





Ons ken Denise Newman uit Onder Engele, Erfsondes, Generations, Isidingo, Fishy Feshuns, 7 de laan en vele ander. Sy repeteer tans aan die Athol Fugard-stuk, ‘Daar leef mense daar’. Dit word beskou as een van dié beste dramas in die suidelike halfrond en het vanjaar groot aftrek by die Suidoosterfees gekry. Denise vertolk die rol van Millie.
Volgens haar geniet sy dié rol omdat die vrou op haar ouderdomsvlak is. Sy voel ʼn sterk ooreenkoms tussen haar en Millie – ʼn sterk, maar hartseer vrou. Op ʼn vraag waarom sy altyd sterk vrouens speel, meen sy dat dit is omdat sy in die vrou se karakter inklim en haar indink presies hoe die vrou se emosies en gevoelens oor haar lewe haar beïnvloed.
Mede-akteur Johann Nel is pas vereer met ʼn Fleur de Cap-toekenning as beste byspeler in die Afrikaans vertaling van die Deense, Festen. Volgens hom is Denise ʼn vrou met styl, passie en warmte en is dit vir hom ʼn voorreg om saam met haar te speel.
Die stuk met sy outobiografiese inslag, werk in tipiese Fugard-styl met menslike uithouvermoë in teëspoed en die noodsaak van helende hoop en humor in ʼn uitsiglose bestaan.
Regisseur Juanita Swanepoel is ʼn bekroonde regisseur wat reeds in 2003 ʼn Kanna-toekenning vir spelleiding ontvang. Haar keuse het op Denise geval omdat sy meen Denise het al ʼn pad met die lewe geloop en kon dus Millie se omstandighede goed verstaan. Sy sien haar as talentvol, hardwerkend en ʼn wonderlike mens om mee saam te werk.
Pedro het gereël om Denise vir die dag met ʼn motorfiets van Cape Sidecar Adventures rond te ry.
Hy wou by haar weet waar haar gunsteling piekniekplek in die Kaap is en sy het hom dadelik in die rigting van Seinheuwel beduie. Hier, sê sy, inspireer die ongelooflike uitsig en stilte haar. Denise se filmloopbaan het in 1980 begin toe sy in Nadime Gordimer’s se, City Lovers, gespeel het. Sy was ook te sien in die film, Forgiveness wat in 2004 uitgereik is en sowel plaaslik as internasionaal bekroon is.
Denise behoort aan die sterreteken, Leeu. Sy beskryf haarself as mens-gefokus en daarom is van haar lekkerste herinneringe aan mense saam met wie sy gewerk het. Hieronder noem sy dramaturg Athol Fugard, regisseur Larafoot Newton, Marius Weyers en Pieter-Dirk Uys. Sy verdra nie onmenslikheid en oneerlikheid nie en sukkel met die verskynsel dat arm mense dikwels arm bly. ʼn Keerpunt in haar lewe het gekom in 1985 toe 13 polisiemanne in Thorntonstraat, Athlone op betogende jongmense geskiet en drie gedood het. Sy het Pedro na die Trojan Horse gedenksteen geneem. Dit is op 24 September 2005 heropen is vir dié drie jongmense en ander wat in die ‘struggle’ dood is. Sy het van ʼn repetisie af daar verby gery en gestop om uit te vind wat aangaan. Dié ervaring het haar geleer om haar eie kinders te waardeer en elke dag dankbaar te wees oor die tyd wat jy met geliefdes kan deurbring.
As verrassing het Pedro met haar dogters gekonkel. Hulle dogters het gereël dat almal by Elements on Kloof ʼn heerlike handbehandeling kry.
Denise se naam beteken glo saggeaard, rustig en bekwaam in Grieks. Ons het ook uitgevind dat sy gek is oor fliek en graag boeke lees wat te make het met mense in ander kulture se swaarkry. Haar dogters is twee jaar uitmekaar uit op dieselfde dag, 31 Oktober, gebore. Simone is 23 en Dominique 25. Dominique volg in ma se voetspore en werk as produksiebestuurder in die TV/filmbedryf terwyl Simone geld bymekaar maak vir ʼn jaar se reis.
Op Pedro se vraag of hulle ma dominant is, antwoord hulle soms en sê sy is miskien nie meer so spontaan soos toe sy jonger was nie. Hulle is albei eens dat sy beslis kreatief en ʼn wonderlike ma is.
Ons stem. En om bietjie meer van dié sterk vrou te ervaar, kyk uit vir die opvolgreeks van Erfsondes waaraan sy in Julie begin werk.
PASELLA Sê DANKIE AAN:
Denise Newman en familie
Jaunita Swanepoel
Johann Nel
Cape Sidecar Adventures
Tel:021 434 9855
E-pos: info@sidecars.co.za
Webblad: www.sidecars.co.za