TUIS
Minki en MotoX

Die sport MotoX het sy oorsprong in Brittanje waar die eerste resies in 1924 plaasgevind het. Die naam is ʼn samevoeging van 'motorcycle' en 'cross country' en dit behels in breë trekke ʼn grondbaan vol hindernisse wat jy met ʼn veldfiets aanpak. By so ʼn baan in Melkbosstrand het Minki eers met Nigel Everts gesels. Hy ry al vandat hy 8 is en het gereed gestaan met ʼn veld- en padfiets om vir Minki te wys.

Volgens hom verskil die twee soorte fietse heelwat. Van hul handvatsels regdeur tot onder by die bande is daar allerlei verskille. Nigel ken die fietse soos die palm van sy hand omdat hy ook daarvan hou om aan hulle te werk.

Springbokryer Louis Lazarus het ook aangekom. Hy is tans in matriek en MotoX al 8 jaar. Hy verduidelik dat daar ʼn senior en junior afdeling in die sport is. Die juniors begin by 50 cc, dan 65 en 85. Die seniors ry met 85 en gaan dan op na 125 en 250 cc’s. Die bane is volgens hom in die omgewing van 1, 8 km lank en oppervlaktes verskil na gelang van waar dit is. Natuurlik sand by die kus en harder oppervlaktes in die binneland.

Hy verduidelik ook die verskillende soorte hindernisse waarvan daar ʼn hele paar is! Een daarvan is die ‘whoops’. Dit is spoedhobbels wat sowat 1 meter uit mekaar in rye gemaak word. Daar volg maklik sewe op mekaar en Louis meen dit is die moeilikste omdat jy jou balans die hele tyd moet hou en so vinnig moontlik reguit daaroor moet beweeg. Maar, Minki moes darem ook self probeer. Lourens van Rensburg wat tans oefen om die Dakar te doen, is haar gewillige afrigter.

Hy sorg dat sy veiligheidsklere aanhet en verduidelik dan min of meer hoe die fiets werk. Louis sê sy behoort eintlik heeltyd te staan om reg te wees vir wat kom en dat sy moet beweeg om haar balans reg te hou. Wel, miskien was dit ʼn bietjie té tegnies vir ʼn beginner en Minki het rustig haar pad gevind om die baan.

Daar is sowat 7 streeks- en ook 7 nasionale kompetisies per jaar. Op wêreldvlak het jy 10 keer kans om punte op te bou om jou posisie op die ranglys te bepaal – dus presies soos by Formule 1. Behalwe dat jy vir sowat 22 minute aanmekaar moet fokus en konsentreer, is die sport ook fisiek geweldig inspannend (en uitputtend).

Volgens Louis gebruik die sport bykans elke spier in jou liggaam en moet jy besonder fiks wees om dit te beoefen. Hulle ry fiets vir fiksheid – 90 km per dag – en oefen ook repetisies in die gimnasium.

Kyk uit in die media vir die Suid-Afrikaanse (SA) rondte van die Wêreld Grand Prix kampioenskap wat in Julie in Nelspruit, Mpumalanga gebeur. Miskien ʼn lekker opwindende uitstappie vir die hele gesin!

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Melkbos MotoX Klub
Peter Haupt
Sel: 083 226 6915

Lourens van Rensburg
Sel: 082 440 2121
E-pos: lvr@corpdial.co.za

Nigel Everts
Sel: 072 124 3371
E-pos: npe@telkomsa.net

Louis Lazarus
Sel: 084 601 6264
E-pos: lazlo.mx@gmail.com

John Wakefield
Sel: 082 804 5164

Peter van Staden
Sel: 083 293 3895





Kliek hier om ons kookboek te bestel