die tafel staangemaak. Vir koelte is daar bo-oor die tafel ʼn gazebo opgeslaan wat verfraai is met goiing en rankplante vir ʼn egte bosgevoel.

Maar, voor die kinders kan geniet, moet hulle eers hier kom. Dus word daar leeuvoetspore as aanwysers gemaak sodat niemand die pad byster raak nie. Sy sny spore uit veltmateriaal en plak dit op karton. Dit word aan ʼn sosatiestokkie vasgeplak en oral langs die pad ingesteek om die roete aan te dui.

Volgende aan die beurt is ʼn demonstrasie van ʼn driedimensionele kaartjie. Die uitnodiging is binne gedruk met twee groen graspolle voorop. Vier ogies word voor-op geplak en ʼn ekstra graspolletjie uit ander papier gesny word met spieëlband tussen-in geplak om hom effens te lig.

Hierna word ʼn leeuprentjie uit ʼn boek gesny. Dit word met ʼn stukkie kartonnetjie vasgeplak op die kaartjie sodat die leeu soort van los staan van die kaartjie. Nog twee graspolletjies kom agter die maanhaar. Hy word dan in die middel gebou om saam met die kaartjie te kan toevou.

Behalwe die verjaardagkoek en ander eetgoed, is daar kolwyntjies gebak wat versier word. Lindie van Zyl wys hoe. Sy maak grasgroen versiersuiker aan wat sy dan deur ʼn knoffeldrukke druk om gras te maak. Dit kom heel eerste op die kolwyntjies. Hierna rol sy ʼn oranje bolletjie vir die gesig en sit bruin maanhare vas met suikerwater (weer deur die knoffeldrukker gedruk). Dan volg twee swart ogies met wit bo-op, ʼn oranje neus, ʼn swart snor en twee wit wange waarop gaatjies met ʼn tandestokkie gedruk is - ʼn egte leeubaardgevoel. Sy wys ook hoe om biltongdiertjies van wit brood te maak. Kliek hier vir resepte.

Maar, hier gaan nog heeltemal te veel mense wees en daarom maak ons ook ʼn masker. Hiervoor word twee papierborde en kreukelpapier gebruik. Franzette Kohn wys ons hoe. Sy verf die agterkant van een papier met bruin verf. Die ander een trek sy ʼn maskergesig op en verf bo-oor dit in bruin. Hierna begin die sny en plakwerk om uiteindelik ʼn lieflike masker vir elke kind te vorm. Kliek hier vir vir stap-vir-stap-aanwysings.

Let wel dat dit wel op een bord gedoen kan word, maar dan staan die gesig nie so mooi uit nie en is dit nie so stewig nie. Twee borde verf ook vinniger omdat jy nie hoef te wag dat een deel droog word nie.

ʼn Koukiepen kleur die neus se onderkant in, omlyn die gesig en teken kriewelende snorbaarde in. Hierna word ʼn dun rekkie met ʼn krambinder vasgesit sodat klein mensgesiggies maklik in leeukonings kan verander.

Laastens sê Monica McGregor dat daar nog ʼn plan is vir ander geskenkpakkies. Sy gebruik ʼn silwer reghoekige blik waarop sy oranje- en geel papier plak. Heel bo kom goiing waarop die kind se naam in houtletters geplak en met kraletjies versier word. ʼn Spoormotief-geskenkpapierstrook kom reg rondom om dit af te rond. Binne-in word ʼn pakkie biltong, sosaties en lekkertjies gesit.

Uiteindelik was dit tyd vir die partytjie om te begin en die kinders het opgewonde nader gestaan.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Drakenstein Leeupark
Paul Hart
Tel:021 863 3290
E-pos: info@lionrescue.org.za
Webblad:www.lionrescue.org.za

Crazy Chameleon
Rene van der Merwe
Tel:012 653 8519
Webblad: www.crazychameleon.co.za





Kliek hier om ons kookboek te bestel