TUIS
4de Laan se ritme

As jy nie weet waar Parkhurst is nie, gaan jy ná vanaand beslis die pad soek! Rofweg, is dit tussen Rosebank en Linden en dié laan is wat vibe betref, nes 7de laan. Cindy begin heel op die punt by Nice – ʼn alles-behalwe vaak, ontbyt, koek, boek én middagkos-plek.

Dit was vir lank eienaar Carla Edgar se droom om ʼn ‘slaperige’ koffie- en boekwinkel oop te maak. In Augustus 2006 het sy nie ʼn koffiewinkel nie, maar suksesvolle restaurant oopgemaak. Tien maande later het die winkel langsaan beskikbaar geraak en sy het dit gekoop en haar droomboekwinkel gebou. By Nice eet en kuier jy terwyl Terry Renaud’s Pickwicks Books jou ook nog geleentheid gee om uitsoekboeke te koop terwyl jy aan dieselfde kos en koffie smul as gaste langsaan.

Sjef George Mushwana en Carla het 25 jaar gelede ontmoet toe Carla ʼn kelner was. Hulle vriendskap het deur die jare gehou en vandag is hy verantwoordelik vir die wonderkos wat jy by Nice eet. Hy wys vir Cindy hoe om hul gewilde eiermandjie te maak. Die interessante deel is die posjering van die eiers. Dit word in ʼn pan kookwater gebreek waarby ongeveer 1 eetlepel witasyn per 2 liter water gegooi is en neem so drie minute vir ʼn mediumgaar eier voordat dit met ʼn gaatjieslepel uitgeskep word. Dit kom in die eierbroodhouertjies, met spek bo-op en dan ʼn tamatiemengsel. Laastens word dit afgerond met ʼn bietjie gerasperde parmesaankaas.

Langsaan by die boekwinkeltjie, het Cindy vir Ruda Landman raakgeloop wat glo gereeld hier koffie en boeke soek.

Ruda is deesdae vrywillig vryskutjoernalis en sê sy doen eintlik enigiets interessants wat haar hand vind om te doen.

Hulle het aangestap en gaan sit vir ʼn lekker koppie koffie by die gewilde Espresso Café & Bistro. Die straat, vanwaar die eetplekkies begin tot waar dit eindig is net 1 km lank met sowat 11 eet-, kuier- en drinkplekke.

Cindy het vir Ruda gegroet en ingewals by die Treasure Trove. Dié een is beslis propvol outydse en antieke goed wat jou laat voel die romantiek het nog plek op aarde. Moet liewer nie jou ma hier loslaat nie! In Sugardaddy het Cindy mode-ontwerper Marí du Plessis raakgeloop. Haar ateljee, Mirí Couture, is net ʼn paar strate boontoe. Sy is gek oor die goedjies en bybehore wat in dié winkeltjie te koop is.

Vir middagete was die keuse moeilik en sy het gestop vir ʼn vinnige proesel by Full Stop Cafe. Hul Al Capone-pizza sou glo einste Italiaanse gangster sy streke soos ʼn warm patat laat los! Hierna is sy na Cilantro waar sjef Lesley Phetlhe vir haar ʼn gunstelingdis voorberei. Dit is niks anders nie as ʼn ryk, geurige mosseldis.

Cilantro is Spaans vir koljander. Dié krui word goed gebruik in veral Oosterse disse. Dit is inheems aan Suid-Europa en die Middellandse streek en is reeds in antieke Egipte gekweek vir medisinale en kulinêre behoeftes.

By Mad About House het Cindy ʼn klas in sementkuns bespreek. Dis ʼn dekor- en ontwerpplek met ʼn eklektiese versameling quilts, naaldwerk, porselein en ander stukke. Dis hier waar Elrie van Eck sementkunsklasse aanbied en jy haar kuns kan koop. Sy wys vir Cindy hoe om ʼn sementhandsak te maak.

Intussen het die tyd aangestap en was dit sowaar tyd vir aandete. Eerste is sy genooi na die Bottega Cafe wat Klein Werkswinkel in Italiaans beteken. Dit is die droom van Saverio Cardillo wat in 2006 waar geword het. Hy is al sedert hy 19 jaar oud is, in die kulinêre wêreld bedrywig. Hulle het vir haar ʼn eenddis en La nonna voorberei. Volgens Saverio het sy ouma La Nonna gemaak – dit is ʼn pastadis waaraan jy sal moet gaan proe.

Die son het die groot stad gegroet en is blykbaar die enigste een wat gaan slaap het. Vierde laan was nog vol lewe en Cindy wou nie bes gee voordat sy nie by die gesellige George’s on 4th aangedoen het nie. Daar het sy een van hul gunstelingdisse, ʼn beesfilet gekry.

Guy Donald was aan die kok en hy sê sy passie is ʼn klein restaurantjie presies soos hierdie. Hy bederf Cindy behoorlik met dié een.

Gaan loop hom plat, die 4de laan in Parkhurst. En, pak maar die beursie in en los die maag leeg, want daar is soveel dat jy uiteindelik nie weet wat om te kies nie!

Kliek hier vir die resepte.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Nice Restaurant
Carla edgar
Tel: 011 447 7287

Ruda Landman

Treasure Trove
Tel: 011 788 6914
E-pos: ttrove@netactive.co.za

Sugar Daddy
Dean Botes
Tel: 011 447 9080

African Toyshop
Tel: 011 442 2643
E-pos: kathy@theafricantoyshop.co.za
webblad: http://theafricantoyshop.prosort.co.za/

Fullstop
Craig O'Reilly
Tel: 011 880 4649

Cilantro
Jeff Miller
Tel: 011 327 4558
E-pos: jeffmiller@icon.co.za

Marí du Plessis
Mirí Couteur ontwerper
Sel: 082 901 0658

Geroge's on 4th
Guy Donald
Tel: 011 447 7705

Espresso Cafe and Bistro
Tel: 011 447 8700
E-pos: espresso_park@yahoo.com

Mad About House
Marge Dennis
Tel: 011 880 3087
E-pos: madabouthouse@iburst.co.za
Webblad: www.madabouthouse.co.za

Elrie van Eck
Tel: 011 782 9947
Sel: 083 417 3434
E-pos: elscraft@ebucksmail.com





Kliek hier om ons kookboek te bestel