







Paul durf die Howick Waterval in KwaZulu-Natal aan, Cindy die stikdonkerte van die Wondergrot naby Krugersdorp en Charlene die berg van alle Tafels!
Charlene is eerste aan die beurt. Haar val by Tafelberg is ʼn hele 112 meter en jy kan enige dag van die week hier afgaan – al wat jy moet doen, is opdaag! Haar toureis na onder word gefasiliteer deur Abseil Africa wat meen hierdie is die wêreld se hoogste kommersiële abseil. Vir hulle is veiligheid uiteraard die heel belangrikste en daarom word toue en harnasse daagliks nagegaan. Bernard Lombard wys Charlene hoe. Hy meen enigeen kan hier afgaan en hulle het al van 6-jariges tot 80-jariges gehelp. Selfs ʼn blinde persoon het al kom voel hoe dit is. Ons sou dink dat dit darem die bangheid effens verminder as jy weet dat Bernard die Suid-Afrikaanse rotsklimkampioen van 1996 was.
Charlene is aanvanklik vrek bang, maar namate die harnas haar gewig vang en vashou geniet sy die val tot onder. Die uitsig is ongelooflik en volgens haar beslis iets wat ʼn mens een maal in jou lewe moet probeer.
Van ver bo die grond, tot diep in sy interessante maag. Cindy se leeuemoed het haar uitgedaag om in die donker dieptes van die Wondergrot rond te hang. Dit is in die Wieg van die Mensdom – ʼn UNESCO wêrelderfenisgebied - en is daagliks oop vir toere. So, as jou moed jou nie begewe nie, kan jy ook dié 18 meter afseil tot onder in ʼn grot die grootte van ʼn rugbyveld.
Dink jou in hoe daar aanvanklik hier in die donker grotte gemyn is – nogal onwettig ook. Dié ouens kon nie eers lanterns gebruik nie, omdat die suurstof te min was vir asemhaal én lig maak.
Noleen Rorke van Mobile Adventures het Cindy met die abseiling gehelp. Onder het sy vir gids Max Els ontmoet. Sy vertel dat die grot tussen 5 en 10 miljoen jaar oud is en die rotsformasies 2.4 biljoen jaar oud. Dit is deur Italianers in 1898 ontdek en hulle het onwettig leem hier gemyn totdat die Anglo-boere-oorlog die aktiwiteite in 1902 tot stilstand gebring het.
Dit is in die 1970’s deur ʼn boer en sy seun herontdek. Hulle het bosse verwyder en gehoor hoe die klippe wat ondertoe val eggo. By nadere ondersoek het hulle weer die grotte ontdek.
Sy wys ook vir Cindy die pragtige Madonna stalagmiet en sê dat hoewel stalagtiete en –miete oor miljoene jare gevorm word, dit met een aanraking van die mens in sekondes vernietig kan word.
Wat die abseil betref, sê Cindy, jy sien aanvanklik min, maar as jou oë die donker gewoond raak, word die wonders van die grot duideliker.
Maar, jy hoef nie tot onder te abseil tensy jy wil nie, daar is ook ʼn hyser...
As jy in ag neem dat dié grot maar een van die sowat 200 grotte is wat tot dusver in die erfenisgebied ontdek is, besef jy hoe ongelooflik dit is.
Charlene en Cindy het oorleef en Paul was volgende aan die beurt. Hy het, soos ons beloof het, gaan kyk hoe Suid-Afrika se tweede hoogste waterval, die Howick Valle van nader lyk. Dit is glo ook die enigste abseil-ervaring waar jy binne-in ʼn krokodil opeindig...wel, ons sal maar moet wag en sien!
Hierdie 107 meter, hoe veilig ook al, is beslis nie vir diegene onder ons met hoogtevrees nie!
Gids Siyabonga Ngonco vertel ook dat mense glo daar bly ʼn soort van Lochness Monster onder in die water. Sommige mense probeer glo selfs om dit te voer...
Abseil as sport se geskiedenis begin reeds in 1876 in Frankryk en is vandag wêreldwyd baie gewild. Die naam, abseil, is ook van Franse afkoms. Maar, nou vir die krokodil...gelukkig is dit toe maar net die naam van ʼn opblaasboot waarmee jy veilig kant toe geroei word. Van hier af kan jy ook ʼn staproete deur ʼn inheemse woud onderneem waar ʼn paar kroonarende broei.
Wel, nou weet ons vir seker dat ons aanbieders aan leeuemoed beslis nie tekort skiet nie. Wonder wat ons volgende kan uitdink om hulle wakker te hou?
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Abseil Africa
Tel: 021 424 4760
E-pos: info@abseilafrica.co.za
Webblad: www.abseilafrica.co.za
Mobile Adventures
Tel: 083 969 9083
E-pos: markgray@absamail.co.za
Over the Top Adventures
Tel: 082 736 3651
E-pos: info@overthetop.co.za
Webblad: www.overthetop.co.za
Wondergrotte
Tim Smith
Tel:082 453 7056