TUIS
Bederf só jou ma

Die V & A Waterfront in Kaapstad se geskiedenis dateer uit 1860 toe dit net hawe was. Vandag is dit natuurlik een van dié toerismebestemmings in Suid-Afrika.

Pasella het ons gaste gestuur na die splinternuwe boetiekhotel, Dock House, om daar te oornag. Die historiese Dock House is in 1880 gebou as huis en kantoor vir die hawe-ingenieur, maar onlangs in ʼn boetiekhotel omskep is.

Met die restourasie van die huis, was die doel om dit as ou gebou te behou, sowel binne as buite. Binne is die oorspronklik deurrame, vloerlyste, krone en plafonne behou. Nuwe mure vir badkamers is met stapelmure en glas gedoen sodat daar nie verwarring is oor wat oud en nuut is nie. Dié huis is apart van die moederhotel en dus baie privaat.

Die dekorstyl is kontemporêr-klassiek wat beteken die lyne is skoon met warm, luukse items én ʼn bietjie bling tussen-in.

Die Adamse sê hulle vier Moedersdag gewoonlik saam. Hulle is drie broers en ʼn dogter en die laaste paar jaar is daar ook skoondogters en kleinkinders. Dis ʼn hele gedoente met ma Anne wat sentraal in die woelery staan.

Paul noem ook ewe trots dat sy dogtertjie van 15 maande in September ʼn splinternuwe bababoetie kry!

Vir die Van der Westhuizens is Minki se nuwe getroude status ʼn nuutjie en dis hul eerste Moedersdag so. Toe die kinders klein was, sê Carien, moes hulle saam met pa vir haar ontbyt in die bed bring. Later het familie en ouma’s bygekom en vandag is dit ook ʼn lekker saamtrek vir almal.

Paul Adams is natuurlik nie onbekend nie en word ook Gogga genoem. Hy het reeds op 18 jarige ouderdom as kulbalbouler vir die Proteas uitgedraf en het onlangs vir die Westelike Provinsie gespeel.

Onse Minki is onlangs getroud en sy en haar ma het ʼn baie hegte band. Albei moeders is tans huisvrouens en sakevrouens en het ʼn groot deel van hul lewe daaraan gewy om by hul kinders te wees. Paul se pa was heelwat weg van die huis af en hy sê sy ma was maar die een wat dissipline moes handhaaf. Minki weer het groot dankbaarheid teenoor haar ma vir die manier waarop sy haar die ‘lewe leer ken het’.

Natuurlik het Pasella ook gereël dat hulle ʼn heerlik middagete nuttig. In die kombuis was Antoinette Edson aan die werk. Sy kook al 9 jaar en sê dis maar wat sy van kleins af doen. Sy het gerookte forel en omelette-nori-rolletjies gemaak vir voorgereg.

Samantha Linden was verantwoordelik vir die hoofgereg en het gebraaide volstruismedaljes, pampoenkoekies en beet-relish bedien.

Die nagereg was ryk en soet swartbessiebruintjies met mokka-ganache afgerond.

Die kos was duidelik onder beheer en Charlene het aanbeweeg tafel toe. Aan die dekorstuur was Pasella vriend en interieur-ontwerper Francois du Plessis. Hy was ook verantwoordelik vir die binneontwerp van die Dock House.

Hy het die tafel met oud en nuut versier om by die hotel se aanslag te pas. Sy verrassing vir die ma’s was om persentjies onder in ʼn blombak te versteek. Bo-op is ʼn ruikertjie gesit sodat hulle geen onraad vermoed het nie.

Terwyl hulle aansit vir ete, hier’s iets oor die geskiedenis van moedersdag. Daar is ʼn paar verskillende verduidelikings oor waar dit vandaan kom. Een is dat daar in Antieke Griekeland ʼn fees vir Cybele gehou is – sy was die moeder van Griekse gode en dit is gewoonlik van 15 tot 18 Maart gevier. Ons volg natuurlik meer die Engelse en Amerikaners na wat elke tweede Sondag in Mei aan moeders opdra. In Amerika het die dag sy ontstaan gehad nadat ʼn vrou in die Burgeroorlogtyd van die laat 1800’s probeer het om vroue teen oorlog te verenig. Die idee is later effens gewysig deur nog ʼn vrou wat vroue byeen gekry het om beter sanitasie te bewerkstellig. Uiteindelik het ene Anna Jarvis in die vroeë 1900’s dit reggekry om ʼn dag tot Moedersdag te verhef.

Kliek hier vir resepte.

PASELLA Sê DANKIE AAN:

Dock House Hotel
Tel: 021 419 6677
E-pos: info@dockhouse.co.za
Webblad:www.dockhouse.co.za

OneWellness Spa
Tel: 021 681 6666
E-pos: info@onewellness.co.za
Webblad: www.onewellness.co.za

Francois du Plessis

Minki Visser en familie

Paul Adams en familie





Kliek hier om ons kookboek te bestel