TUIS
Notties trek Paul nader

Knus en prentjiemooi in die hart van KwaZulu-Natal, bring die middellande ʼn sug van kalmte en bepaal Nottingham Road sy eie pas. Om spreekwoordelik met die mooi in die huis te val, is Paul genooi om saam met Airborne Adventures op ʼn vroeë oggend lugballonvaart te gaan. Clarence Botha is saam op dié hemelse vlug oor die area. Hy is ʼn geskiedenisonderwyser en vertel dat die laslappietoneel tipies aan die Middellande is. Vanweë die basaltlae in die berge, is hier oral stroompies en water en dus is dit uitstekende landbougrond.

Reeds minstens 250 000 jaar gelede het die Steentydperkmens en daarna die San hier geleef. In 1837 het die trekboere gekom, maar daar was steeds geen formele dorpie nie totdat die Britte Natal in 1843 geannekseer het. Vir dié geskiedenis is Paul saam met Robin Boltman na Fort Nottingham sowat 15km suidwes van Nottingham Road.

Binne-in is allerlei artefakte vanuit die Steentydperk en San-mense se leefgeskiedenis. Hier is ook die enigste botteltjie botterkleursel in die wêreld wat onoopgemaak is.

Dié museum is dus in 1856 opgerig om ses soldate te huisves wat wild- en veediefstal moes bekamp. Terselfdertyd is ʼn dorpie uitgelê.

Nog iets wat ʼn besoek werd is, is die Fort Nottingham Reservaat, maar Paul-hulle was oppad na nog ʼn deel van die museum, die Dorpsaal wat in die laat 1800’s opgerig is. Dit is ingespan vir boere-vergaderings en is soms ook as kerk gebruik.

Hy het darem ook gaan probeer om ʼn forel of wat uit die water te trek. Daarvoor is hy terug pad toe om met vlieghengelkenner Jon Vynne te gesels. Hy het ʼn winkeltjie in Nottingham Road waar hengelaars graag aandoen.

Volgens Jon kom hier hoofsaaklik bruin forel in die riviere voor, terwyl daar meer suid by Underberg reënboogforel is. Ongelukkig vir Paul het niks behalwe ʼn pragtige stuk gras gevang nie. Hy het dus besluit om sy pyn met ʼn bier te stil.

Daarvoor is hy na die Nottingham Road Brouery so 2 km buite die dorp. Dit is ʼn mikrobrouery wat sowat 12 000 liter bier ʼn maand brou. Volgens hulle, lê hul sukses in suiwer fonteinwater, topklas mout en hops en die geselligheid rondom hul bier. Dit kry geen chemikalieë of preserveermiddels in nie en hou dus so ses weke nadat dit gebotteleer is.

Die bier is by eetplekke en kroeë in die area en is verkrygbaar by uitgesoekte drankwinkels in Gauteng en KwaZulu Natal.

Hierna is hy na een van Nottingham Road se bekendste inwoners, ʼn tradisionele heler en direkteur van die Fordoun Spa, Elliot Ndlovu.

Sy kruietuin bevat meer as 120 spesies kruie en plante – medisyne vir bykans elke skeet en kwaal. Nou iets oor die dorpsgeskiedenis –Paul is na die Nottingham Road stasie om Annesta Vermeulen te ontmoet. Die stasie sou glo eers by Fort Nottingham wees, maar die boere het gekla omdat die treinspoor dan oor hul plase sou loop. Dit is in 1884 as Karkloof stasie voltooi waarna die dorpie ontwikkel het. Sy neem hom ook na die oudste kerk in die pad. Dit is in 1885 gebou op grond van ene mnr. John King wat graag die kerk wou laat oprig op voorwaarde dat dit alle denominasies moes dien. Daar is ook ʼn gedenknaald vir mans wat gedood is in die eerste wêreldoorlog. Hier is ook ʼn klomp grafte van vrouens en kinders wat volgens haar daarop dui dat hulle ver van dokters en mediese hulp was.

G’n mens kan in Nottingham Road rondhang en nie ʼn draai by die Nottingham Hotel maak nie. Met dié dat die treinspoor gelê is, is ʼn klein hotelletjie genaamd The Railway hotel in 1891 opgerig. Dit is net voor die tweede Anglo-Boere-oorlog erg beskadig in ʼn brand, maar is daarna herstel. Paul en Annesta het intussen vir Frans Prins raakgekuier. Hy vertel dat die hotel ʼn bordeel was in die Anglo-boere-oorlog. Daar was ʼn bekende prostituut wat verlief was op ʼn soldaat wat dood is. Sy het haarself doodgetreur en toe van kamer 10 se venster na haar dood gespring. Nou spook Charlotte glo al te lekker in dié kamer. Soos dit is, is Paul toe ook einste kamer vir die nag toegeken...

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Gowrie Farm Golf Estate
Tel: 033 266 6294
E-pos: gowriegolfclub@telkomsa.net
Webblad: www.gowriefarm.co.za

Airborne Adventures Africa
Sel: 084 504 2171
E-pos: balloonzn@gmail.com
webblad: www.airborneadventuresafrica.com

Flyfishing & Birding Shop
Tel: 033 266 6980
E-pos: flyfishing@bundunet.com
Webblad: www.fly-fishing.co.za

Nottinghamroad Brewery
Tel: 033 266 6728
E-pos: brewery@rawdons.co.za
Webblad: www.rawdons.co.za

Fordoun Spa
Tel: 033 266 6217
E-pos: info@fordoun.com
Webblad: www.fordoun.co.za

Nottingham Road Hotel
Tel: 033 266 6151
E-pos: nottieshotel@icon.co.za
Webblad: www.nottieshotel.co.za

Clarence Botha
Sel: 072 215 9425

Robin Boltman
Sel: 083 447 7770

Annesta Vermeulen
Sel: 083 270 0236

Frans Prins
Sel: 083 473 9657

Anne Robinson as Charlotte





Kliek hier om ons kookboek te bestel